DISKOERS
Gebrek aan bruin leiers in DA dek tafel vir ander partye
Netwerk24-gespreksreeks: Die bruin stem
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Jo-Ann Floris
Die gebrek aan bruin leiers in die DA kan ander partye help om bruin kiesers te mobiliseer, veral in ’n politieke klimaat waar identiteit, verteenwoordiging en vertroue ’n bepalende rol speel, skryf Jo-Ann Floris.
Die gebrek aan bruin leiers in die DA gaan baie deure vir die party toeklap in die soeke na dié kiesers, want ongelukkig is Suid-Afrikaners geskool om in ras te dink.
So waarsku Christi van der Westhuizen, professor in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Die gesprek as deel van die Netwerk24-gespreksreeks by die Toyota Stellenbosch Woordfees probeer sin maak van die kwessie – oor hoekom dit met elke verkiesing ter sprake kom en of dit hoegenaamd uitkomste gaan beïnvloed.
Op die paneel was ook dr. Harlan Cloete, senior navorser en politieke ontleder en Jason Felix, politieke verslaggewer vir Netwerk24, in gesprek met Gert van der Westhuizen.
Die kwessie het nou weer relevant geraak met partye soos die Patriotic Alliance van Gayton McKenzie en die National Coloured Congress van Fadiel Adams wat onbeskaamd verklaar hulle staan vir die bruin kieser.
Die sterk persepsie dat bruin mense grootliks vergete is in die nuwe politieke bestel, maak dit vir partye soos dié – hoewel radikaal – maklik om hulself te posisioneer as diegene wat die situasie gunstig kan verander.
Die sterk persepsie dat bruin mense grootliks vergete is in die nuwe politieke bestel, maak dit vir partye soos dié – hoewel radikaal – maklik om hulself te posisioneer as diegene wat die situasie gunstig kan verander.
“Ek beskryf altyd bruin kiesers as baie kieskeurig oor watter party hulle voor stem,” sê Christi. “Hulle verander gou van party as hulle belange nie gedien word nie.”
Dis op dié gunstige tydstip dat die PA en NCC intree en kiesers mobiliseer op grond van identiteitspolitiek. Die boodskap is eenvoudig: Die DA gee nie om vir julle nie; die ANC is ’n swart party. Maar kyk, ons baklei vir julle, verduidelik Harlan.
Feit is, die DA kan nie die Wes-Kaap wen sonder die bruin stem nie, sê Jason, maar hul eie taktiek destyds toe hulle die party gegroei het, word nou teen hulle gebruik.
“Destyds het die DA begin fokus op klein dorpies, en stil-stil ’n magsbasis buite die metro’s gebou. Nou gebruik die PA dieselfde formule. Hulle mobiliseer in klein dorpies, hulle mobiliseer in kerke. As jy die kerke gewen het, stap jy weg met die prys.”
Die PA is beslis ’n bedreiging weens hul onbeskaamde posisie, die kerke se steun en die feit dat hulle die taal van die inwoners – dus hul geleefde ervaring – verstaan, sê Harlan.
Die boodskap is eenvoudig: Die DA gee nie om vir julle nie; die ANC is ’n swart party. Maar kyk, ons baklei vir julle, verduidelik Harlan.
Gert vra die vraag of die gebrek aan bruin leiers in die DA mense afskrik.
“Klas en ras is baie nou verweef. Die geskiedenis van armoede, behuising, ensvoorts is die gevolg van grondonteiening, marginalisasie, politieke verwaarlosing.
“Dit help nie die DA wil kleurblinde politiek speel nie. Vir die persoon wat die rasse-impak beleef, gaan ’n gebrek aan verteenwoordiging hom of haar nie oortuig dat ’n politieke persoon hom of haar ernstig opneem nie,” meen Christi.
Harlan sluit hierby aan: “Daar is die gevoel: ‘Jy kan kom sit by die tafel, maar ken net jou plek.’ Iets soos: ‘Ons het jou hier toegelaat, moet dit nie vergeet nie.’”
Totdat die siening verander dat jy, as jy bruin is, ’n plafon in die party bereik, gaan hulle aanhou om bruin kiesers te vervreem.
Vir die komende verkiesing waag hy die voorspelling:
“Ek dink al wat kan werk, is samewerkende koalisies. Kiesers soek pragmatisme. Daar is ’n gesegde: Dit maak nie saak of dit ’n wit kat of ’n swart kat is nie, solank hy net muise kan vang.”




