SPIER TONEEL
Albert: ‘Dalk ’n traan of twee, maar jy gaan ook lag’
Produksie: Elke briljante ding en Ek is nie Danie
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Gys Loubser
Albert Pretorius speel vanjaar in twee produksies by die Toyota Stellenbosch Woordfees: die feestreffer Ek is nie Danie en die unieke debuutstuk Elke briljante ding. Ilza Roggeband het met hom gesels.
“Ek is vreesbevange, maar hierdie is een van die toneelstukke wat my hoop in die lewe gee,” sê Albert Pretorius. Dis drie dae voor die eerste vertoning van Elke briljante ding by vanjaar se fees. Albert is pas klaar met ’n gesprek waar hy en die skrywer Danie Marais met Bibi Slippers oor Ek is nie Danie by die Easy Equities Skrywerskamer gepraat het. Danksy uitstekende kaartjieverkope het albei produksies ’n ekstra vertoning gekry, maar kaartjies is steeds so skaars soos hoendertande.
Elke briljante ding is die Afrikaanse vertaling van Duncan Macmillan se Every Brilliant Thing wat in 2013 debuteer het en sedertdien in 63 lande opgevoer is. Daar was vanjaar weer ’n speelvak op Broadway met ’n Amerikaanse toer wat in 2027 beplan word.
“Ek wil nie te veel weggee nie,” sê Albert, “maar ek kan sê dit is 100 persent onvoorspelbaar. Die gehoor se samewerking is nodig en hulle speel ’n baie belangrike rol, maar dit beteken ook die stuk is moeilik om te repeteer juis omdat jy nie weet wat mense se reaksie gaan wees nie.”
Elke briljante ding is vir seker een van die uniekste stukke wat jy op die fees gaan sien. Ek vind dit snaaks, gemoedelik en beslis iets wat ek as teaterganger twee of drie sal wil sien juis omdat dit elke keer anders is.
Albert sê nie maklik nee vir ’n uitdaging nie, ook nie in hierdie geval nie. “Die teks is so geskryf dat die akteur dit kan terugbring, maak nie saak in watter rigting dit gaan nie. Dit is vir seker een van die uniekste stukke wat jy op die fees gaan sien. Ek vind dit snaaks, gemoedelik en beslis iets wat ek as teaterganger twee of drie sal wil sien juis omdat dit elke keer anders is.”
Die stuk hanteer temas soos hoop en die dood, maar dit word op so ’n verfrissende manier aangebied, sê hy. “Daar gaan dalk ’n traan of twee wees, maar jy gaan ook lag. Ek het vir Nico gesê dit gaan nie jou siel uitruk nie, maar dit gaan vir ’n lang ruk by jou bly.”
Nico Scheepers is die regisseur en het ook die stuk vertaal. Albert en Nico kom sedert Nêrens, Noord-Kaap in 2017 as toneelstuk debuteer het saam. Sedertdien het hulle op die verhoog saamgewerk aan Katvoet en Tien Duisend Ton (ook deur Duncan Macmillan) en op TV aan die reekse Nêrens, Noord-Kaap en Donkerbos. Nico is ook die regisseur van Ek is nie Danie.
“My en Nico se prosesse is heeltemal anders, maar ons verstaan mekaar,” sê Albert. “Daar is die manier waarop ons na dinge kyk en hoe ons na mekaar luister. Die eindpunt is altyd die storie en dit wat vertel moet word.”
Die sukses van Ek is nie Danie is steeds ’n fenomeen. Wie sou kon dink ’n stuk wat saamgestel is uit gedigte, wen die een toekenning na die ander en trek vol sale waar dit ook al opgevoer word.
“Ons het nie geweet of dit gaan werk nie,” sê Albert. “Hierdie was weer ’n geval waar ek so getwyfel het en gedink het dis die einde van my loopbaan, maar dan word ’n haas weer uit ’n hoed getrek en jy word omring deur mense soos Schalk Joubert en die magic gebeur.”
Hoe het hy al daardie woorde gememoriseer gekry?
“My proses was nog altyd: Sit op jou gat en leer jou woorde. Ek kan met TV-rolle byvoorbeeld nie die aand voor die tyd die teks lees en dink dit gaan werk nie. Met ’n stuk soos Ek is nie Danie het ek minstens twee maande tyd nodig gehad om te sorg dat ek teen die tyd wat repetisies begin, 80 persent van die teks ken. Jy wil dit ook nie té goed ken en te veel acting keuses by die huis maak nie. Jy het nodig om in die repetisieproses die volle prentjie te kry.”
My en Nico [Scheepers] se prosesse is heeltemal anders, maar ons verstaan mekaar… Die eindpunt is altyd die storie en dit wat vertel moet word.
Herken mense hom op straat?
“Dit hang af waar ek is,” sê Albert. “ ’n Paar mense het my nou voorgekeer en oor Nêrens gepraat. In Rondebosch waar ons [hy en sy vrou, Marie Vogts] woon en op lughawens herken mense my van Die kantoor.”
Die sukses van Die kantoor het vriend en vyand verras. Suid-Afrikaners van oor die spektrum het ingekoop in Flip Bosman en sy personeel by die poloniefabriek. “Selfs Rassie Erasmus het my gebel,” vertel Albert. “Iemand het my gekontak en gesê Rassie wil my telefoonnommer hê. Ek het gedink ons is in die moeilikheid omdat ons sy boek in die eerste episode gebruik het, maar hy net sê hoe hy die reeks geniet. Om die een of ander rede het ek hom in die kort gesprek seker drie keer dude genoem. Ek noem nooit enigiemand dude nie! Hoekom ek dit met hom gedoen het, weet ek nie.”
Daar wag vir die res van die jaar ’n TV-reeks waaroor Albert nog nie mag praat nie en dan is dit Desember en tyd vir braai, lag hy. “Dit was ’n besige jaar, maar wat ’n voorreg om moeg te wees deur iets te doen waarvan jy hou.”
Elke briljante ding
7 OKT 11:30 | 8 OKT 18:00 | 9 OKT 18:30 | 10 OKT 18:30 | 11 OKT 18:30
Adam Small-laboratorium
R200-R350 | R230-R380 by die deur
Ek is nie Danie
7 OKT 14:30 | 9 OKT 14:30 | 10 OKT 13:00
Adam Small-ouditorium
R250-R320 | R280-R350 by die deur




