OORSIG

Klassieke smorgasbord bied iets vir elke smaak

Willem Bester
Foto’s: Llewellyn de Wet

Ouverture

Endlersaal

In Handel at Home het Erik Dippenaar, artistieke hoof van die Cape Town Baroque Orchestra, ’n program van kleiner werke deur G.F. Handel (1685–1759) gelei. Vir baie mense sal dié komponis hoofsaaklik bekend wees vir sy veel groter operas en oratoria – veral Die Messias, wat gereeld plaaslik uitgevoer word. Dippenaar het kortliks die agtergrond van die vokale musiek in die program geskets: hoe, tydens Handel se studiejare in Rome, opera tydelik verbied is, maar sulke kleiner werke  toegelaat is – as ’t ware vir “tuisgebruik”. Omdat komponiste van die tyd ook dikwels onder groot tyddruk moes komponeer, was dit ook praktyk om musiekmateriaal te herbruik. Dit was daarom pret om kiemvorms van bekende koordele uit Die Messias in die program te herken.

Die soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi het drie duette, “No, di voi non va’ fidarmi” (HWV189), “Quel fior all’alba ride” (HWV192) en “Va, va speme infida pur” (HWV199) verruklik saam met Dippenaar (klawesimbel) en Cheryl de Havilland (baroktjello) uitgevoer. Kenned en Mkhwanazi is albei bedrewe vertolkers van vokale Barokmusiek. Hulle klankkleure het goed gemeng en hulle hantering van die styl – met goeie beheer van die reguit stemtoon, sonder om stut in te boet – was uitmuntend.

Ingo Müller (barokhobo) is ’n opwindende nuwe (ingevoerde) lid van die plaaslike vroeëmusiekgemeenskap, soos duidelik was in die Sonate in F-majeur (HWV363a). In die kantate vir sopraan, hobo en continuo, “Mi palpita il cor” (HWV132b), was dit opvallend hoe goed die timbre van die barokhobo met dié van Kenned gemeng het. Müller en Kenned het die verraderlike lopies met groot gemak en dinamiese begrip gehanteer.

In die Prelude en Air uit die Klawesimbelsuite nr. 5 in E-majeur (HWV430) het Dippenaar weer eens gewys hy is ’n baie begaafde klawesimbelspeler. Die wêreld se tegniese vaardigheid sou niks wees nie sonder ’n goeie stylbegrip – en dié het Dippenaar boordensvol. Omdat die klawesimbel vergeleke met moderne instrumente meer beperkte moontlikhede het vir dinamiek, het Dippenaar se tydsberekening en fyn benadering tot artikulasie uitgestaan. Knap gedaan aan iedereen!

French Piano Trios

Endlersaal

Die program van French Piano Trios het geopen met die Suid-Afrikaanse première van Ernest Chausson (1855–1899) se Klaviertrio in G-mineur, op. 3, uitgevoer deur Megan-Geoffrey Prins (klavier), Annien Shaw (viool) en David Pinoit (tjello). Dit is ’n aantreklike werk, harmonies opwindend, ferm in die Romantiek geskoei, maar ook met duidelike kenmerke van wat ons vandag as ’n Franse styl ken. Shaw en Pinoit verdien vermelding vir hulle gebruik van ’n slanke toonkleur. In parallelle melodiese materiaal het ’n mens egter gedink die intonasie is effens onseker, maar dit is geensins ’n wens dat dit met vibrato toegesmeer moes wees nie.

Die program is afgesluit met Maurice Ravel (1875–1937) se Klaviertrio in A mineur, M. 67, nog ’n aantreklike en opwindende werk. Prins het uitgestaan vir sy omvangryke spel, en Shaw en Pinoit se begrip van dinamiek en gebruik van die fluitregister was ewenees goed. Dit was ’n indrukwekkende vertolking en aan die einde het ’n mens nog gesoek.

Late (and last) works by Schubert, Brahms and Debussy

Endlersaal

Meer beskrywend kan die konserttitel skaars wees. ’n Mens het die idee gekry dat die pianis Luis Magalhães dit ’n bietjie as ’n herbeskouing van sy eie loopbaan sien: Hy het genoem dat wanneer jy ouer word, jy nie meer so versigtig is nie.

’n Mens gee hom gelyk – en soos ’n mens hom ken, was daar tog ’n tikkie ironie in sy uitspraak – maar tog is dit presies sy beheersde dog moeitelose spel wat deurgaans opgeval het. Byvoorbeeld, in die tweede beweging, gemerk “andante sostenuto”, van Franz Schubert (1797–1828) se Sonate in B-mol-majeur, D. 960 – sy laaste sonate – het dit geklink asof Magalhàes se spel stadig asem ophou en dan weer laat gaan: nié soos iemand wat suurstofnood het nie, maar soos iemand wat mediteer. Dit gaan oor die diepte van sy artistieke intensie.

Verder was vier stukke deur Claude Debussy (1862–1918) op die program, onder meer sy Les soirs illuminés par l’ardeur du charbon (“aande belig deur brandende kole”), sy heel laaste werk vir klavier. Die titel verwys na die koue Europese winter in 1916 en 1917, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, toe Debussy se steenkoolhandelaar dié stuk as betaling aanvaar het vir sy dienste; dit is eers in 2001 herontdek. Magalhães se stille intensiteit in Masques het beïndruk. Die program is afgesluit met 4 Klavierstücke, op. 119, deur Johannes Brahms (1833–1897), ook sý laaste werke vir soloklavier.

The Black Saint and the Sinner Lady

Endlersaal

As daar konsert was wat meer verdien as die sowat 50 mense in die gehoor, is dit The Black Saint and the Sinner Lady, so genoem na Charles Mingus (1922–1979) se eponieme album, wat beskou word as belangrike skakel tussen die avant-garde, en tradisie en modernisme in jazz . Mingus self het gesê: “Forget all my other records.”

Wat betref die kompleksiteit van die materiaal en die orkestrasie, het Martin Zenker, leier van die Charles Mingus Ensemble van die Münchense Universiteit vir Musiek en die Uitvoerende Kunste, die gehoor gerusgestel: “Most people don’t like jazz until they hear it. There is nothing to understand in music.” Hy het ook genoem dat die werk op die vlak van byvoorbeeld Stravinsky se Le Sacre du printemps is.

“The Black Saint and the Sinner Lady” is moeilik om in woorde te beskryf, en ek beperk my tot dié waarnemings: imponerend, kompleks en verg baie bedrewenheid deur die spelers. Die Endlersaal se ruim akoestiek dra by tot my aarseling om baie te sê: Met die versterking van sommige instrumente en die natuurlike luidhuid van saxofone en trompette, was die klankoordaad eenvoudig te erg. Nuanse het verlore gegaan en die individuele instrumente het te dikwels in ’n ongedifferensieerde klankmassa verdwyn. Dit is jammer, want dié werk verdien ’n forum waar sy konstruksie ongehinderd belig kan word.

Die tweede helfte van die program was meer verteerbaar vir diegene wat nie so goed onderlê in jazz  is nie, en ek sluit myself hierby in. Van die werke was “Fables of Faubus” miskien die bekendste, veel ligter as “Black Saint”, maar nie soveel minder kompleks nie. Soos dit ’n jazzorkes betaam, hetelkeen op die verhoog die geleentheid gekry om te skitter in solo-improvisasie.

Die ensemble, wat meestal uit Duitse studente bestaan, is aangevul deur bedrewe musici uit Amerika, Mongolië en Mosambiek – inderdaad getuienis van jazz se universele aanklank. Al die Stellenbosse musiekstudente moes eintlik in die gehoor gesit het… maar hulle was kennelik elders besig, dalk met eksamenvoorbereiding.

Facebook
Twitter
LinkedIn