SPIER TONEEL
Spotprent-kabaret bekoor
Produksie: Karamonk
Skrywer: Dianne Albertze
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur
In ’n klein, dog volgepakte teater by Paul Roos het Bianca Flanders ons met ’n kabaret vol geurige spesery-stories bekoor, skryf Dianne Albertze.
Karomonk is die Kaapse woord vir die spesery kardamom. Dit word gewoonlik in eetgoed soos kerries en koesisters gebruik. ’n Smaaklike besigheid, nes die stories wat hier opgedis word. En so op daai noot begin die sjarmante Flanders die stuk ook met ’n song genaamd “I fell in love with a koesister”. Die gehoor hang van die eerste sin af aan haar lippe.
Gelukkig is sy ’n vaardige storieverteller en laat almal tuis voel. Vra om verskoning vir die vloekwoorde en ook haar Engelse tong wat soms sukkel oor die grondpad van Afrikaans. Maar dit steur ’n mens nie eens nie, want jy wil weet wat kom volgende, hoe gaan hierdie kabaret ontvou.
Sewe skrywers se onderskeie stories word in Karamonk opgevoer, elkeen in ’n anner register. Party breek jou binnegoed, ander laat jou lê van die lag. Tog dra alles by tot die regisseur se kenmerkende papierteater of ook genoem kamishibai, ’n teatergenre wat storievertel met tekenprente laat saamsmelt.
Die stories sluit in:
“Pinky’s Penny Polony” deur Mikayla Joy Brown
Pinky is ’n annerste tipe meisie. Haar poniesterte staan net waar hulle wil en sy steek tong uit vir die bulldozers in Hanover Park. Deur haar tog leer sy waardevolle lesse waarvan medemenslikheid haar vir ewig aan ’n stukkie polonie gaan bind.
“Read the room” deur Jemma Kahn
’n Amerikaner en ’n Jozi-local bly saam in Johannesburg. Die twee verskil soos Woolies en Power Fashion van mekaar. Of dalk eerder ’n steak van Spur en ’n lewersosatie op Bellville-stasie.
“Vanishing from the Airport at Night” deur Ronelda Kamfer
’n Dodgy driver kom tel ’n vrou op. Die man is glo ’n recovering alkie vol jitters en kak gedagtes. Die vrou is benoud. Sy sien alreeds haar einde. Soos baie van ons al ons eindes ook gesien het.
“Zip, die Clairvoyant Kat” deur Tertius Kapp
’n Paartjie van Mumbai sit maar elke dag voor die TV met hulle ooremosionele kat.
“Here, here, here, Now, now, now” deur Lebogang Mogashoa
In dié volkslegende gaan ons op ’n grootwordreis met ’n jong seun wat magiese bone eet en ’n baba baar.
Die tekenkunstenaars sluit in Kyle Jardine, Iman Isaacs, Jemma Kahn en Rebecca Haysom.
Flanders se stem vleg deur jou vingers, vat jou hand en lei jou deur die hoeke, draaie, hobbels en tonnels.
Papierteater-kabaret
Bianca Flanders is vir die liedjies verantwoordelik, naamlik “Karamonk Song”, “Agnes”, “Kara Kleintjies” en “Karamonk Reprise”. Tekenprente word ingespan om die stories te help vertel met die mees visueel aanloklike sketse. Dit het my aan die comic novels van Alison Bechdel laat dink – realistiese, cartoon-accessible sketse.
Die medeskrywer en regisseur, Jemma Kahn, het ’n wonderlike styl hier beet: papierteater meets kabaret. Dit bring die innerlike kjeent in ons elkeen uit. Grootmens-cartoons. Maar moenie dink dis spookasem-materiaal hierdie nie, dis gelaagde stories met slim humor. Die stories wissel van monoloë tot prosa wat ’n ekstra laag bied. Kahn het al vantevore wonderlike werk in hierdie styl opgelewer, soos We Didn’t Come to Hell for the Croissants.
Flanders se stem vleg deur jou vingers, vat jou hand en lei jou deur die hoeke, draaie, hobbels en tonnels. Jy breek jou as sy sing van antie Celeste se viskop-breyani en twee-week-oue trifle. Dan bewerk Flanders weer jou traankliere met “Kara Kleintjies”, wat elke hart sal deurboor. Nee kyk, hierrie vrou is gemaak vir kabaret. Sy toor met die alledaagse en trek vir politieke kwessies kleurryke kimono’s aan.
As jy hierrie fees een spice benodig op jou feesbord, dan is dit nou Karamonk!
Karamonk
6 Okt. 15:00 | 10 Okt. 13:00 | 11 Okt. 13:00
Paul Roos-teater
R180 | R210 by die deur




