TOYOTA MUSIEKFEES

Wie is Frank Freeman?

Onderhoud: Frank Freeman
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Van sy boeremusiekwortels en bokspassie tot die splinternuwe lewe wat hy vir Bernoldus Niemand se musiek gee – Nadine Petrick het met die veelsydige Frank Freeman gesels om uit te vind wie hy régtig is wanneer die kollig verdwyn.

Sexy. Suave. Smooth. Polished. Ook: talentvol, gedrewe en professioneel. Alles woorde wat jy van Frank Freeman hoor, en nie net van sy aanhangers nie, maar ook sy medemusikante. Dis nou daai mannetjie wat met sy bos krulhare en kitare middeljarige vroue, en meer waarskynlik die jong meisies (ek raai, want ek is middeljarig), se knieë lam maak. Dieselfde ou wat in 2019 saam met onder andere Laudo Liebenberg en Schalk van der Merwe die ikoniese Eet Kreef!-album van Johannes Kerkorrel en die Gereformeede Blues Band laat herleef het. Die hedendaagse Volk-vergestalting van Wie is Bernoldus Niemand? Maar wie ís Frank Freeman nou eintlik? Kom ons vra hom.

Wie is Frank Freeman as…

Hy in die oggend wakker word?

Musiek is die eerste ding waaraan ek dink as ek opstaan. Ek wil net cool stuff maak en cool shows maak, dis so eenvoudig soos dit. Ek is verslaaf daaraan. Ek luister ongelooflik baie musiek, dis al wat ek jaag. Dis die main ding.

Hy aan homself op die ouderdom van nege dink?

’n Professionele krieketspeler! ’n Klein laaitie van Bloemfontein wat ’n sportster wou word. Maar die musiekgogga het toe al gebyt. Ek was toe ook ’n laaitie wat die “Kliprivierpolka” in ’n boereorkes speel!

Ek het interprovinsiale skoolkrieket gespeel en die o.13-Suid-Vrystaattoernooi was die hoogtepunt van my sportloopbaan. Ek is gedrop uit die A-span, maar word toe kaptein van die B-span en toe wen ons die A-span. So, as daar enigiemand van die A-span is wat hier lees… Suck it! Hahaha! Maar sport is steeds belangrik. Ek boks ook.

Die eerste gig waarvoor ek betaal is, was by die Wêreldskerpskutkompetisie. Al die ou toppies het ná die tyd ’n bak omgestuur en ek het R300 gemaak! Ek was nege jaar oud, en het gedink: So, ek kan géld maak uit hierdie storie?

Hy in die bokskryt klim?

Ek was nog altyd ’n fan van die sportsoort. Ná skool het ek nie eintlik vreeslik geoefen nie, en so tien jaar gelede het ek besluit ek kort ’n leefstylverandering. Maar ek het nie eintlik beplan om so ektreem te gaan nie, en ek was nervous oor my hande, want dis my money makers. Maar die cool ding van boks is wel die sterk korrelasie tussen boks en musiek, daai element van improvisasie. Dis ’n unieke state of mind. Dis problem solving in real time with physical consequences. Mens dink altyd aan die primal deel van boks, maar daar is ’n baie kreatiewe aspek aan die sportsoort. Dit het ’n fisieke en psigiese impak op my lewe gehad, so ek het baie respek daarvoor.

Ek het gisteraand ook die storie vertel (by die heel eerste volledige vertoning van Wie is Bernoldus Niemand? in die Daisy Jones Bar*) voor ek “Die Boksburg Bommer” gesing het. Ek het opgedaag by die boksklub en daar sit hierdie ou toppie. Ek vra toe vir iemand wie dit is, en hy vra: “Weet jy wie is Gerrie Coetzee?”. Wat ’n cool moment. Ou Seer Handjies. Totally met ’n blank face. Geen emosies nie. Die Boksburg Bommer homself.

Hy die krismiswurm hoor huil?

Ek gaan straight terug skooldae toe. Ek het vir agt jaar in ’n boereorkes gespeel en dit was my eerste ervaring van musiekmaak saam met ander mense. Die eerste gig waarvoor ek betaal is, was by die Wêreldskerpskutkompetisie. Al die ou toppies het ná die tyd ’n bak omgestuur en ek het R300 gemaak! Ek was nege jaar oud, en het gedink: So, ek kan géld maak uit hierdie storie? Ek dink ook aan al die weird gigs wat ons daai tyd gespeel het, al die ouetehuise, die Hertzogville-grondboontjiefees, die Senekal-skou, die Afvalfees op Harrismith. En ons het even ’n toer na die Czech Republic gedoen. Ons was ’n unieke band in die sin dat ons ’n swart drummer gehad het, so die departement van kuns en kultuur het ons nogal by goed betrek. Dis ook by die boeremusiekmense wat ek geleer het dat ’n mens met klank kan inkleur. Ek het groot waardering vir die genre.

Sy ma hom bel en vra: Hoe gaan dit regtig met jou, my kind?

Dis ’n interessante vraag. Ek sien myself as iemand wat nogal sosiaal bewus is, en ek dink dit het sy voordele en sy nadele. So, as iemand wil weet hoe dit régtig met my gaan, sal die antwoord afhang van hoe goed ek jou ken. Ek sal eers probeer uitvind watse waarheid jy sal kan hanteer.

Ek dink dis nogal ’n ding in die Afrikanerkultuur, ons is polite en antwoord op die “regte” manier. Ek dink om by die crux te probeer uitkom is vir Afrikaanse mense nogal ’n skok. As jy regtig vir hulle sê hoe dit gaan, dan is hulle soos whoa. Ek wou nie régtig geweet het nie!

En nou is ek is bevoorreg dat ek al saam met baie van die mense na wie ek van jongs af geluister het, kon werk. Francois van Coke, Arno Carstens, Zolani Mahola, Amanda Strydom. En dalk ook eendag saam met van my international idols, wie weet?

Hy die Lotto wen?

Daai ou wat jou ’n pit gaan druk as jy dit nie wil doen soos ek dit wil doen nie!

Hy in die gehoor sit en net mag luister?

Ek is eerste ’n fan van musiek, voor enigiets. Ek dink gereeld as ek moet kies tussen luister en speel… wat sal ek kies? Dis ’n moeilike een. Maar ek dink dit sal luister wees. En nou is ek is bevoorreg dat ek al saam met baie van die mense na wie ek van jongs af geluister het, kon werk. Francois van Coke, Arno Carstens, Zolani Mahola, Amanda Strydom. En dalk ook eendag saam met van my international idols, wie weet?

Hy op 80 nie deur die rock & roll-leefstyl ingesluk is nie?

Hopelik ryk en vet! Hahaha! Nee, hopelik jaag ek nog iets. Kan ek nog musiek speel en goeters maak. As ek dit maak tot daar.

Hy nou by die tafel opstaan en wegloop?

’n Werkende musikant. Op soek na die volgende ding, en op ’n manier is dit klaar óp my. Ek probeer minder dink en beplan in my kop, en meer doen. Meer aksie. Less thought and more flow.

***

*Dis ’n interessante crowd by die Daisy Jones. Meestal ouer garde – dié wat jonk was tydens die Voëlvryrevolusie. Moontlik mense wat gelukkig genoeg was om Bernoldus Niemand, die Afrikaanse alter ego van die Engelse James Phillips van Springs, se wack musiek, soos Frank dit noem, lewendig te kon hoor.  Maar daar is ook jong meisies. Beslis aanhangers van Frank en totaal onbewus van Phillips se anti-establishment-bestaan. Hoe lekker dat ’n young gun ’n splintenuwe generasie aan die seminale werk van Phillips bekend stel?

Freeman wou nie hê die album, wat in totaliteit opgeneem en tydens die vertoning gesing is, moet ’n huldeblyk wees nie. Dit moet sy eie Freeman flavour hê. En dit het gewerk. Met sy Volk-vennote, Dillon Myburgh (tromme) en Mika Burger (baskitaar) en die sessiemusikant Duncan Johnson op saxofoon en elektroniese klavier, blaas hulle nuwe lewe in dié musiek wat nié net die Voëlvrybeweging aan die gang geskop het nie, maar wat sy tyd ver vooruit was. Wat nie bang was om krities en satiries te kyk na Suid-Afrika van die jare ’80 nie.

Niemand is deur Phillips gespaar nie – die NP-regering, Pretoria se snordraers (“die flavour saver of die lekker ou lip lapa”, noem Freeman dit), countrymusieksangers, Gerrie Coetzee, verpligte weermagopleiding en die klein korporaaltjies.

Frank vloei so glad soos kar-olie deur ’n opgewarmde enjin deur die tien liedjies. “Nou kan ek maar doodgaan,” sê ’n stem uit die donker ná “Tribute to Jody”. Die Freeman flavour het duidelik gewerk. Hy loei en sing, raas en smeul, en die gehoor is duidelik gaande. Ook die jong meisies, al verstaan hulle nie die konteks waaruit Phillips geskryf het nie. Maar dit maak nie saak nie. Hulle weet nou wie Bernoldus Niemand is.

Frank Freeman was te sien in Wie is Bernoldus Niemand? en Laudo Liebenberg en Frank Freeman.

Facebook
Twitter
LinkedIn