KLASSIEKE MUSIEK
Dié kunswedstryd is ’n lewenslyn
Resensie: Stellenbosch-eisteddfod 90
Deur: Anouk Cronjé
Foto’s: Natalie Gabriels
In die jaar 1936 begin die “geheimsinnige” skakelkomitee op Stellenbosch die Stellenbosch Kunswedstryd. Oor die jare heen neem dié geleentheid verskillende vorms aan: Dit groei, word teruggesnoei, vertak en vervorm. Dr. Diederick Basson, orrelis en voorsitter van die uitvoerende komitee van – soos dit tans bekend staan, die Stellenbosch Eisteddfod – lei die middag in.
Die Stellenbosch Eisteddfod 90-feeskonsert is presies wat ’n mens verwag: ’n Verskeidenheidskonsert waarin voormalige pryswenners van die eisteddfod hulle talent ten toon stel ter viering van die wedstryd se 90ste bestaansjaar. Geen verrassings of pogings tot party tricks nie, net musiek.
’n Wye spektrum kunstenaars betree die verhoog, van jonk na oud (letterlik – die jongste musikus is in gr. 11, en die oudste al ouer as 70!), en nie een op dieselfde instrument nie. Wat my dan die meeste fassineer, is hoe verskillend “vaardigheid” op verskillende instrumente lýk. Blokfluit, saxofoon, marimba, klavier, orrel, stem, akkordeon, kitaar. Mis ek een?
’n Wye spektrum kunstenaars betree die verhoog, van jonk na oud (letterlik – die jongste musikus is in gr. 11, en die oudste al ouer as 70!), en nie een op dieselfde instrument nie.
Ek verkyk my aan die veelsydige Dylan Tabisher – wat ek eintlik beter ken as jazz-basspeler – se virtuose marimba-spel. Agter die marimba is ’n mens nogal ontbloot: Konsentrasie speel oor sy gesig soos hy die marimba bespeel met hand- én voetwerk soos een wat ’n komplekse masjien operate.
Quinn Goliath toor klanke uit ’n altsaxofoon wat my mond moeg maak om net daarna te luister. Ewe indrukwekkend is die vingerwerk van Jeanni Wiese op die blokfluit. Hano Krige vermaak die gehoor met ’n verwerking van “Three Blind Mice” wat die akkordeon deur nege verskillende genres neem. Jan-Hendrik Basson, ’n musiekstudent wat dae tevore nog ’n uitmuntende en skreeusnaakse vertolking gelewer het van ’n stukkende staanhorlosie in die kinder-opera L’enfant et les sortilèges, beïndruk met die hartverskeurende en uitdagende “Gethsemane” uit Jesus Christ Superstar.
Dis ook lekker om vir ’n slag bekendes soos Bennie van Eeden en Minette du Toit-Pearce op die verhoog te sien, en nie net as beoordelaars of opvoeders in die konserve nie. Philippus Hugo en Hanneke Zwamborn boei die gehoor met ’n klavierduet. Sharon de Kock en Anmari van der Westhuizen, albei bekende name in klassiekemusiekkringe, betower met Mendelssohn op viool en tjello, onderskeidelik. Die konsert sluit af met Winand Grundling op die Endler se Marcussen & Søn-orrel. Ek het sy verwerking van “Ode to Joy” deur die jare al talle male gehoor, maar dis nog elke keer so aangrypend soos die vorige, en nooit presiés dieselfde nie. Meesterlik.
Dis jammer die saal was nie voller nie. Gehoorlede sou goed gevoel het ná hierdie konsert.
Ek is dankbaar vir alle ouers wat deur die jare besluit het dat hul kinders se musiekonderrig die moeite werd is – maar nog meer vir die ouers wat dit in ’n tyd soos vandag steeds sinvol ag om tyd en geld aan musieklesse te wy. Want soos Diederick Basson opmerk, “die mense raak berserk”. Die kunste is nie opsioneel nie; dis ’n lewenslyn in ’n tyd waarin alles uitmekaarval.
Stellenbosch-eisteddfod 90 was ’n eenmalige konsert.





