SPIER TONEEL

’n Koel miljoen vir De Klerk

Produksie: The Perfect Pitch
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

Die spanning het hoog geloop toe daar Donderdagaand agt voorleggings gemaak is in die Toyota Stellenbosch Woordfees se heel eerste The Perfect Pitch. Ilza Roggeband was daar…

Op die spel: R1 miljoen in ontwikkelingsfinansiering vir jou nuwe produksie.
Op die verhoog: Agt vervaardigers wat hoop hulle gaan die groot boerpot wen.
Voor die verhoog: ’n Paneel van vier wat besluit wie die wenner gaan wees.
Ook teenwoordig: Feesgangers, lede van die media, ondersteuners van die kunste.
Die gevoel: Spanningsvolle afwagting.

Toe die Toyota Stellenbosch Woordfees vroeër vanjaar aankondig dat R1 miljoen op die spel is vir ’n nuwe produksie, het meer as 70 vervaardigers, skrywers en teatermakers hulle voorstelle in die hoed gegooi. Agt van hulle is gekies om dit vir die paneel voor te lê. Op die paneel was die Toyota Stellenbosch Woordfees se Saartjie Botha, Cornelia Faasen van NATi, die impressario Pieter Toerien en Carel Nolte van EasyEquities, borg van The Perfect Pitch.

Die agt finaliste was:

  1. Brett Bailey se Alice in Pondoland. Gesinsteater wat hy beskryf het as “Tim Burton eerder as The Lion King”. “Children’s theatre delight me and this is a story that needs to be told,” het hy gesê.
  2. Sout van Jason Jacobs met ’n monoloog uit die stuk deur Rehane Abrahams. Sout is ’n familiedrama wat in Port Nolloth afspeel en is in twee dele, wat tien jaar uitmekaar afspeel.
  3. Vastrap deur Tertius Kapp se voorlegging is deur die akteur Carel Nel gedoen. Vastrap vertel die verhaal van Suid-Afrika se geheime kernprogram by Pelindaba en het vyf karakters, onder meer ’n vrou wat onder die indruk is dat haar man wasmasjiene bou.
  4. Khomani & Euridika: Die lied onder die koperstof van Garage Dance Ensemble vermeng storievertel, sang en dans en is diep in Namakwaland gewortel. Garage Dance Ensemble is deur Byron Klassen en Miché van Wyk verteenwoordig.
  5. Whale Fall, met Neil Coppen as regisseur en Dylan McGarry, wat die voorlegging gedoen het. Hulle werk al ses jaar aan die konsep. Dit vertel die verhaal van ’n vrou wat in ’n walvis se maag oorleef het en gaan epiese digkuns, dans, kore en poppespel gebruik. “As ons eendag met walvisse kan praat, hoe gaan ons dit doen?” het Dylan gevra.
  6. Spat is ’n voorstel van Brendon Daniels en Marie Vogts en speel op die Kaapse Vlakte af voor en tydens ’n seun, sy ma se enigste kind, se 21ste verjaardag. “Daar word so maklik na die negatiewe gekyk wanneer stories oor die Flats vertel word,” het Brendon gesê. “Ons wil die mense agter hierdie figure leer ken.”
  7. Die deurnagtrein van slaapwaens was Nicola Hanekom se voorstel en speel op ’n stasie in drie tydvakke af – 1927, 2027 en 2040. Daar is sewe karakters en sy beoog om spelers soos Marlo Minnaar, Amalia Uys, Brendon Daniels en Albert Pretorius te gebruik. Anders as meeste van haar stukke sal hierdie een in ’n teater speel.
  8. Sodom & Cremora was De Klerk Oelofse se voorstel. Hy wil hê die sewe sondes moet in sewe segmente elkeen hulle eie storie kry en dat ’n simfonieorkes die begeleiding doen. “Noem dit ’n hedendaagse Pieter en die Wolf vir grootmense,” het hy verduidelik. In ’n wending wat die gehoor laat frons én lag het, het De Klerk sy klere begin uittrek en het later net in sy onderbroek gestaan met die woorde van die sewe sondes – onder meer luiheid, hebsug, hoogmoed en lus – in groot swart letters op sy lyf geskryf.

Nadat die paneel vergader het en die finaliste en gehoorlede getrakteer is op wyn en eetgoed, het die uitslag uiteindelik gekom. Saartjie het benadruk dat elkeen van die finalis-produksies verdien om vervaardig te word en dat hulle gewens het hulle het ’n miljoen rand om vir elkeen te gee.

“Ons begin elke jaar se fees met nul in die bank en dit is ’n risiko elke jaar, maar inisiatiewe soos hierdie help geweldig baie,” het sy gesê.

Die drie kortlysfinaliste was Alice in Pondoland, Die deurnagtrein van slaapwaens en Sodom & Cremora, met laasgenoemde wat met die groot prys weggestap het. Saartjie het genoem dat benewens die oorspronklikheid, die skaal van die produksie en die hoeveelheid werk wat dit gaan skep, ’n wen-wen was.

“Nou kan dit met ’n volle orkes gedoen word,” het De Klerk verheug in sy bedankingsrede gesê.

Die volgende dag laat weet hy per WhatsApp: “Sjoe, ja. Dit was vanoggend nog nie regtig ’n realiteit nie, maar ek moet sê, hier teen middagete het my kop al begin plannetjies beraam …”

 

  • Dit was hopelik die eerste, maar nie die laaste keer wat The Perfect Pitch gebeur het nie. Hou die Woordfees se blaaie dop vir meer inligting.
  • Die sluitingsdatum vir die Reinet Nagtegaal-teksprys is 15 Januarie 2027.Die wenner ontvang R120 000, mentorskap en ondersteuning met finale afronding van die teks, asook die moontlikheid van ’n speelvak by die 2027 Toyota Stellenbosch Woordfees. Die twee naaswenners ontvang onderskeidelik R60 000 en R30 000.
Facebook
Twitter
LinkedIn