EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
‘Boei’: Die kritiese stem is oral in gedrang
Onderhoud: Boei
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Verskaf
Jean Meiring is een van ons land se voorste boekresensente. Boei, ’n keur van sy boekresensies oor die afgelope jare, is pas gepubliseer en word op Saterdag 10 Oktober 2026 by die Toyota Stellenbosch Woordfees bekend gestel. Deborah Steinmair en Kerneels Breytenbach sluit hulle by Jean aan. Moenie ’n bekgeveg verwag nie, maar al drie huldig sterk menings oor die aard, doel en nut van resensies. Marina Griebenow het vooraf aan Jean ’n paar vrae gestel.
Wat het jou laat besluit om dié projek – die publikasie van jou boekresensies – aan te pak?
Die bundeling van die resensies is seker etlike dinge tegelyk. Dis ’n poging om skryfsels wat andersins sou verdwyn, weens die wegkwyn van papierkoerante en van toeganklike digitale argiewe (ironies!), so ’n effe langer lewe te gee. Boonop meen ek hierdie is dalk die eerste bundeling in Afrikaans van ’n boekresensent se uitset.
Boonop verskyn dit in ’n tydsgewrig waar werklik kritiese stemme deur die demokrasie van die internet (en helaas KI) verdring word. Nie dat baie stemme op die internet sleg is nie, maar dit kan nie al wees nie. En dis natuurlik nie net ’n Suid-Afrikaanse fenomeen nie: Oral oor word boekeblaaie verskraal of nek omgedraai.
Hoe gaan ’n mens te werk om die beste resensies te kies wat ook die veelsydigheid van jou werk sal weerspieël?
Die keurwerk was minder moeilik. Hierdie boek bevat die leeuedeel van my boekresensies, oor verskillende tydvakke versprei. Sommiges is wel uitgelaat. Die fyner trap het gekom met die ordening van die stukke.
Jy sou dink hulle kan net so opgeneem word. Self het ek gesê: Hulle is dan reeds geredigeer. Watwo. Duidelik is daar selfs in die klein Afrikaans soveel sinne as wat daar hoofde is wanneer dit by by die redigering van teks kom. Onder meer ook vir konsekwentheid was die pad ’n steil ene. Ook moet die teks uit die onmiddellikheid van die koerant gedwing word.
Wat is die stand van die resensiekunde tans, veral dan wat boekeresensies betref? Is daar nog ’n plek daarvoor?
Ek meen die kritiese stem is oral in gedrang. Ook in Suid-Afrika, ook in Afrikaans. En dit geld oor alle velde heen, ook of veral in die uitvoerende en beeldende kunste. Dis gewoon nie meer ‘n prioriteit nie. En dring om krities te wees nie dalk ook teen die zeitgeist in nie?
Maar dat daar ’n plek daarvoor is te midde van die soms breinlose gedreun van KI? Ja, en nogmaals ja. Laat die stem net dié van ’n mens wees, met al sy foute en onbeholpenhede.
Waar het jou liefde vir die resensiekunde ontstaan? Is daar spesifieke boekresensente vir wie jy bewonder?
Ek het as student in die buiteland begin met teaterresensies skrywe, wat ek ook al hier elke dan en wan oor die jare gedoen het. Dis op die ou end maar dieselfde woordeskat en apparatuur wat jy toepas.
Afrikaans het nogtans steeds wonderlike boekresensente. Die Media24-kykNET-Rapport-prys doen baie om hierdie sfeer lewend en lewendig te hou. Dis veral die blink nuwe stemme wat ’n mens opgewonde maak.
Hoe het jy op die titel van jou bundel besluit en waarom sou jy mense aanraai om dit aan te skaf?
Die titel het eintlik uit selfspot ontstaan. Resensente het hulle eie ideolek. Een van die woorde wat ek te veel gebruik, is dat ’n boek boeiend is. Sulke idiolektiese engheid kom juis in so ’n saamgroepering van tekste op die oppervlak. So, dis een rede. Ook, meer eenduidig of sentimenteel, is boeke boeie in die seewater. En seker ook resensies: in die woeste leessee. Boei is ’n boek wat ’n mens bietjies-bietjies kan lees. Ek hoop tog dit bevat iets durends – oor boeke en in Afrikaans.
Boei
10 OKT 14:30
EasyEquities Skrywerskamer
R50 | R80 by die deur




