TOYOTA MUSIEKFEES
My brief vir Gertjie
Produksie: Gert Vlok Nel
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Conrad Jamneck
Every hard rocking wreck on the highway
Every heartbroken rule of the road
Every true thing we wrote on the wind is still singing
Love is the last thing to go
– “The Last Thing To Go”, Kris Kristofferson
Liewe Gertjie
Vir my birthday hierrie jaar het ek nie vir veel gevra nie.
Twee oё om my te sien vir wie ek is. Een tong om my die waarheid te gee. ’n Arm om my te vang as ek in stukke breek. Enige hart wat plek het vir my.
En om jou te sien perform.
Clint, die kween wie front-of-house by Daisy Jones is, weet al hoe opgewonde ek is. Sy haal vir my een van haar entjies uit en vra of ek reg is. Die dag het gekom. Jirre, ’n live show van jou is so skaars soos sjampanje by Tummies Tavern in Vierkamp (Okiep). So, ek gaan maak toe maar my lippe in die toilets rooi en bestel ’n drink.
Moet myself keer om nie na my memories toe te verdwaal nie.
Sewe jaar gelede in Bloem, toe ek en ’n suster wie se hart gebreek het jou laas kom kyk het. Ons het oor niks anners geworry as om jou te sien nie. Die venue was êrens ver uit die dorp tussen koringgras. Dit was ’n aand geel van opwinding. Ek en sy het nes papsakke in renosterbos vasgekoek aan jou woorde. Ons pyn in rooiwyn versuip en die glase met ons trane uitgespoel. Jy’t gesê ons kan order wat ons wil by die bar. Toe vat ons soveel bottels as wat ons kan en gaan steek dit weg, buite langs ons lift se kar, innie warm en vaal Vrystaat-sand.
Vandag grawe ek die bottels een-een uit.
Nes die geraamtes van my gewese suster en ek se vriendskap.
Die saal se deure maak toe. Dis volgepak met “ou vriende en ’n paar vyande”, soos jy ons noem. Alles word ’n donkeraand diep in Juliemaand. En jy begin murmereer in die mikrofoon. Not giving a fuck of ons jou woorde kan uitmaak of nie. Jy weet tog ons – ek – ken jou lyrics soos die Onse Vader.
I should’ve left Tuesday when you still loved me so
Jy dop die sakke van jou pers corduroy uit. Dit was seker weer my verbeelding, maar ek sien die grysrooi sande van Beaufort daaruit val. Hope en hope daarvan. Die saal word vol stof en die tyd kom al hoe nader, nader om hom op te roep.
Kom in, Koos
Kom in
Kom in
En ek sien my atjoester, Miemie, weer voor my staan. Ek wil haar onthou hoe sy laas op haar happyste was. Laasjaar al dansend by die Khaya met Schalk op die bass. Sy het al swewend en smilend tussen die stoele deurgedans. Met daai hanne glinsterend vol ringe wat soos vlerke al om haar fladder. So wil ek haar onthou. Nie al slapend in die houtkis uitgestal in haar Gaatjie-Wes-huis se voorkamer nie. Happy, hoopvol en vry. Soos ons ammal eens was.
Die saal se deure maak toe. Dis volgepak met ‘ou vriende en ’n paar vyande’, soos jy ons noem. Alles word ’n donkeraand diep in Juliemaand. En jy begin murmereer in die mikrofoon. Not giving a fuck of ons jou woorde kan uitmaak of nie. Jy weet tog ons – ek – ken jou lyrics soos die Onse Vader.
Die son loer deur van agter. Iemand is op pad uit.
Baai, Miemie.
En die band word sagter.
Nou sing jy lat ammal kan hoor. Jong, al sing jy nie eintlik nie, jy bely mos. Praatsing met jou gehoor asof jy ons vir die eerste keer van jou waarheid wysmaak.
Maar woestyn
Was die woorde waardeur ek moet reis
Om haar hart te wen.
En my trane tuck ek weg en plak dit toe met duct tape.
Weer in die Stevense se jaart in Idas besig om witpype met ou toppies en sesse te pak. Die manne vra ek moet my musiek opsit. Hulle wil hoor wat luister ek da en ek YouTube vir jou, Gert. Ammal in daai hok van hopelessness het stil geword.
My broken heart hou ek met my skippant bymekaar.
Een uncle het later die deur oopgesluit en die rivier van jou lirieke het ingespoel.
Die groen branders het teen die sinkmure geklots en ons het bly sit en rook met ons koppe net-net bo die water tot die pyp uit was.
Ek knyp my neus toe en druk my kop onner die water in.
Was my weg, Gertjie.
Weg van die geraamtes van toe.
Toe ek nog kon bekostig om uitmekaar te val.
Nie soos nou, wat ek met die broken souvenirs van myself moet saamleef nie.
Maar for some reason maak jy, die uncle agter die mic, als okay voel. Oor jy dalk ook net so baie foute soos ek al gemaak het. Dalk ook ’n suster se vertroue nes ma-goed se breekgoed stukkend lat val het. Jy het ook dalk een van jou beste pelle virrie dood afgestaan. Moes cold turkey, white knuckle tot al die rook wat jou eens bymekaargehou het, ook soos ammal wie jy liefhet pad gevat het.
Ek sal seker nooit weet nie, Gertjie.
Jy’s al vir amper 24 jaar skoon van interviews, vertel jy en hou een van jou Marlboro Reds uit na my. Met allie vensters oop sit ons twee op die backseat van jou band-member se kar. Ons praat oor ons pa’s. Myne wat sy job as tronkbewaarder moes los om weer gelukkig te kon wees. Joune moes weer die aarde baai sê om vry te kom. Nou is Beaufort ’n anner plek as tevore. Jy verkies om agter ’n toe deur op die tweede vloer van jou flatblock met jou drome saam te leef. Ons sien jou dalk eers weer oor twee jaar as ons lucky is. En ja, maybe sing jy weer dieselle paar songs en dra dieselle orange swysbrille, maar dit sal nie saak maak nie. Want ons sal weer kom. Om net weer vir ’n uur in ’n saal vol mense te kan voel dat ons nie die enigstes is wat met ’n gees vol trapmerke saamleef nie.
My hart is alweer daai witpyp wat ek twee jaar gelede stukkend gesmyt het.
Maar dis okay. Soms moet mens ook die sad songs onthou om jou te remind dat dinge nou beter is. En al skree my sadness nog vir my aande uit die slaap uit soos een wat in die pad staan en vir my wag om uit te kom, te staan vir my dala, my foute te face en af te reken met my verlede, is dit ook okay.
Ons praat oor ons pa’s. Myne wat sy job as tronkbewaarder moes los om weer gelukkig te kon wees. Joune moes weer die aarde baai sê om vry te kom. Nou is Beaufort ’n anner plek as tevore. Jy verkies om agter ’n toe deur op die tweede vloer van jou flatblock met jou drome saam te leef.
Want Gertjie, jou musiek, so rou en seer soos dit is, maak my wee onthou hoe kosbaar als is. Die oё wie my sien vir wie ek is. Die tong of twee wat my die waarheid gee. ’n Arm wat my keer. Iemand wie my remind om aan te hou. Oor ek die kjeent van iemand se gebede is. Oor die Jirre vir my ook moet liefhê, want hoe anners sou ek die woestyn survive het.
Ag jirre, Gertjie.
Help tog voor ek – voor ons – weer na die wêreld vol haat moet gaan. Die fees moet groet. As ek my laaste kers uitblaas, wil ek tog vra:
Balsem my
In Timotei sjampoe
*Die woorde in kursief is lirieke van Gert Vlok Nel, in die volgorde van verskyning: “Tuesday”, “Waarom roep jy my?”, “Rivier” en “Timotei sjampoe”.
Die optrede was op 10 Oktober by The Daisy Jones Bar as deel van die Toyota Musiekfees.




