SPIER TONEEL

’n Liefdesbrief vol bloed en worsies

Produksie: Akrasia
Deur:  Dianne Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Die tragikomedie Akrasia het verlede jaar twee pryse by die Première-teaterfees gewen en maak ’n draai na die makabere wat gehore laat gil van die lag en gril vir die gruwels, skryf Dianne Albertze.

My ma sê altyd rou is nie iets waaroor jy net kan kom nie. Ná al die jare is haar eie ma – my ouma Mollie – se dood nog ’n seerplek. “Jy leer om dit met jou saam te dra,” voicenote sy my. “Memories is op die ou einde al wat ons het.”

In die tragikomedie Akrasia word herinneringe getaxidermize op ’n next level. Kristen Fichardt, die regisseur en medeskrywer, vertel die inspirasie vir die stuk was ’n skryfoefening wat sy in haar honneurs-skryfklas onder leiding van Malan Steyn gedoen het. Hulle moes skryf oor kleintyd, en al waaraan sy kon dink, was die rooi worsies wat haar ma as trooskos opgedis het.

Dis twee sleutelaspekte van hierdie produksie: viennas en ma’s.

Akrasia was verlede jaar ’n finalis by die US-dramadepartement se Première-teaterfees, waar dit die toekennings vir beste regie en beste ontwerp ontvang het. Die stuk het vroeër vanjaar haar feesdebuut by die KKNK gemaak en ook speelvakke by Theatre Arts en Toneelhuis beleef.

Reuben Smith (Heinrich Wentzel), ’n troebel gees, het ’n kunsuitstalling met die titel Rou Moeder waarin hy met Weense worsies hulde bring aan sy oorlede ma – boonop in ’n spierwit, kliniese slaghuis. Behalwe vir die worsies in ’n glaskas verpak as centrepiece is daar ook sykouse wat ingespan word om ’n baarmoeder voor te stel asook ’n stoel wat uit ’n klomp sykouspramme bestaan. Reuben se nerwe is gaar terwyl hy wag om sy huldeblyk-uitstalling aan die wêreld voor te stel, maar niemand daag op nie.

Die arme kwasi-avant-garde kunstenaar se senuwees én geduld is klaar. Ons sien hoe hy ál nader aan die afgrond van sy gedagtes kom, die plek waar twyfel en selfsabotasie broei. Net voor hy moontlik iets simpels aanvang, waai ’n warrelwind die slaghuis binne. ’n Ongeskonde, skaam geelkop, Candice (Ancois Bodenstein), kom daar aan met ’n hortende asem en ’n hart wat oorverdowend klop. Hier begin die eintlike uitstalling dan. ’n Opvoerkuns van praat.

Die twee spartel soos afvlerk-mossies in die ruimte rond, die een meer ongemaklik en onvanpas as die ander. Lieflike weirdos wat alewig met hulle voet in die mond praat. Reuben is so vrekbly iemand het darem opgedaag dat hy nie weet wat om met sy opwinding te maak nie. Tot daar ’n worsie wegraak. O, die heilige worsie!

Die twee spartel soos afvlerk-mossies in die ruimte rond, die een meer ongemaklik en onvanpas as die ander. Lieflike weirdos wat alewig met hulle voet in die mond praat.

Hierna vat die stuk ’n draai na die makabere en bloei etterende wonde van weggesteekte waarheid oop wat die gehoor laat gil van die lag en gril van die gruwels. Fichardt het ’n heerlike donker en twisted verbeelding. As regisseur toon sy baie potensiaal met ’n beheerstheid oor die krenkkonsert. Sy en die medeskrywer en ontwerper, Shannon Hendry, het albei ’n oog vir ontwerp en ’n oor vir dialoog. Die twee spelers los geen worskrummels op die verhoog nie. Hulle flikflooi, verdink en verraai mekaar, twee psigotiese, mensvervreemde oddballs met aweregse quirks. Talk about finding love in a hopeless place!

Ek wonder nogal wat my ma hiervan sou dink. Dalk sou sy nie van die gruheid hou nie. Tog dink ek sy sou die hart van die stuk waardeer, maar nie die letterlike hartklop wat te gou en lukraak soos biltong aan die  storie gehaak word nie. Ek het gevoel Candice se motiewe word te gou weggegee, maar die akteurs se spel het my dié foreshadowing-flater laat vergewe.

Akrasia is ’n unconventional liefdesbrief vol bloed en worsies. Dit sal kykers opnuut anners laat kyk na verlies en verliefdheid en word aanbeveel vir almal wat hou van aweregse en pikswart humor.

Ek sluit af met ’n stukkie uit ’n poem deur die arme Reuben:

Ek dink terug aan tye wat ek nie eers kan onthou

Warm, soet oomblikke toegedraai in jou

Jy het my gevoed, mamma

En nou is jy rou

Akrasia
8 OKT 19:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur
Geen o.14 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn