SPIER TONEEL
Juffrou Sally land self in die ‘naughty corner’
Produksie: Ms B-haved
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Verskaf
In die eenvroustuk Ms B-haved gly Sue Diepeveen meesterlik deur die verskillende rolle wat sy vertolk om die chaotiese dag-tot-dag-skoollewe geloofwaardig uit te beeld waarin onderwysers gedurig ’n balanseertoertjie uitvoer tussen ouers, leerlinge, onderwysuitdagings en die kurrikulum, skryf Jo-Ann Floris.
Heel gepas in die week waarin Suid-Afrikaanse onderwysers beloon is vir uitnemendheid, slaan Sally Burkett uit op die verhoog. Sy kan enige en menige juffrou wees wat al ’n mens se pad gekruis het. ’n Bietjie hardegat, baie liefdevol, dra swaar aan haar geduld. Lyk soms oorbluf en op die rand van weghardloop, maar asem in, asem uit, asem in, asem uit, en daar draf sy weer verder deur die dag.
Nou hoe land juffrou Sally (Sue Diepeveen) dan in die ongure posisie dat sy geskors is (sonder salaris!) en nou aanlyn Engelse klasse moet gee om te oorleef?
Skandaal. Sy is in ’n skandaal betrokke. Die WhatsApp-groepe sing: Is dit ’n affair met die hoof? Met dié of daai pappa? Hulle lyk juis so cosy saam. Is haar dissiplinêre verhoor al afgehandel? Hoe oorleef sy? Die bespiegeling keer altyd terug dat Sally mos in ’n seksskandaal betrokke moet wees, of hoe?
Sally verklap niks. Sy wil-wil iets sê, maar voel dis nie haar plek nie. Gou kry ’n mens die idee dat sy iemand wil beskerm, en dit versterk natuurlik die vermoede van ’n seksskandaal En so, terwyl sy in en uit rolle spring, begin ’n mens die kolletjies verbind.
Daar is die helikopter-mamma (letterlik en figuurlik) wat elke dag die skool met haar heli-drone bespied, “because you must have eyes everywhere” en sy kan eenvoudig nie onderwysers met dié rol vertrou nie. ’n Ander se kind mag nie refined sugar eet nie, of enigiets met neute. O, is sy allergies, want daar is niks in haar notas nie? Nee, natuurlik is die kind nie getoets vir allergieë nie, maar…
Ms B-haved word beskryf as ’n komedie, maar moenie verwag om uit jou maag te lag nie. Die humor is fyn en hou jou heeltyd op die dun lyntjie tussen lag, huil en ongeloof.
Mamma met die kind wat nie ’n akademiese uitblinker is nie, zoem soos ’n muskiet in die rondte. Dis tog eenvoudig nie moontlik dat haar dogtertjie nie uitblink nie. Juffrou doen duidelik nie haar werk nie. Mos.
Diepeveen gly meesterlik deur die verskillende rolle teen ’n pas en met energie wat mense skoon uitasem laat. Sy bring die frenetiese, dikwels chaotiese dag-tot-dag-skoollewe geloofwaardig oor waarin onderwysers heeltyd ’n balanseertoertjie uitvoer tussen ouers, leerlinge, onderwysuitdagings en die kurrikulum.
’n Mens kry diep begrip dat selfs uitstekende onderwysers nie gepantser is teen onredelike verwagtinge van ouers en die skool nie. Die simpatie met onderwysers groei verder met die besef dat die skool se reëls in meerdere mate gevestig word deur hoe groot die ouers se skenkings is, hulle vlak van inmenging en hoe ver daar agteroor gebuig moet word om die ouers gelukkig te hou.
Ja, dit is ’n skool, ’n plek van onderrig, maar die twee kernelemente – onderwysers en leerlinge – lê laag op die voedselketting.
Die WhatsApp-groepe hou aan bespiegel. Juffrou Sally hoor en sien alles, want hulle het bietie vergeet sy is ’n lid van al die groepe. Sy hoor die goed wat mense nooit in haar gesig sal sê nie en moet dit verwerk saam met die angstigheid om te wag vir die skool se finale besluit oor haar skorsing.
Wanneer die storie uiteindelik ontknoop en Sally se oortreding belig word, kan ’n mens net jou kop skud. Dit laat dink aan die gesegde dat geen goeie daad ongestraf bly nie. Dis ook ’n ysingwekkende beeld van wat gebeur as dit nie oor die welsyn van die kind gaan nie, maar oor die skool se beeld en om die ouers te paai. Dis ook ’n saluut vir onderwysers wat nie moed opgee nie.
Ms B-haved, vervaardig deur The Drama Factory met Natasha Sutherland as regisseur, word beskryf as ’n komedie, maar moenie verwag om uit jou maag te lag nie. Die humor is fyn en hou jou heeltyd op die dun lyntjie tussen lag, huil en ongeloof.
’n Mens wil vir Sally ’n pleister op die knie plak soos vir ’n kind wat geval het en juffrou troos: “Sjjj sjjjj, alles sal oukei wees”. Uiteindelik besef jy onderwysuitdagings kom in baie vorme, en ’n ouer kan jou grootste vyand word.
Ms B-haved
6 OKT 18:00
Paul Roos-teater
R150 | R180 by die deur
Geen o.14 (T)




