TOYOTA MUSIEKFEES
Dié Soutie van Stellenbosch
Produksie: Doktor Soutie: Live in Concert
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld
Soos die meeste ander mense raak Duné van Jaarsveld effe benoud as sy ’n doedelsak op die verhoog gewaar, maar toe blaas ’n doktor in fisika, Philip Southey, ook bekend as Doktor Soutie, haar daarmee weg.
Die konsert word in die feesgids beskryf as “’n kaleidoskopiese reis deur Keltiese treurliedere, jazz-klavier, 80’s-synthpop, 90’s-rock, Afrika-ritmes en Spaanse kitaar wat klavier, elektriese kitaar, Ierse fluit, ’n sintetiseerder, djembe en ’n doedelsak kombineer”. Dit is ’n mondvol en die kombinasie van instrumente en genres klink amper te mal om te begryp. Dit was dus werklik verstommend om te beleef hoe Phillip Southey alles naatloos bymekaar bring.
Alle klanke word op die verhoog geskep, niks is vooraf opgeneem nie. Phillip gebruik ’n looping-stelsel om sy komposisies intyds saam te sit.
So snaaks soos wat hy slim en musikaal is, hou Phillip – dié Soutie van Stellenbosch – sy gehoor vasgenael met sy unieke benadering tot musiek. Al sewe instrumente wat hy opgetel het, speel hy besonder goed. En omtrent elke grap wat hy maak, laat ’n mens uit die maag uit lag. As selfs die gryskop-omies in hulle stoele hop en saam met die jonges giggel, doen die kunstenaar baie dinge reg.
Phillip is so Engels as kan kom, maar hy het ’n groot deel van die konsert in Afrikaans aangebied en selfs ’n goeie stuk in isiXhosa ook. Jy kan die Doktor uit die klaskamer neem, maar dit beteken nie jy gaan ’n fisika-les vryspring nie. Die gehoor het ’n vinnige klas oor klankgolwe en insekte ontvang. Phillip leer ons almal om behalwe jou brood-en-botterwerk genoeg tyd in te ruim vir jou eksentrieke musikale belangstellings.
Dit was ’n eenmalige uitvoering op 9 Oktober in die Paul Roos-teater.




