SPIER TONEEL
Wanneer kinders in watte toegedraai word
Produksie: Cottonwool Kid
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf
Toni Morkel verskyn grootoog uit die vleuels van die HMS Bloemhof-skoolsaal. Geklee in ’n spierwit broek en toegeknoopte wit baadjie, spierwit tekkies, vyf spierwit sakke in die hand en ’n spierwit hoed op die kop. Slegs die binnekant van die hoed is oranje geblom. Die hoed speel ’n beduidende rol, blyk dit binne minute.
Vir ’n Morkel-groentjie is dit onmiddellik duidelik dat iemand wat baie bedrewe is in fisieke teater hier op die dolleë verhoog aan die speel is. Haar hele lyf en haar ongelooflike gevoelvolle gesig speel saam in Cottonwool kid om die storie van CK, ’n angstige vierjarige dogtertjie wie se obsessiewe-kompulsiewe gedrag haar asma en ekseem laat opvlam wanneer sy voel die lewe druk te hard, te vertel.
Arme CK, wie se verhaal gegrond is op Morkel se eie lewe, glo vas haar familie gaan in duie stort of haar ma gaan sterf as sy nie haar kompulsies om in vywe te tel, of die klerehangers reg te belyn, nakom nie. Hierdie impulse vergestalt verder in ’n treffende nagmerriesekwens met ’n enorme toiletrol.
Jy lag kliphard, maar wil huil oor die kind wat so misverstaan word, en haarself so tydig en ontydig kasty.
CK is die draer van die beblomde hoed. Wanneer Morkel egter die hoed afpluk, verander CK soomloos in ma Joan, of pa Elwin, sussie Bonnie (sy dra ’n rooi hoed) en selfs die pratende Dalmatian, Luigi, wat al grommend en krappend dié verhaal vertel.
Die storie begin in die 60’s, en dis gou duidelik klein CK se neuroses spruit uit haar ouers se onvermoë om die ware probleme aan te spreek. Elke moontlike salfie of roompie word ingespan om haar te help en sy word deur haar ma in die figuurlike watte toegedraai. Maar nie een maal word CK gevra of sy okay is nie. Dit blyk nét die liewe Luigi verstaan.
Morkel is ook ’n nar. Daar is baie lag, maar ook trane, want hoewel die hele familie se disfunksionaliteit met tye skreeusnaaks is, sit die trauma op die oppervlak, soos ’n rofie wat aanhou jeuk. Sy tol en trippel oor die verhoog, trek haar gesig, maak geluide. Jy lag kliphard, maar wil huil oor die kind wat so misverstaan word, en haarself so tydig en ontydig kasty. Dis ’n lewensmoeë kind, dié. Daar is egter lig in die tonnel, en met die aanmoediging van ’n vriendin kry sy uiteindelik, in haar latere jare, hulp.
Cottonwool Kid, geregisseer deur Sylvaine Strike, is ’n lieflike, klein maar kragtige produksie. En hoewel die boodskap en die humor tref, voel dit teen die einde meer na ’n versteekte preek as ’n teaterstuk. Soos ’n ballon wat stadig afblaas, en nes arme klein CK sonder haar asmapompie, raak Morkel én die stuk in die laaste paar minute effe uitasem.
Cottonwool Kid
10 OKT 19:30 | 11 OKT 10:00
HMS Bloemhof-skoolsaal
R180 | R210 by die deur
Geen o/14




