TOYOTA MUSIEKFEES

Rits saam op Glaskas se musikale slentertoer deur 20 jaar

Produksie: Glaskas: 20 Jaar
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff

Glaskas is amper mondig, en ’n propvol Daisy Jones Bar het die eerste 20 jaar saam met die vier lede gevier, skryf Maliza Adendorff.

Deon Meiring weet hoe om ’n storie te vertel – of hy nou gesels oor Glaskas se komvandaan of hiervandaan, of verhale spin oor gerolde karre, Jan Blohm en die tyd van CD’s, kuns, Maggie Laubser, brandewyn en die langpad.

Vir die groep se vertoning het ek gaan wegkruip by die klankman, van waar ek kon sien hoe die gehoor se skouers soos ’n golf gesinchroniseerd saam beweeg op die maat van die musiek.

Oor die afgelope 20 jaar was Glaskas basies oral in die land – van Vryheid, Potchefstroom en Coetzenburg tot Secunda en Humansdorp. In die proses het hulle hul gehoor goed leer ken. Dit is mense wat jonk is van gees, wat van Bob Dylan en Jimi Hendrix hou, en wat waarskynlik oor nog 20 jaar sal terugkom na die Daisy Jones vir ’n reünie.

Die mense wat die musiek ken, sing saam, en dié wat dit nie ken nie, luister die eerste keer die tong-in-die-kies-lirieke vol woordspelings raak. (Die woord “baby” word wel in een liedjie gebruik, maar dis darem nie ironies nie.)

Deon vertel hy wou liedjies skryf wat die wêreld verander, maar hy het intussen vrede daarmee gemaak dat hy veel beter is met liefdesliedjies. Dit is wel moeilik om die groep se genre vas te pen. Daar is stukkies “ruk en rol” met blues en selfs ’n bietjie pop, plus ’n bekfluitjie as kersie op die koek. Die band is lekker energiek en aan die gang – hulle vertoning is ’n meesterklas in hoe om 20 jaar ouer te word sonder om dit te wys.

Hierdie was nie net nóg ’n show nie, maar ’n slentertoer deur ’n leeftyd. Klim in, ry saam, daar is nog oorgenoeg brandstof vir die pad vorentoe.

Die enigste vertoning was op 9 Oktober.

Facebook
Twitter
LinkedIn