SPIER TONEEL
Eugene dans tussen donker en lig, en trek die gehoor daarby in
Produksie: Eugene
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Gys Loubser
Eugene is ’n donker en meesleurende verhoogstuk waarin Carlo Daniels die gehoor tussen skadu en lig intrek, en waarin geweld, verraad en oorlewing met kragtige teater verken word, skryf Jo-Ann Floris.
Die bos het hom geleer. Goed soos om in die skadu’s te beweeg en homself te kamoefleer sodat jy net gesien kan word as jy gesien wil word.
Nou stap Eugene die stad se paaie, en hy gooi lang skaduwees.
Carlo Daniels as Eugene gryp jou onmiddellik aan waar hy in die eerste toneel amper verwese en geblinddoek op die verhoog staan.
Die gehoor kry ’n voorsmakie van hoe ontnugtering en ontknoping later sy meelopers sou word as sy mede-akteur, Lynette du Plessis, die Duitse dramaturg Bertolt Brecht aanhaal.
Brecht het graag met sy werke mense uitgedaag om krities te dink oor maatskaplike ongeregtigheid en politiek. Hy wou mense nie toelaat om eenkant te staan nie, maar om alles wat op die verhoog afspeel aan hul eie lyf te voel.
Dis waar Eugene hom uiteindelik bevind, met al die probleme wat menslike interaksie meebring.
Eugene is trots om homself ’n gentleman-skollie te noem. Hy hom uit ’n woonbuurt waar geweld deel van die daaglikse bestaan is.
Dis nie ’n maklike verhaal om te volg nie, en ’n mens moet jou daarop voorberei dat dit konsentrasie gaan verg om by die storie te bly. Maar dis uitstaande teater wat ’n mens laat dink en oordink, met vrae laat en soms ook skok. As jy toelaat dat dit jou meevoer, skyn dit ’n lig op die lewe.
Soos die storie ontvou, raak dit makliker, want hoewel die uitdagings daar is, begin dinge tog so ontknoop dat ’n mens die karakters uit eie lewenservaring begin herken.
Ewe skielik begin hul optrede ook meer sin te maak, want hier voor jou op die verhoog speel ’n hele geleefde lewe af.
Eugene is trots om homself ’n gentleman-skollie te noem. Hy hom uit ’n woonbuurt waar geweld deel van die daaglikse bestaan is.
Hy verwys weer na ’n Brecht-gedig waar hy noem dat hy in die Swartwoud gebore is, en dat iets van die “kilte van die woud in hom agtergebly het”, selfs nadat sy ma hom na die “grys stede” geneem het.
Vir Eugene het hy sy buurt hieraan gelykgestel, sodat hy met die skyn van ordentlikheid altyd reg was om ’n saak uit te baklei.
Die verhoogstuk, verwerk uit die gelyknamige boek deur Kirby van der Mewe, beweeg baie na aan die boek, danksy die behendige hand van Saartjie Botha.
Die boek is bekroon met die Eugène Marais-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die kykNET-Rapport-prys vir fiksie en die Jan Rabie-Rapport-prys.
Met minder ruimte en die voordeel van visuele uitbeelding, word die heen-en-weer-reis tussen Eugene se verlede en hede baie kompak, maar effektief vertel.
Die geweld loop dwarsdeur die storie – soms is Eugene die aanvaller, soos met die student wat vermoor word, en soms die slagoffer, soos aan die hand van die apartheidspolisie toe hy as politieke aktivis gebrandmerk word.
Hy lewe in ’n wêreld waar die lyn tussen wie reg en wie verkeerd is, heeltyd skuif. Soos met die moord op die student in die Walter Sisulu Botaniese Tuin, waar hy heeltyd probeer regverdig hoekom die student moes sterf. Dit was óf hy óf die student.
Die karakter gaan dieselfde om met die ontnugtering van verraad wanneer iemand hom aan die polisie gaan verklap, aangesien dit net een van twee mense baie na aan hom – Alan of Jenny – kon wees.
Dis nie ’n maklike verhaal om te volg nie, en ’n mens moet jou daarop voorberei dat dit konsentrasie gaan verg om by die storie te bly. Maar dis uitstaande teater wat ’n mens laat dink en oordink, met vrae laat en soms ook skok. As jy toelaat dat dit jou meevoer, skyn dit ’n lig op die lewe.
Verder in die stuk is hy egter ook skuldig aan verraad wanneer hy agter sy boesemvriend se rug ’n verhouding met dié se meisie aanknoop.
Daar is ’n drif in Eugene wat uiters oortuigend deur die akteur oorgedra word, soos wanneer hy die bobbejaan as ’n karakter inbring. Die dier begin die skuld kry as die een wat die donker, gewelddadige gedagtes aandra, en ’n mens kry die indruk Eugene probeer hard om die blaam van hom af weg te hou.
Dit kom byvoorbeeld ook deur wanneer hy die vermoorde student se begrafnisdiens bywoon, en maak groot gewag daarvan dat niemand eens ’n traan gestort het nie. Insinueer hy niemand het omgegee dat die student dood was nie? In Eugene se wêreld is enigiets moontlik.
Dat hierdie verwerking in die verkeerde hande heeltemal plat sou val, moet genoem word. Omdat dit so kompleks is, moes dit so vertel word dat dit steeds sin maak sonder die ekstra detail wat die boek bied.
Vir haar rol verdien Du Plessis netsoveel lof as Daniels, want sy glip moeiteloos tussen haar onderskeie karakters, en oortuig elke keer.
Die geweld loop dwarsdeur die storie – soms is Eugene die aanvaller, soos met die student wat vermoor word, en soms die slagoffer, soos aan die hand van die apartheidspolisie toe hy as politieke aktivis gebrandmerk word.
Dis word ook gedra deur kragtige dialoog, taal wat nie wegdeins nie en soms, wanneer jy dit die minste verwag, iets om jou te laat giggel.
Voeg daarby die skrywer Van der Merwe, wat ’n enorme wit doek in die agtergrond omtower met hale en strepe verf. Lyne wat verstrengel raak en ’n vorm wat wil-wil soos ’n man lyk wat uit ’n bos stap. Maar terwyl jy nog hieroor wonder, verander die prentjie weer as die verfkwas oor hom getrek word.
Hy word ’n stille teenwoordigheid op die verhoog, maar skep ’n heel nuwe dimensie met die kunswerk.
Dit is ’n storie van kontraste en ooreenkomste. Platteland teenoor Hillbrow. Vriendskap teenoor verraad.
Jy hoef nie in een van die twee plekke te gewees het om dit te herken nie, want die akteurs en storie verplaas jou na jou eie leefwêreld.
Dit los jou ook met ’n vraag. Watter kant toe gaan jy jou lewe stuur?
Eugene is op 5, 6, 7 en 8 Oktober in die Adam Small-teater aangebied.




