EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
’n Broodnodige stukkie geskiedenis
Produksie: Die geskiedenis van braaibroodjies
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Zandri van Greunen
Frans de Villiers het in ’n gesprek oor sy boek Die geskiedenis van braaibroodjies verduidelik dié geliefde Suid-Afrikaanse braaibykos het ’n geskiedenis wat ver nagespeur kan word.
Wie sou kon raai dat ’n boek oor braaibroodjies kop aan kop sou wees met Etienne van Heerden vir die meeste boekverkope by vanjaar se Woordfees? Ek is nie seker wat dit oor Afrikaanse leeskultuur sê nie, maar die een of ander sosioloog sal dit dalk eendag as ’n historiese keerpunt beskryf. Bibi Slippers het gepraat van ’n “wegholsukses” – iets waarvan die stampvol Skrywerskamer getuig het.
As ’n mens sien hoe die spul op Kom ons braai dikwels braaibroodjies kan verfomfaai, voel Frans se deeglike navorsing soos die strelende reuk van ’n braaivleisvuur op ’n Saterdagmiddag in die voorstede. Terwyl die res van Suid-Afrika tydens die grendeltyd pynappelbier gestook, brood gebak en sigarette op Facebook Marketplace gesmokkel het, het een brandende vraag by Frans bly spook: Waar kom een van Suid-Afrika se mees geliefde kultuurobjekte – die braaibroodjie – vandaan? (Nee, nie toiletpapier soos dit toe gelyk het nie!)
Hoewel min dinge Suid-Afrikaners so kan laat redekawel soos die bestanddele van die perfekte braaibroodjie, het Frans vertel hy het begin met navorsing van sowat 90 000 woorde oor die onderwerp. “Die sisteem was eenvoudig: Leer alles wat jy kan oor tamaties, uie, kaas, vuur en braai en hoop dat wanneer jy al hierdie goeters verstaan, daar iewers ’n kreatiewe konneksie êrens sal wees,” het hy gesê.
…onder meer oor die ‘braaivleisfeeste’ wat die Voortrekkers langs die pad gehou het en wat daartoe gelei het dat braai beskryf word as ‘Die Afrikander-daad wat soos donder slaan’ op die voorblad van Die Burger.
’n Mens kan mos nie ’n braaibroodjie hê sonder die braaivleisvuur nie. Frans het vertel hoe hy verskeie bronne gebruik het om die konneksie tussen die twee na te speur. Dit behels berigte in Die Burger, Huisgenoot en Jan van Riebeeck se dagregister waar hy gelees het dat die eerste optekening van braai die KhoeKhoe-stam was wat bitteramandels gebraai het. Dit was nie speletjies nie – hulle het voorbereidingsprosesse gehad het om te verseker dat dié outjie propvol sianied hulle nie doodmaak nie.
Die gehoor was die ene ore terwyl Frans uit die oranje braaibroodjieboek voorgelees het, onder meer oor die “braaivleisfeeste” wat die Voortrekkers langs die pad gehou het en wat daartoe gelei het dat braai beskryf word as “Die Afrikander-daad wat soos donder slaan” op die voorblad van Die Burger.
Hy het verder vertel hoe hy deur allerlei resepteboeke en huishoudelike gidse geblaai het op soek na die braaibroodjie en dat hy ná hierdie eskapade moontlik “’n preek oor sosaties” kan aanbied.
Daarna het hy die bestanddele van sy navorsing voor die gehoor voorgelê en opgestapel soos die bestanddele van jou oom of tannie se ghrêndste braaibroodjie.
“Ek het gesukkel met een baie moeilike vraag. Hoe het die braai gegaan van iets feesteliks na iets by die huis?” Toe ontdek hy in ’n tydskrif dat Pierneef ’n “braaipionier” was en een van die mense wat die heel eerste keer in sy eie agterplaas gebraai het.
Op dié oomblik kom staan Frans met sy een hand in sy sak en bekyk die gehoor terwyl hy sê: “Daar was nie ’n eureka-oomblik vir die braaibroodjie nie. Daar is vyf onafhanklike goeters wat gebeur het op dieselfde tyd wat in my opinie die braaibroodjie onvermydelik gemaak het.”
Daarna het hy die bestanddele van sy navorsing voor die gehoor voorgelê en opgestapel soos die bestanddele van jou oom of tannie se ghrêndste braaibroodjie. Dit behels roosterbrood, pieknieks, die “spelerigheid wat deel is van die DNA van toebroodjies”, Amerikaanse toasted cheese sandwiches, kunstige vuurhoutjieboksies en dies meer. Die tamatieskywe is té dik om als hier te noem, maar dis hoekom jy maar self Frans se boek moet aanskaf.
Hy trek toe sy trui van swart skaapwol aan en sê hy is die swartskaap van Suid-Afrikaanse geskiedenisskrywers omdat hy nie oor die Boereoorlog skryf nie, maar homself met braaibroodjies doenig hou.
Wat vir my uitgestaan het, is hoe toegewyd Frans aan sy braaibroodjiereis was. Die man het stoksielalleen in die Donker Gat van die Kasteel – jy sal my nie eens kan betaal om dit bedags te doen nie – gaan oornag omdat hy kersietamaties uit die Kompanjiestuin gegaps het. Dit was blykbaar een van die strawwe vir hierdie daad daai tyd. ’n Vrou langs my verstik amper toe sy dit hoor en vra of hy darem ’n kombersie van ’n soort gehad het. Waarop Frans geantwoord het hy het ’n kampbedjie saamgevat, want, soos sy ma sê: “’n Mens moet darem beskaafd wees. Jy vat daai tafeldoek saam wanneer jy gaan kamp.”
Frans vertel hoe hy uiteindelik gesmul het aan sy perfekte braaibroodjie saam met ’n sappige kliprib. Hy het toe ondeund geglimlag en gesê hy hoop die gehoor het wyn, want “nou gaan dinge begin weird raak”. Al die snaaksighede wat hy teëgekom het op soek na die eienskappe van ’n propperse braaibroodjie is toe aan die gehoor gewys. Baie hiervan is ook te vinde op Frans se Instagram-blad @geskiedenis_van_braaibroodjies.
Hy trek toe sy trui van swart skaapwol aan en sê hy is die swartskaap van Suid-Afrikaanse geskiedenisskrywers omdat hy nie oor die Boereoorlog skryf nie, maar homself met braaibroodjies doenig hou. “Ek wou met die boek mense oor hulle eie Afrikanerwees laat besin en geskiedenis meer toeganklik maak,” het Frans gesê.
Die gesprek het op 9 Oktober in die Easy Equities Skrywerskamer plaasgevind.




