SPIER TONEEL
Wessel… kunstenaar met ’n sak vol talente
Deur: Diane de Beer
Toe Wessel Pretorius 14 jaar gelede op die toneel verskyn, het ’n mens geweet hier is ’n kunstenaar wat jou teaterlewe gaan verryk, sê Diane de Beer. Sy gesels met dié formidabele kunstenaar oor sy werk by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.
Wessel Pretorius is akteur, skrywer én regisseur. Toe hy rondom 2011 tot die bedryf toetree, het hy met die intrapslag opslae gemaak met sy verhoogstuk Ont-. Dit was nie net die teks wat ’n mens laat stilstaan het nie, maar ook die uitvoering daarvan. Destyds het ek gedink – en ook met hom daaroor gesels: “En nou, vorentoe?” Die opwinding was juis dat ’n mens geweet het hier is ’n kunstenaar wat jou teaterlewe gaan verryk.
Dit was inderdaad die geval. Vir vanjaar se Woordfees is Ont- weer op die planke, maar Wessel is ook betrokke by twee van my gunstelingproduksies wat ek reeds op vorige feeste raakgeloop het: ‘KUNS’ en Die een wat bly. Ons wou meer weet.
‘KUNS’
“ ‘KUNS’ is een van daardie unicorn-geleenthede waarna die meeste akteurs smag,” sê Wessel. “ ’n Heerlike, intelligente en hoogs speelbare teks onder leiding van ’n meesterlike regisseur, Marthinus Basson.”
Dan deel hy boonop die verhoog met twee van sy goeie vriende, verduidelik hy, mense wat hy al baie jare ken, wat beteken daar is uit die staanspoor ’n soort gemak en verstandhouding wat nuwe kollegas eers ná ’n lang proses ontwikkel.
“Omdat Yasmina Reza se fyn teks so volledig afgewerk is – met Naomi Morgan se fantastiese vertaling van die oorspronklike Franse teks – kon ons dadelik wegspring met ’n relatiewe tradisionele proses. Teksontleding, om die tafel sit en lees en lees en lees – om te luister na infleksie en klem wat betekenis kan verander of verbeter – en dan uiteindelik op die vloer waar Marthinus dit soos ’n skaakspel orkestreer.”
Die gewilde teks is reeds in 1994 gepubliseer, maar vir Wessel het dit vandag nog trefkrag. “Enige teks wat menseverhoudings probeer verstaan, sal tydloos bly. Marc, Serge en Yvan is drie volwaardige karakters, maar ook verteenwoordigers van verskillende ego’s in die samelewing. Elkeen het sy eie filosofie, voorbehoude en angs wat inskakel by groter vrae waarmee enige volwasse gehoorlid te doen het.”
“KUNS” is een van daardie unicorn-geleenthede waarna die meeste akteurs smag, ’n heerlike, intelligente en hoogs speelbare teks onder leiding van ’n meesterlike regisseur, Marthinus Basson.
Hy is bitterlik opgewonde om die stuk weer te doen. “Maar dit bly ’n uitdaging, omdat die doeltreffendheid daarvan op ’n mespunt balanseer. Die dans met die gehoor vloei die lekkerste wanneer hulle glo hierdie drie mans is regtig vriende en hulle hulle gevolglik daarop kan projekteer… en dan die gevaar van vernietiging aanvoel. Dit is die beste soort uitdaging waarvoor ’n speler kan hoop.”
Op ’n vraag oor die tema van die stuk antwoord hy: “ ’But is it art?’ is een van daardie plofbare vrae wat eindelose debat kan ontlok tussen kunstenaars en kunsliefhebbers. Yasmina gebruik dit as ’n stootskraper om die boublokke van ’n vriendskap op te grawe en bloot te lê. Aan die een kant kan jy jou dus verlekker aan die pretensies en argumente van die karakters (wat natuurlik hemels is om te speel), maar aan die ander kant vat Yasmina die tentatiewe bande tussen vriende só raak dat jy jou skaam vir hoe baie jy met die karakters kan identifiseer.”
Hy het reeds as student met die teks kennis gemaak en gespeel, en toe weer so tien jaar gelede, sê Wessel. “Met elke proses voel ek hoe die teks meer met my eie lewe resoneer. Die alewige soektog na definisies van kuns tersyde; ek sien hoe my angs oor verandering in verhoudings, my rol in mense se lewe en my ego plek-plek raakpunte het met Marc [sy karakter] s’n.”
‘Die een wat bly’
Met Die een wat bly is Wessel se aandeel iets heel anders: Hy is gevra om met die teks te help, maar ook om die regie te behartig.
“Ek en Figure of 8 het plek-plek al probeer saamwerk, maar al die elemente het vir die eerste keer saamgespeel toe Marie (Vogts, vervaardiger), Shaun (Oelf, Figure of 8 Dance Theatre) en Grant (Van Ster, Figure of 8 Dance Theatre) my genader het om hierdie teks oor seuns en moeders te ontwikkel. Ek is ’n groot aanhanger – hoewel nie ’n kenner nie – van dans en van Figure of 8 se werk, en daarom was die geleentheid om saam met hulle ’n storie te skep wat my ook na aan die hart lê, ’n geskenk.
“Die impetus en idee het gekom van Figure of 8. Ná vele gesprekke het ons besluit op die temas en raakpunte waarop ons wou fokus. Ek het verskeie onderhoude met die groep gedoen en hulle het persoonlike herinneringe en ander gedagtes met my gedeel. Daarna het ek eenkant gaan sit en die teks geskryf – en verder in repetisies gevorm en geslyp rondom die spelers se behoeftes.
“Grant en Shaun is albei begaafde dansers, choreograwe en teatermakers in eie reg, en daarom was dit heerlik om beelde saam met hulle te skep – geen versoek is met teenstand begroet nie. Ons was almal nuuskierig en entoesiasties om te sien hoe ’n mens met dans en beweging ’n semi-tradisionele teks kan uitbeeld. Later het Natalie Fisher haar by ons aangesluit om as ’n buite-oog vir die dansers te dien, en haar kennis oor en aanvoeling vir enige fisieke taal was onvervangbaar.”
Hy verduidelik binne die dansmilieu is dit ’n stuk wat raak aan verlies, aan seksualiteit, aan enkelouerskap en aan verhoudings. “Maar uiteindelik wou ons ’n goue koord van liefde span tussen ma’s en hulle seuns.”
Oor sy rol as regisseur begin dinge vir hom in plek val. “Ek dink ek is stadig maar seker besig om my stem as regisseur of teatermaker te identifiseer en slyp. Dus het hierdie geleentheid op die regte tyd gekom. Om saam met ander dissiplines te skilder het my kreatiwiteit op nuwe maniere ontsluit. Elke keer as ek buite my gemaksone tree en iets aanpak wat ’n klein bietjie vreesaanjaend is, voel ek vryer en meer bemagtig.”
‘ONT-’
Met Ont- by die fees keer Wessel terug na sy eie begin. “Ek het jare terug met die stuk gedebuteer by die Woordfees, en daarom is dit baie spesiaal om die stuk weer hier te doen – dié slag met die begaafde Wian Taljaard op die verhoog.”
Wessel sê hy toer vanjaar nog een maal met Faustus in Africa! na Genève en Londen, en daarna gaan hy nie op sy louere rus nie. “Ek hoop om volgende jaar nog geleentheid te kry om nuwe werk vir die verhoog te ontwikkel.”
*****
Wessel by vanjaar se Woordfees
Spier Toneelfees
16 OKT 20:00 | 18 OKT 09:30 | 19 OKT 16:30
75 min | Spier-ouditorium
R220 | R250 by die deur
Geen o.13 (T)
13 OKT 13:00 | 14 OKT 20:30 | 16 OKT 17:00 | 17 OKT 09:30 | 18 OKT 13:30 | 19 OKT 14:30
90 min | Adam Small-ouditorium
R180-R300 | R210-R330 by die deur
Geen o.16 (S)
15 OKT 12:00 | 16 OKT 13:00 18 OKT 16:00 | 19 OKT 13:00
75 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R220 | R250 by die deur Geen o.13 (T)
Filmfees
Skrywer Wessel Pretorius
12 OKT 19:00 | 15 OKT 18:30
99 min | Neelsie Cinema
R60 | R70 by die deur | 16 (T, S, G)