RESENSIE

’n Spaanse reis, ’n SA première en die einde van ’n era

Naudé van der Merwe
Recuerdos de España, Liedmuses: Boulanger, Bonds & Larsen, en Libertaskoor sing oratoria
Fismer- en Endlersaal
Foto: Nardus Engelbrecht en verskaf

Op die laaste Saterdag van die Toyota US Woordfees het koue onweer buite gewoed, maar die konsertsale was wonderlik warm. Sodra ek Spaanse kitaarmusiek hoor, verbeel ek my ek sit in die gehoor van ’n Almodóvar-fliek en voel dan so gelukkig. Dis natuurlik ’n verwronge gedagte, want Spaanse musiek is uiteenlopend, soos ’n mens kon hoor tydens Recuerdos de España. (Ek dink nie ’n mens wil wérklik in ’n Almodóvar-fliek lewe nie, maar ek kan myself nie help nie.)

Die Stellenbosch-kitaarkwartet – met die hulp die flamencodanser Che Adams – het die gehoor op ’n musikale reis geneem met werke van Torroba, Albéniz en tradisionele Spaanse musiek. Dit het ook Bocherrini en die Brasiliaans-Amerikaanse komponis Clarice Assad ingesluit. Die groep is baie musikaal, maar soms soek ’n mens ’n bietjie meer woema! Die woema is egter verskaf deur Adams, wat duidelik ’n goeie greep op haar ambag het.

Die musikale hoogtepunt was Cuban Landscape with Rain van die Kubaanse komponis Leo Brouwer. Dit beeld baie subtiel ’n reënbui uit, en die ensemble word meesterlik ingespan om ’n unieke klankwêreld te skep.

Tydens Liedmuses: Boulanger, Bonds & Larson het die sopraan Janel Speelman en pianis Pieter Grobler musiek uitgevoer, hoofsaaklik deur vrouekomponiste, wat ’n mens nie gereeld hoor nie. Dit het onder meer die Suid-Afrikaanse première van Amerikaanse komponis Margaret Bonds (1913-1972) se Six Songs ingesluit. Dié werk is gebaseer op tekste van Edna St. Vincent Millay. Bonds was van Afro-Amerikaanse afkoms, en haar werk het die afgelope paar jaar verdiende aandag gekry.

Dis treffende musiek én teks, en Bonds het dit meesterlik verweef:

I know my mind and I have made my choice;
Not from your temper does my doom depend;
Love me or love me not, you have no voice
In this, which is my portion to the end.

Die konsert het ook ’n roerende weergawe van Cantique van die Franse leermeester, komponis en digter Nadia Boulanger ingesluit asook die heerlike Knoxville: Summer of 1915 van Samuel Barber.

Dit is afgesluit met liedere van die Amerikaanse komponis Libby Larsen. Hierdie soort musiek pas baie goed by Speelman se sangstyl. Met sensitiewe begeleiding deur Grobler het dit werklik beïndruk. Die teks, deur verskillende mense, wou ’n mens soms laat lag, soms laat huil. Dié is deur Julie Kane: 

I think I ought to warn you that I hate blond men before you break your heart
I think I ought to warn you that I hate blond men
I hate the greenish gold of their eyebrows and lashes
How they shatter the sun into rainbows

Die Stellenbosch Libertaskoor het amptelik vanjaar vir die laaste keer by die Woordfees opgetree. Hul dirigent, Johan de Villiers, het aangekondig dat hy ná 33 jaar as dié ensemble se koorleier en dirigent gaan uittree. Die koor het sedert 1989 ’n unieke rol in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld vervul en ’n enorme impak op die musikale landskap en ook in die lewens van verskeie koor- en gehoorlede gemaak.

Met ’n saamgestelde orkes het die groep dele uit die Mozart-requiem, Handel se Messias-oratorium en Mendelssohn se Elijah-oratorium uitgevoer.

In ’n stampvol Endlersaal het hulle die lang staande ovasie verdien. Nie net vir hierdie uitvoering nie, maar vir al die musiek deur die jare. Inderdaad die einde van ’n era.

Facebook
Twitter
LinkedIn