SPIER TONEEL
'They fuck you up, your mom and dad…'
Produksie: Grootmeisie
Deur: Steyn du Toit
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Rachelle Greeff se bekroonde Grootmeisie kyk met humor én deernis na die letsels wat ouers nalaat, en na die stiltes waarbinne geslagte leer oorleef. Met Daneel van der Walt as Danny Merwe word menopouse, ma-wees en familie-erfenis ’n snaakse, teer en soms ontstellende reis terug na dit wat onder die familiematte ingevee is, meen Steyn du Toit.
Wanneer jy vier is, verstaan jy nie hoekom al die ander maatjies se mammas hulle op die meganiese Dumbo buite Clicks laat ry nie, maar joune ruk jou arm verby dit. In latere jare wonder jy baie oor hoekom dit nie vir haar ook lekker was om ’n mamma te wees nie. Wat het jy dan gedoen wat haar en haar lewe so geïrriteer het?
Veertig of vyftig jaar later begin jy anders na dinge kyk. Jy is nou oud genoeg om jou ouers as mense te sien, eerder as net as die bron van jou lewenslange fokops en foute. Soos jy nou vir jou pa sit en kyk in die truspieëltjie van jou motor op pad werk toe, begin jy al hoe meer wonder oor wat die man, wat toe so oud was soos wat jy nou is, alles in stilte moes dra. Hoe het hy dit vir dekades lank gedoen, met hope meer verpligtinge op sy skouers as wat jy nou oor kla?
Wat ’n mens se kop egter verder breek, is dat ons ouers, en hulle ouers, en hulle ouers, en so aan, in tye gelewe het waar jy nie elke dag jou daaglikse brood in die vorm van ’n skedule 5 bloot kon vat nie. Daar was nie luukse, individuele sielkundige hulp onder wie se bank jy een keer per week jou skoene kon gaan uitskop het nie. Hoeveel mammas en pappas wat bloot swaargekry het, is as gevolg daarvan brandstapel toe, of gelobotomiseer in ’n malhuis omdat hulle nie ook elke oggend kon opstaan met ’n dankbare, stralende gemoed, en gaan help koekies bak vir die basaar nie.
Rachelle Greeff se Grootmeisie, vanjaar se wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys, gaan oor daardie stille gate tussen dit wat mag bespreek word, en dit wat eerder onder familiematte gevee moet word. Die resultaat is ’n verhoogstuk vol verwarring, vol simpelgeit, soms heeltemal te oorweldigend, en, op sy beste, iets wat dieper aanhou sny hoe langer jy ná die tyd daaroor dink.
Danny Merwe (Daneel van der Walt) is ’n wiskunde-opvoeder aan die verkeerde kant van 50 en vir die laaste tien jaar departementshoof by voormalige model-C-seunskool. Die ruggraat van dié stuk word gebou rondom haar verhouding met ’n kleurvolle oudleerling wat oor die jare ’n regte vriend geword het: Maximilian Grootboom (Jefferson J. Dirks-Korkee). Sy nader hom om ’n komiese toneelstuk vir ’n tekspryskompetisie oor depressie en menopouse te skryf.
Ons ontmoet vir Danny sommer so in haar pajamas. Haar vel is droog, haar hakke is kaasrasper-rof en ons hoor grusame detail van haar hormoonhel. ’n Besoek aan ’n ginekoloog met swierige skoene en ’n iPhone wat die heeltyd Grindr-klankies stuur, word uitgebeeld op oordrewe maniere wat my as man behoorlik laat skuins sit het in my stoel.
Baie vroue van ongeveer Danny se ouderdom in die gehoor sit en lag egter met ’n traan, want ek vermoed hulle weet al te goed waarvan sy praat. In ’n onderhoud met Greeff wat ek vooraf gelees het, noem sy dat sy nie nog meer ellende op die verhoog wou uitbeeld nie, en dat dit belangrik was om te wys dat humor dikwels die manier is hoe ons as mense tragiese, pynvolle en oorweldigende oomblikke oorleef.
Die twee spartel soos afvlerk-mossies in die ruimte rond, die een meer ongemaklik en onvanpas as die ander. Lieflike weirdos wat alewig met hulle voet in die mond praat.
Kyk egter mooi. Vlak onder die grappe en random, belaglike goed op die verhoog loop daar egter iets diepers en donkerders. Haar menopouse is vir Danny nie net ’n liggaamlike proses nie. Eerder, haar warmgloede dien as portale wat haar laat terugkeer na haar kinderjare, na Halfdors, ’n dorp “iewers, maar voor Nêrens”, en die mense wat haar grootgemaak het.
Werda, haar ma, was die dorp se voorste danseres. Sy het elke Vrydagmiddag drie koeke gebak: “Een vir die huis. Een in geval hulle oor die naweek gaste kry. En een indien ’n ramp die dorp tref.”
Sy het haar dogter leer wals vir die dag wanneer sy op universiteit “’n man moet vang”, terwyl sy self troos gesoek het in stukke koek, vol suiker en versmoor in Tupperware. Op die oog af is sy ’n eksentrieke, byna komiese figuur. Hoe langer jy kyk – let byvoorbeeld op dat nie een van haar koeke op die verhoog kleurvolle versiering ophet nie – hoe meer sien jy egter wat sy nie sê nie. Depressie is ’n stadige, slinkse skelm.
Greeff gee jou as verwarde vierjarige by die meganiese olifant geen maklike antwoorde nie, behalwe die ontnugterende besef dat sommige mammas van vorige (en huidige) geslagte deur dinge gaan waarvoor daar nie name was of is nie. Jy besef egter nou wel dat jou mamma se irritasie nooit oor jou gegaan nie nie. Dit maak die kind wat jy was nie minder seer nie, maar dit maak jou mamma of pappa wel meer mens.
Gepraat van pappas, Danny s’n is ’n stil figuur in die middel van dié stuk. Dit voel baie doelbewus. Hy kry migraine en dans nooit met sy vrou nie. Op oupa (sy pa) se plaas, tussen die mampoerketel en die gordyne wat voor sononder toegetrek word, begin ons besef waar die fondasie lê van iets wat geslagte lank nie hardop gesê is nie. Vir hierdie doel vind Greeff ’n beeld daarvoor wat jou lank ná die tyd sal bybly.
Die regisseur Lee-Ann van Rooi se Brechtiaanse benadering maak seker dat al vier akteurs heeltyd op die verhoog is. Taljaard en Cloete speel hulself en spring tussen ’n tiental verskillende bykarakters. Hulle onderbreek die spel, lewer lewendige kommentaar, of roep hard uit wanneer Danny ’n woord gebruik wat vandag nie meer gesê mag word nie.
Hierdeur word daar verseker dat lede van die gehoor nooit vergeet dat ons besig is om na ’n toneelstuk met ’n teks, en wat gerepeteer is, te kyk nie. Juis daarom werk dit. Dit is nie vir ons om te besluit hoe Danny – of ek, as kyker, met my eie ingewikkelde verhouding met my oorlede ouers – besig is om haar storie neer te lê en te vertel voordat sy daarmee kan saamleef nie. Die verhoog is bloot die plek waar dit gebeur.
Daar is plek in die teks en vir toekomstige opvoerings om dalk minder popkultuurverwysings en absurde lawwighede te gebruik, en eerder te probeer kyk hoe ’n mens die stiltes en oomblikke tussen die aksie wat die tema nodig het, meer kan ondersoek. Maximilian se eie stryd in die lewe, byvoorbeeld, kry minder ruimte as wat dit verdien. Hoe het sy eie mamma se hartseer die pad agter hom gehelp skep?
Wanneer jou ouers sterf, is dit veronderstel om die einde te wees. Dit is egter nie, en Grootmeisie weet dit. Jy hou aan om verslag te doen aan mense wat nie meer kan hande klap nie. Jy probeer hulle nog trots maak op maniere wat jy dink hulle sou verwag het. Greeff se Danny glo nie vrede is ’n eindpunt nie. Sy word nie ’n grootmeisie op 18 of op 21 nie, maar eers wanneer sy kan sien hoe haar ouers se beste die beste was wat moontlik was. Om dit te sien gebeur, is pynlik en bevrydend.
Grootmeisie
09 Okt. 20:00 | 10 Okt. 13:00 | 10 Okt. 16:00
Open Window Campus




