SPIER TONEEL
Opperman-stuk bedrewe, maar bied nie nuwe insigte
Produksie: Skanse
Deur: Willem Bester
Foto’s: Gys Loubser
In Deon Opperman se Skanse word vyf mense in ’n fortagtige voorstedelike huis bymekaargebring, waar die gesprek stadig van alledaagse geklets na dieper vrae oor taal, veiligheid, identiteit en verlies beweeg. Met ’n gesoute rolverdeling word Afrikaner-angs en die mure waaragter mense hulself verskans oopgevlek, al bied die stuk nie noodwendig nuwe insigte nie, meen Willem Bester.
In ’n fort van ’n huis in ’n fort van ’n kompleks in ’n fort van ’n provinsie… met ’n boud in die oond, wag Simon (Deon Lotz), ’n veteraan van die assuransiebedryf, en sy vrou, Liani (Edrien Erasmus), op hul pas gearriveerde huisgaste: Simon se broer Daniël (Dawid Minnaar) en sy relatief nuwe “partner”, Sasha (Rushney Ferguson). Daniël is terug uit die buiteland, waar hy ’n digitale wandelaar was – sewe jaar, nege lande en 22 stede – met sy eie YouTube-kanaal. Dit is duidelik dat die spanning vlak lê, want Simon en Daniël het in jare nie met mekaar gepraat nie.
Wanneer Daniël en Sasha hul opwagting maak, dobber die gesprek aanvanklik rondom voorstedelike beuselagtighede. Maar onder dié geklets sit ook dieper vrae. Waarom het Daniël die land en ’n huwelik verlaat? Wat is die familiekrisis wat vir die breuk tussen die broers gesorg het? Waarom presies is Daniël nou terug?
Liani lyk na iemand wat net haar mond oopmaak om voete om te ruil. Dit blyk ook sy is deesdae vriende met Daniël se eksvrou, Santa (Marisa Drummond), iets wat Liani nie uit die gesprek kan laat nie. Dit is dan ook nie verbasend dat Santa, oënskynlik op die ingewing van die oomblik, aan die deur klop vir ’n skemerkelkie nie. Wat sal dié besoek alles op die lappe bring?
Vrae oor mense wat “oral” is en dié wat “iewers” is, is universeel, maar Opperman stel kennelik ook belang in vermeende Afrikanerrealiteite – in onveiligheid en agteruitgang, hoe inklusief die kultuur kan wees, hoe taal deel van identiteit is.
Die dramaturg en regisseur Deon Opperman se nuwe stuk, Skanse, plaas hedendaagse kwessies onder die loep. Vrae oor mense wat “oral” is en dié wat “iewers” is, is universeel, maar Opperman stel kennelik ook belang in vermeende Afrikanerrealiteite – in onveiligheid en agteruitgang, hoe inklusief die kultuur kan wees, hoe taal deel van identiteit is. Hier moet ’n mens jou dalk eerder beroep op die meer gelaaide term van “geleefde ervarings”: Een mens se realiteit kan ’n ander se waansin wees.
Dit lyk of Simon en Liani vasgevang is, in hul eie huis (met batterye en ’n garage vol blikkieskos) sowel as in ’n nou en verarmde kulturele en huweliksopset. Liani, byvoorbeeld, weet dis nie aanvaarbaar om te wonder waarom Daniël ’n bruin vrou as metgesel het nie, maar sy kan haar ware gevoelens nie goed genoeg wegsteek nie. Sasha tel die onderstrominge vinnig op; sy is oop en braaf genoeg om Liani daarop te wys. Santa is ook vasgevang in haar hunkering na ’n huwelikskonteks wat nie meer bestaan nie. Hoewel Daniël die swerwer is, is dit hy wat teen die agtergrond van sterflikheid ’n anker soek daarin om sy eie taal te hoor.
As teenpole is Lotz en Minnaar goed gekies vir hul rolle: Lotz as die behoudende en soms brutaal seksistiese Simon, konserwatief maar met dieper strome, en Minnaar as Daniël, die soeker, weldeurleef en gelate oor die lewe. Erasmus en Drummond het moeiliker werk. Nóg Liani, nóg Santa is in enige opsig moderne, bevryde vroue, maar tog is daar ’n mate van simpatie met hul karakters wat op verskillende maniere aan die verlede vasklou en nie volle seggenskap in hul lewensverloop het nie. Sasha is die enigste karakter wat werklik eietyds voorkom, uiteindelik in beheer van haar lot. Ferguson vertolk haar met ’n goeie kombinasie van relatiewe jeug en waardigheid.
Dus, dit is ’n gesoute akteurskorps en hulle beheer die spelruimte goed. Dit is miskien ’n klein dingetjie om te noem, maar dit was lekker om akteurs te hê wat die ouditorium vol projekteer, sonder versterking. Die stelinkleding het gevoel soos ’n kombinasie van Boerebarok en Biggie Best-katalogus, met heiningdraad in die agtergrond – goed vir karakterisering en ’n feesverhoog, sonder om laaste-leksel voor te kom.
Die teks self is bedrewe genoeg aanmekaargesit: Die oorwegend suiwer Afrikaans vloei lekker, suiwer genoeg vir ’n ouskoolse tekstuur wat simbolies is van die portuur wat hier ter sprake is, maar nie so suiwer dat die dialoog té onwaarskynlik klink nie. Daarby behoort die verloop van meer humoristiese aanvang na ernstiger sake kattekruid te wees vir feesgehore.
Dit is tot Opperman se krediet dat hy nie preek nie, maar sy karakters toelaat om hul sê te sê. ’n Mens wil-wil jouself egter afvra of die hedendaagse Afrikaner ’n kultuurgroep is… of ’n diagnose. Skanse bied nie nuwe insigte nie. Hoewel sommige sal aanklank vind by die aanraking van dieper vraagstukke en wat veronderstel is om ’n navrante klimaks te wees, sal ander – selfs al is hulle veels te oud om sulke goed te uiter – soek na ’n goeie Afrikaanse manier om te sê: “OK, Boomer.”
Skanse
6 OKT 13:30 | 7 OKT 15:30
Open Window Campus
R235-R350 | R265-R380 by die deur




