EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Nie eens in die naam van kuns nie
Deur: Lynthia Julius
Foto: Verskaf
Ek verstaan nie. Ek verstaan nie hoekom mense meen ek is ’n heiden nie. Ek meen, ek is da die brake fluid van die Ou Testament. Die spênner van die Nuwe Testament. En ek sê nie wat ôr wat nie maar ek is die kopkussing van die Jirre. So vloek-vloek. Ek het ’n jaar se Teologie op my naam. Onnerskeidings gekry. Loop vra die Puk. En vra ek jou nou van die kokende pot wat van die Noorde af orloop in Jeremia, da wil jy ’n vurk loop haal om my oë uit te steek.
Ek sit luister Hoogste bome. Pieter Krog en Naidene Lottering kloof my kop oop soos Kringe in ’n bos. Is vreemd as die kunstenaar, kunstenaar en jou vriend is. Ek kyk vir Lottering wat ons slat soos Gôt die Israeliete geslat het en sy vra nie eens sorrie nie.
Voor ons EasyEquities Skrywerskamer in is, sit ek en twee vriende Jack Black’s drink. Ons praat oor die kunste en troubled love lives en in my vriendin se woorde, “Die moffies”. Sy sê die een vrou wat belang in haar stel is te onfiks vir haar: “Jirre nee,” sê sy, “Daai meid is te onfiks. Jissus, as jy sien jy dra so swaar aan jouself, eet beet.”
Ons sit gesels nog so, toe kom ’n wit man verby ons tafel, vat aan my vriend se skouer en sê vir hom (oor sy show vroeër): “Jy sal maar moet verduidelik wat daar aangegaan het.” Alle lighartigheid en humor raak PMS. Die man loop staan agter my en praat en ek hou my rug gedraai na hom toe.
Ek light ’n Courtleigh en ek praat nie. En daai hele goeters wat daai man gemaak het kon ek vergewe, maar hy’t by ons opgedaag, sy hand op my vriend se skouer gesit en toe ’n negatiewe opmerking gemaak. Die Jirre het nie vir dié goeters aan die kruis gesterf nie. Waar kom jy so reg om net aan ’n anner mens te kom vat en dit sonner sy toestemming. Nou orraait, moer my maar klaar en laat ons Bybel toe gaan. Laat ons die kjeent middeldeur sny en die Jirre loop vra wie waffer gedeelte moet kry. Toe die vrou wat aan bloedvloeiing gely het aan Jesus se soom vat, toe voel die Jirre daar gaan krag uit hom uit.
Ek sit aan daai tafel en wonner hoe ons so entitled geraak het. Jy kom by ’n tafel aan en kom keer hom om asof hy aan jou behoort. En ons gaan nie die debat in van moet die kuns van die kunstenaar geskei word nie. Maar al wat ek weet is dat daai kunstenaar mens is en jy ken nooit wat in mens se hart aangaan voor of ná ’n show nie.
Klaar gepreek. Die kerk is sonner kollekte opneem, uit.
Ek sit aan daai tafel en wonner hoe ons so entitled geraak het. Jy kom by ’n tafel aan en kom keer hom om asof hy aan jou behoort. En ons gaan nie die debat in van moet die kuns van die kunstenaar geskei word nie. Maar al wat ek weet is dat daai kunstenaar mens is en jy ken nooit wat in mens se hart aangaan voor of ná ’n show nie. Jy ken nie wie se ma is dood, wie sukkel met mishandeling of PTSD of angs nie en jy kom oor dit ’n fees is en jy kaartjies gekoop het maak daai tafel of die mens klein.
Die vorige aand wen Keith Oliver Lewis die Kortverhaalkompetisie. “Bitterbiere. Bitterbiere,” skrou ek hom. Ons vee nou onse oë af met R200-note en praat mekaar moed in met sy bank-PIN. Ek sê hom hy ruik soos tjeld, klomp tjeld en daai reuk is van die Jirre af. Ek sê hom hy’t gewen. Hy’t sy wen geverdien en mens maak nie jou wen klein nie. The art of losing isn’t hard to master, het Bishop gedig, daarom downplay jy nie jou wen nie.
Ek staan nog só, kom daar twee wit vrouens na my toe aan. Een sê baie geluk met my Ingrid Jonker-prys. Ek sê ek het hom nie gewen nie. Die vriendin sê sy spreek maar net goed oor my lewe uit. Ek sê baie dankie, maar ek kan hom nie wen nie. Ek het alreeds gedebuteer. Die vrou begin kook soos die pap uit die Noorde. De girl sit gee my inligting oor myself en als is vêr van die waarheid af. Staan maak asof ek en myself nie elke dag saam was nie.
Die dood. Die dood in die spykerskis. Sy sê sarkasties vir my: “Ek sien jou weer by die Clarence-fees.” Ek glimlag en sê: “Ek was nog nooit daar nie.” Daai vrou het gelyk sy wil my doodblaas soos ’n kers. Plat slat soos ’n luis. Sy sê vir haar vriendin: “Kom ons loop. Laat ek eers aan my onkúnde gaan werk.”
Ek kyk na my ongemaklike vriend toe die man weg is. Ons maak weer grappe, maar daar bly bietjie omgekrapgeid oor. Mens is mens deur anner mens. Korrek. Maar die een is nie die anner se besitting nie. Nie eens in die naam van kuns nie.
My ma’t gesê daai is kak met voete aan.





