TOYOTA MUSIEKFEES
‘Liedjies van Laurika’ los ’n knop in jou keel
Produksie: Liedjies van Laurika
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Pierre Rommelaere
Daniel Anderson is besig om stadig maar seker sy naam te vestig as ’n vertolker om slaafs te volg, skryf Ilza Roggeband nadat sy hom en die pianis Paul Ferreira in Liedjies van Laurika beleef het.
Met die produksie Vincent oor die lewe en loopbaan van die kunstenaar Vincent van Gogh het Daniel Anderson ’n paar jaar gelede ’n klein deurbraak gemaak. Op die feeskringloop het mense dit ál meer begin aanbeveel en die stoele het al hoe voller geraak. Later volg The Tramp, ’n sogenaamde mini-musiekblyspel oor Charlie Chaplin, en verlede jaar was Die siel van Eugène Marais aan die beurt.
En nou, by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees, bring hy en die pianis Paul Ferreira Liedjies van Laurika wat presies is wat die titel sê.
Hy vertel sy het Vincent kom kyk en ná die tyd vir hom gesê het indien hy ooit ’n vertoning met haar musiek wil doen, het hy haar seën. Die muses het gekonkel en hier is dit nou.
Daniel, ’n boorling van Oos-Londen wie se eerste taal Engels is, vertel Laurika se lewensverhaal deur haar liedjies. Hy vertel sy het Vincent kom kyk en ná die tyd vir hom gesê het indien hy ooit ’n vertoning met haar musiek wil doen, het hy haar seën. Die muses het gekonkel en hier is dit nou.
Al Laurika se grootste treffers word gesing – van “Kinders van die wind” en “Huisie by die see” tot “Hot Gates” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Soos gewoonlik is Daniel se vertolking uitstekend – al kan ’n mens hier en daar hoor Afrikaans is sy tweede taal – en Paul se begeleiding ’n plesier.
Hierdie produksie, wat sy debuut in ’n volgepakte Drostdy-teater gehad het, het aan die einde die gehoor op hulle voete gehad. Dit het die potensiaal om nie net ’n feestreffer te word nie, maar ’n treffer waar dit ook al opgevoer word. Welgedaan aan Daniel wat Laurika sing dat jy ’n knop in jou keel kry.
Liedjies van Laurika
6 OKT 19:30
Drostdy-teater
R180-R260 | R210-R290 by die deur




