SPIER TONEEL

‘Netphlix’ is chaoties, maar groot pret

Produksie: Netphlix
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf

In Netphlix gebruik Sophie Joans beweging, gesigsuitdrukkings, musiek, die gehoor en ’n paar rekwisiete om in minder as ’n uur deur reekse soos The Crown, Sex Education en Emily in Paris te rits, skryf Ilza Roggeband, wat haar hoed afhaal vir enige jong mens wat die kunste as beroep gekies het en self werk skep.

Chaoties is die enigste manier om Netphlix te beskryf. As gehoorlid weet jy met tye nie of dit georganiseerde chaos is wat veronderstel is om so te wees nie, maar waddehel, go with the flow and all that.

Sophie Joans is die jong aktrise wat probeer om in minder as ’n uur haar gehoor te vermaak met die reekse wat tans op Netflix is. Sy begin deur te vertel hoe haar agent haar opgewonde gemaak het met die nuus dat sy moontlik vir ’n rol in ’n Netflix-reeks oorweeg word. Natuurlik begin sy daaroor droom om ’n kar te koop en finansieel onafhanklik te word, maar haar borrel word gebars wanneer sy nie die rol kry nie en sy erken teater is eintlik haar eerste en grootste liefde.

Met beweging, gesigsuitdrukkings, musiek en ’n paar rekwisiete rits Sophie deur reekse soos The Crown, Sex Education en Emily in Paris. Elke dan en wan word iemand in die gehoor gevra om te kom meedoen. Sommige is onwillig – “jammer, ek het pas ’n heupvervanging gehad” – maar gelukkig is daar altyd iemand wat sal hand opsteek en saamspeel tot groot vermaak van die gehoor.

As gehoorlid weet jy met tye nie of dit georganiseerde chaos is wat veronderstel is om so te wees nie, maar waddehel, go with the flow and all that.

Die tegniese kant van die vertoning was rukkerig. Weer eens weet ’n mens nie of dit so beplan was en of die mens wat daarvoor verantwoordelik was dalk skielik moes instaan nie. Ewenwel.

Sophie het talent. Die produksie het baie potensiaal. Haar laaste woorde oor haar liefde vir die teater tref hard. Lank leef die theatre kids. Mag hulle nooit hulle liefde verloor nie. Ondersteun hulle waar jy kan.

Netphlix
10 OKT 13:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R180 | R210 by die deur
Geen o.14 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn