SPIER TONEEL
Boesman en Lena hou steeds die spieël op – moenie wegkyk nie
Produksie: Boesman en Lena
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Jeremeo le Cordeur
Athol Fugard se woorde van meer as ’n halfeeu gelede tref in 2026 nog net so hard – en in ’n stampvol saal herinner dit ons waarom sulke kragtige teater nodig is, skryf Jo-Ann Floris.
“Senzeni na? Senzeni na?”
Die note van die politieke struggle-liedjie wat weerklink, vertel vanaand van ’n ander struggle. Of nee wag, dis tog oor die politiek dat hierdie twee siele, Boesman en Lena, met al hulle besittings, hulle hier op ’n plek met niks bevind by Swartkops se modderpanne.
Senzeni na? What have we done? Wat het ons gedoen?
As ’n mens eenkeer al jou lewe op jou kop gedra het, voel jy nooit weer lig nie, dink Lena (Veronique Jephtas) hardop.
Sy is nie verkeerd nie. Net die oggend het die witman gekom en hulle pondok buite wat nou Gqeberha is, saam met die ander mense s’n kom platstoot. Toe gryp hulle maar wat hulle kon en begin loop.
Die twee loop saam, maar verwyt hang soos ’n kloof tussen hulle.
Boesman (Brendon Daniels) los baie merke op Lena se lyf, maar syne leef op ’n gevaarliker plek. Dis in sy wese, waar dit broei en sweer en uitspeel in geweld en alkoholisme.
Boesman koggel Lena dat hy niks sal oorkom omdat hy haar papslaan nie. Ja, die boere lag mos as hy dit doen, skree Lena. Die poelieste glo hom as hy sê dis maar niks, hulle is mos saam.
Athol Fugard, een van Suid-Afrika se voorste dramaturge (hy is verlede jaar oorlede), het die stuk al in 1969 geskryf. In 2026, op ’n laatmiddag en in ’n stampvol saal, weerklink die storie nog kras en realisties. ’n Bose kringloop.
Die nuusgebeure van die afgelope paar weke oor die lyke van minstens 10 vroue wat gevind is waar hulle vermoor en eenkant toe gesmyt is, is nog vars in die geheue. Die politici het vinnig ingespring en hulle “skok en afgryse” in een ná die ander persverklaring uitbasuin.
Die president het geweld teen vroue as ’n noodtoestand beskryf. Ongelukkig was daar ’n jaar tevore dieselfde hewige reaksie op geslagsgeweld, en toe bly dit net by woorde.
Boesman koggel Lena dat hy niks sal oorkom omdat hy haar papslaan nie. Ja, die boere lag mos as hy dit doen, skree Lena. Die poelieste glo hom as hy sê dis maar niks, hulle is mos saam.
Om en om draai die wiel van slagofferskap, want niemand word ontsien nie. “Ons is gemors-mense,” beskryf Lena en later ook Boesman dit. Vullis wat die witman weggooi.
Boesman word deur die politieke bestel gestroop van waardigheid, menslikheid en manlikheid, maar dan draai hy om en behandel Lena dieselfde. Jy kan vir hom kwaad wees en verwyt, maar net ’n klipharde hart kan van die kant af kyk en nie twee mense sien wat so platgeslaan is dat hulle nie meer plek het om die pyn te sit nie.
Dit help ook nie dat hulle nie met mekaar kan praat nie. Lena skel, Boesman slaan, maar oor die eintlike probleme word nie gepraat nie. As hulle nie meer met mekaar kan baklei nie, skel Lena tot vir die voëls wat bo hulle vlieg, vervloek hulle dat hulle vry is om te vlieg.
Uiteindelik kry Lena iemand met wie sy kan praat wanneer ’n ou swart man daar aangestrompel kom. Hulle kan mekaar nie verstaan nie, maar hy word Lena se toevlug, iemand met wie sy kan praat. En soos Boesman, antwoord Outa (Tshamano Sebe) haar nie, maar tog voel sy iemand luister na haar.
“Sien Outa, sien Outa hoe het hy my gemoer?” vertel sy vir die ou man. En toe sy haar kos met hom deel: “Bruinbrood. As dit bloukolle gehad het, was dit ek.”
Die dapper front met die trane altyd net so onder die oppervlak glip makliker met die ou man daar. “Jy is nog ’n paar oë Outa, om te sien wat hy aan my doen.”
Senzeni na? What have we done?
’n Mens moet begrip hê vir die konteks van die tyd waarin die stuk geskryf is, want die k-woord word vrylik gebruik. Boesman, self die slagoffer van ’n rassistiese afknouing, doen presies dieselfde aan Outa, maar in sy oë doen hy niks verkeerd nie, want die swart man is “minder mens”.
Dis soos om met jou oë toe in ’n spieël te kyk.
Die skelname val hard op die oor, en ’n mens wil wegdeins, maar jy kan nie. Dit is nie net daar vir skokwaarde nie. Dit beeld ’n pynlike tyd in ons land se geskiedenis uit, en selfs nou sukkel ons nog om dit af te skud.
Die skelname val hard op die oor, en ’n mens wil wegdeins, maar jy kan nie. Dit is nie net daar vir skokwaarde nie. Dit beeld ’n pynlike tyd in ons land se geskiedenis uit, en selfs nou sukkel ons nog om dit af te skud.
Lena se krag kom na vore wanneer sy mag terugvat van Boesman ná die dood van Outa. Skielik is hy die bang een, sy die een met die hef in die hand. Maar dit bring haar ook net so ver, want sy stap nie weg van die toksiese verhouding nie.
Pak op, pak op. Korsten. Veeplaas. Bethelsdorp. Missionvale. Wie weet waar hulle gaan opeindig.
Die stuk tref diep en dis ’n jammerte dat daar in die gehoor nie groter sensitiwiteit was met tonele nie. Daar was tye dat mense in die gehoor gelag het as Lena so vloek en skel en geslaan word. Ek dink hulle lag vir die gevloek, maar dan gaan die boodskap vir hulle verlore. Dis baie steurend as mense op onvanpaste tye lag – ek wil glo deur onkunde – veral met ’n stuk wat sulke pynlike en traumatiese gebeure weergee.
Hier moet ’n mens ook die regisseur Christo Davids en vertaler Vinette Ebrahim op die skouer klop dat hulle die stuk sy waarde en geloofwaardigheid laat behou het, en nie probeer het om dit polities korrek te skaaf nie.
Dit is ’n belangrike reis om te beleef as jy wil verstaan hoe ons land gekom het tot waar hy is, om begrip te kry van die sosio-maatskaplike uitdagings en om te waardeer dat ons nooit kan teruggaan na ’n vernietigende bestel nie. Nog belangriker, dat hierdie ’n wekroep is dat ons nie meer kan bekostig om weg te kyk van vergrype nie.
Maar die oomblik behoort aan Jephtas, Daniels en Sebe vir ’n vertoning wat jou laat vergeet dat dit toneelspel is. Hierdie akteurs verdien die hoogste lof dat hulle ’n boodskap van meer as 50 jaar oud steeds relevant en eietyds kon oordra, met niks van die impak wat verlore gegaan het nie. Inteendeel.
Spesiale vermelding vir Sebe, wat met skaars ’n woord te sê, net deur lyftaal en uitdrukkings op sy gesig ’n hele storie vertel.
Boesman en Lena
10 OKT 20:00 | 11 OKT 09:30
kykNET Idasvallei Primêr
R200-R290 | R230-R320 by die deur
Geen o/14





