EASYEQUITIES SKRYWERSFEESFEES
Wenner van die 2025-kortverhaalkompetisie bekend
Produksie: Woordfees-kortverhaalkompetisie
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Verskaf
Tarina Jordaan se verhaal “Splitsing” is aangewys as wenner van die hoofprys van R30 000 in die Woordfees se jaarlikse kortverhaalkompetisie wat vanjaar ’n tiende keer gehou is.
Met Herschelle Benjamin as gasheer in die Hofmeyrsaal wat stampvol was van skrywers en literatuurliefhebbers is Tarina Jordaan Saterdagaand uit 371 inskrywings aangewys as wenner van die Woordfees se tiende jaarlikse kortverhaalkompetisie.
Die passievolle Suzette Myburgh, sameroeper van die keurderspaneel sedert die instelling van die kompetisie in 2016, het die gehoor meer vertel oor die keuringsproses vir dié bundel wat die afgelope dekade ’n literêre instelling geword het en dien as ’n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees weerspieël.
Jordaan het skertsend vertel sy het eers nege dae voor die sluitingsdatum begin skryf aan haar wenverhaal en kon nie uitgepraat raak oor die oneindigende ondersteuning van haar eggenoot én haar ma nie. Haar man het al telkens tot haar redding gekom, onder meer toe sy ’n pot grondboontjies op die stoof vergeet en amper die huis afgebrand het, terwyl haar ma alles geproeflees het wat sy nog ooit geskryf het. “Daai arme vrou moes al deur baie stories wroeg!”
Soos die protagonis was ek ook bekommerd wanneer ek die nuus volg, maar het hoopvol gebly dat ek steeds welkom sou wees in die buiteland.
Volgens Jordaan het die protagonis, Max, haar reeds ’n paar maande voor die sluitingsdatum aangemeld, “maar sy het net daar gesit en wou nie haar verhaal vir my vertel nie”.
“Toe het ek maar musiek begin luister wat ek gedink het haar die vibe gee wat ek op papier wou sit. Dit was die lirieke van Loreena McKennitt wat my laat besef het hierdie is die verhaal!”
Haar ervarings as immigrant in Antwerpen was die groot onderliggende inspirasie. “Soos die protagonis was ek ook bekommerd wanneer ek die nuus volg, maar het hoopvol gebly dat ek steeds welkom sou wees in die buiteland.”
Jordaan is oorstelp oor die prys en wil vir haar ’n nuwe skootrekenaar koop waarop sy hopelik nog vele wonderlike kortverhale sal skryf.
- Vanjaar se bundel en vorige jare s’n is te koop by Exclusive Books in Die Khaya.
11 OKT. | 19:00