DISKOERS
Duisende volgelinge, tien vriende
Produksie: Studentediskoers: Kyk my in die oë
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff
In ’n wêreld waarin een mens duisende volgelinge op sosiale media kan hê, het dieselfde mens soms net tien mense wat hulle kan bel wanneer hulle eie wêreld uitmekaar val. Deesdae is daar ontelbare maniere – van kunsmatige intelligensie tot algoritmes – om betekenisvolle konneksies met mekaar te vorm, het dr. Leslie van Rooi, studentedekaan van die Universiteit Stellenbosch (US), in ’n gesprek met studenteleiers gesê.
Gen Z drink baie minder as vorige geslagte volgens statistieke wat dr. Leslie van Rooi aanhaal. Hierdie generasie fokus meer op gesondheid en fiksheid, ’n gesonde balans tussen werk en vrye tyd en die manier waarop hulle geloof uitoefen, sê hy. Op Stellenbosch is daar ook drafgroepe.
Adam Venter van die koshuis Simonsberg is passievol oor sport en dink dié tendens het dalk iets met menslike konneksie te doen, hoewel dit bykans onmoontlik is om tydens ’n 5 km Versus Run ’n waardevolle gesprek te voer. Hierdie ou siel wat hier skryf se aandag word te maklik afgetrek deur asemnood en mooi kuite, maar daar is seker waarheid in wat Adam sê. ’n Mens skep wel konneksie deur trauma bonding. As jy halfdood in ’n sloot eindig waar jy dan maar jou Strava oopmaak en sien jy is die héél stadigste atleet wat hierdie planeet nog ooit gesien het. Dieselfde sentiment word op jou Instagram herhaal.
Ons is terug by die balans tussen werk en ontspan. As student moet jy seker ’n bietjie leer as jy nie draf of drink nie. Hoe word KI in die akademie gebruik?
Dit voel ook of die ontwikkeling van die sosiale media en KI – met die doel om betekenisvolle verbintenisse te skep – mense selfs meer isoleer as in die verlede.
Daar is sekere goed waarmee dit help, meen Mikaylah Borland en Mark Maree. Dit kan help met jou tydsbestuur, en daar is ’n legio verskillende toepassings wat jou werk vir jou kan opsom sodat jy vinniger daardeur kan gaan. Dié gesprek baan vanselfsprekend die weg vir ’n klomp ander vrae waarvan die antwoorde nie noodwendig pas hou met hoe vinnig KI ontwikkel nie. Etiese gebruik van KI in die akademie? Werksgeleenthede vir studente wat deur KI vervang kan word?
“Don’t get too comfortable,” sê Thando Tshabalala. “It breeds complacency.” In alle opsigte.
Hier sit ons in ’n gesprek oor gesprekke en dalk die gebrek daaraan tussen mense. Dit voel ook of die ontwikkeling van die sosiale media en KI – met die doel om betekenisvolle verbintenisse te skep – mense selfs meer isoleer as in die verlede. Mense raak ál meer afhanklik van KI vir algemene sosiale interaksies. Hoekom draai hulle na ChatGPT of Claude met hulle probleme? Dis nie asof dié klomp drade en seine al ’n menslike lewe gelei het nie. Waar ontmoet software en soft skills dan? Die algemene konsensus is dat KI in sekere opsigte nie mense kan vervang nie. “It will always need a human touch.”
Ons het mekaar nodig. Ons het mekaar vandag nodiger as ooit. Dis jou mense wat jou lewe aanskou en witness, en jy het die voorreg om iemand anders se lewe saam met hulle te vier.
Ons kan nie wegkom van KI nie. Dis reeds hier en wys nie enige tekens van asemnood in die wedloop nie. Maar op ’n manier laat ons dit al hoe meer en meer toe om ons menslike lewens namens ons te lewe. Hier is dan die vraag vir al die studenteleiers en drawwers en drinkers: Hoe bly ons mens in hierdie milieu? Miskien begin dit deur mekaar in die oë te bly kyk.





