SPIER TONEEL
Om innie huis van jouself te hoort
Produksie: Hoort
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf
Stephanie Baartman se kabaret Hoort is verlede jaar welverdiend met ’n Woordtrofee bekroon. Al breek die stuk ’n brak waarheid oop van verkeerde rasseklassifikasie en gedwonge verskuiwings tydens apartheid, is dit allesbehalwe ’n politieke geprekery, skryf Dianne Albertze. Stephanie, my darling, ons hoor jou.
Ons almal wil êrens hoort. Verkieslik in ’n wêreld wat ons aanvaar nes ons is, met al ons andersheid en letsels. Ons wil tussen goeie, opregte mense hoort wat ons veilig laat voel, maar meestal – en die belangrikste – moet ons leer om tot onsself te hoort.
Stephanie Baartman se kabaret Hoort het in 2025 die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek ontvang, en met goeie rede. Die stuk breek ’n brak waarheid van verkeerdelike rasseklassifikasie en verskuiwings tydens apartheid oop. Dis allesbehalwe ’n politieke geprekery. Sy praat en sing hier mens tot mens met die gehoor. Sy is vol deernis, humor en hoop.
Baartman se lewensverhaal is ’n baie spesiale reis. Een vol potholes, maar ook beautiful mense wat sy langs die pad ontmoet. Maar dan is daar ook die “Candice”-meisies met die mooi hare en lelike maniere wat ook hulle verskyning op haar pad maak. Later selfs nóg leliker mense. Aaklige insidente. Maar niks sonner ’n les nie. Gou het Baartman se pa haar geleer ’n mens kan nie faal as jy aanhou probeer nie.
Ons moet ons verlede onthou sodat ons hede beter kan wees. Sodat óns beter kan wees. Om met ’n bewustheid van ons verskille te leef sodat ons mekaar kan liefhê vir presies wie ons is.
Tog is dit nie altyd moontlik nie, want nie net dorings nie, maar slagysters, beland ook soms op ’n mens se pad. Maar die naarste is die giftige verlede wat wonde gelos het wat nooit sal heelword nie. Die nagevolge van kolonialisme en apartheid. Dis belangrik dat Baartman hieroor praat, want dit raam haar baie persoonlike verhaal. Die vieslike rassediskriminasie van ons verlede (en hede) moet uitgewys word, keer op keer.
Ek word herinner aan die skaduwees van Stellenbosch se verlede. Die vlekke van die goed wat ons graag wil vergeet, bly altyd die langste agter. Soos Baartman vertel hoe ’n verwronge regeringsmentaliteit haar familie verskeur het, onthou ek die stories van Rooi Stoep wat deel was van Die Vlakte, ’n ruimte wat eens vrylik deur die dorp se bruin gemeenskap bewoon is. Maar dit is platgeslaan – vandag staan daar ’n BA-gebou nes ’n grafsteen in Rooi Stoep se plek.
Met die dieptes en dale van Baartman se stem wanneer sy sing oor die vervreemding en verstoting, onthou ek die insident wat in 1940 plaasgevind het toe wit US studente ’n ál groter geveg gevoer het met bruin inwoners wat later sou lei tot die plundering van ’n hele straat. Vandag, met min tot geen reparasie, word dit onthou as die Andringa-slagting.
Ons moet ons verlede onthou sodat ons hede beter kan wees. Sodat óns beter kan wees. Om met ’n bewustheid van ons verskille te leef sodat ons mekaar kan liefhê vir presies wie ons is. James Baldwin skryf in sy essay “As Much Truth As One Can Bear” die volgende, “Not everything that is faced can be changed, but nothing can be changed until it is faced.”
Baartman begin deur te vertel van al die groot optredes wat sy al op die verhoog en die kassie gehad het. Gou besef ons dat sy nie eintlik spog nie. Sy is egter ook so sjarmant dat ’n mens eintlik nie eens sou mind nie. Sy noem van Gé Korsten tributes asook die telenovelle Diepe waters waarin sy speel. Dan draai sy gou die ding op sy kop wanneer sy ons laat weet haar storie gaan nie ’n fancy of ligte affêre wees nie, maar ’n real en rou saak.
Baartman stroop haarself nie net letterlik (met die hare) nie, maar ook metafories van binne af. Dit roep die gedig “Rebel” van Bernadette Madell van Ravensmead by my op:
die hare gesprek is ma complicated
jou hare is te kroes
jou hare is te glad
jou hare kannie pom pom’ie
jou hare is in die pad
jou hare is wie jy is
jou hare issie wie jy issie
jou hare is jou kroon
maar moenie jou identiteit misgissie
en ek hou van dinge eenvoudig hou
toe skeer ek alles af
Dan draai sy gou die ding op sy kop wanneer sy ons laat weet haar storie gaan nie ’n fancy of ligte affêre wees nie, maar ’n real en rou saak.
Baartman is die dogter van twee pastore en het diep wortels in die kerk. Dis tog die plek waar sy leer sing en perform het. Die kabaret kan sekerlik deels ’n koortjiekabaret genoem word. Een met hart. Smaak omtrent Baartman laat sit ons in ’n kerkbank om na die testimony van haar te luister.
Sy vleg haar grootwordverhaal met verskeie liedjies, ook baie welbekendes. Sy skets vir ons ’n lewe vol humor, heartbreak en ontnugtering. Ons leer van haar as oorgewig skoolkjeent wat net wou trompoppie wees, maar dit was maar ’n sukkelsaak. Sy het egter nooit ophou aanhou nie.
In Hoort word Baartman sterk begelei deur Coenraad Rall, ’n gesoute hand wat goed weet hoe om ’n groot stem soos hare te ondersteun. Die verhoog het nie ’n stel van ’n dag oud nie – net die liggaam, die stem en ’n sielstorie.
Met warmte en beheer hou Baartman ’n gehoor in die palm van haar hand. Haar stem is ryk en vol variasie en emosie. Verder handhaaf sy ’n goeie balans tussen die ligte en donker skakerings van haar storie. Sy herinner ons aan die krag van storievertelling en dat teater nie altyd al wat ’n extravagant stel, beligting of kostuum nodig het nie, maar net ’n stem wat gehoor wil word. En Stephanie, my darling, ons hoor jou.
Ons almal verdien om êrens te hoort, maar dis net ons eie besigheid om uit te figure hoe ons tot onsself kan behoort. Hierrie kabaret wys daai journey. Een wat nie oornag gebeur nie. Maar een wat jou só vry kan maak. Baartman se storie is ’n testament van oorwinning wat nog baie mense sal raak.
Hoort
10 OKT 19:00
Paul Roos-teater
R240 | R270 by die deur





