DISKOERS

Weerskante van die fluweelgordyn

Produksie: Naggesprek: Hoe later hoe teater
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff

’n Paneel kenners, teatergangers, studente, joernaliste en natuurlik akteurs en ander medewerkers in die teaterbedryf het laataand opgeruk na Die Khaya om die orakel van Delphi te raadpleeg oor die stand van die teaterbedryf. Maliza Adendorff het gaan luistervink speel.

In party huishoudings praat mense nie oor geld, politiek of geloof nie, maar in die teater gebeur dit wel. Dis hoe en hoekom “Hoe later hoe teater”, die amptelike titel van die naggesprek wat gefasiliteer is deur Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Teater-inisiatief), verander het in “The personal is political, except in theatre where everything is political”.

Daar is vele probleme en uitdagings wat die teaterbedryf en haar medewerkers, skeppers en deelnemers in die gesig staar – van swak vergoeding tot die regering of minister van kultuur wat nie verstaan (of betaal) nie, tot gehalte wat afneem – maar dié keer was die fokus op die dinge wat ons nie weet nie wanneer ons in ’n teater aantree om iemand se hande- of lewenswerk op ’n verhoog te aanskou.

Die orakel van Delphi het nou wel nie opgedaag nie, maar Cornelia Faasen, Philip Rademeyer, Lara Foot, Kristen Fichardt en Miché van Wyk was daar in haar plek. Hulle het nie doekies omgedraai nie. Ja, daar is ’n fyn lyn tussen “ondervinding” as vergoeding en om te weet wanneer jy misbruik word. Maar die keersy is ook dat jong mense wat teater en goeie toneelspel geniet, as volwassenes dit waarskynlik steeds sal waardeer. Al kan studente dalk nou nie R250 vir ’n kaartjie betaal nie, sal hulle dit waarskynlik kan bekostig as hulle ouer is.

Die verhouding tussen kunstefeeste en kunstenaars was ook onder die vergrootglas aangesien hulle mekaar nodig het en albei vir hulle voortbestaan baklei.

Die keersy is dat jong mense wat teater en goeie toneelspel geniet, as volwassenes dit waarskynlik steeds sal waardeer. Al kan studente dalk nou nie R250 vir ’n kaartjie betaal nie, sal hulle dit waarskynlik kan bekostig as hulle ouer is

Lara Foot het gepraat oor die geweldige veranderinge in die media wat in die verlede deur middel van resensies heelwat blootstelling aan kunstenaars en produksies gegee het. Die feit dat ’n ál groter deel van die plaaslike media (en dus resensies) agter ’n betaalmuur is, verminder toegang tot goeie teater en akteurs (en dit beskerm nie kykers teen slegte teater nie). Tussen die paneellede op die verhoog was seker minstens 100 jaar se ondervinding in die teaterbedryf, maar die klem is toenemend op die rol wat jong mense moet speel. Hóé skep ’n mens jong, nuwe gehore? Hóé kry ’n mens jong mense in die teater? Dit is iets van van onder af gebou moet word deur jong mense self, want van bo af kry hulle mentorskap van ouer mense en die aflosstokkie word mos maar gedurig tussen die geslagte aangegee.

G’n gesprek oor die skeppende kunste of die toekoms van teater sou volledig wees sonder ’n vraag uit die gehoor oor kunsmatige intelligensie nie. Ja, KI kan help om ’n brief aan borge, rade of die regering meer beleefd te laat klink, maar waarom sal ’n mens dit vir kreatiewe werk gebruik? Kunsmatige intelligensie het niks om te verloor in ’n slegte resensie nie en ’n mens maak jou totaal kwesbaar deur KI te gebruik eerder as om self iets te skep.

“Dis lekker om kuns te maak,” sê Kirsten. Om met kunsmatige intelligensie kuns te probeer maak is soos om te vra dit moet namens jou op die gras gaan sit in die son.”

Die uiteinde van die saak? Dis nou maar eenmaal ’n moeilike bedryf. “But we signed up for this.”

 

Facebook
Twitter
LinkedIn