ONDERHOUD
Tollie Parton: ‘Ek’s versigtig, maar nie bang nie’
Tydens Covid was hy maar “soos elke ander kunstenaar ongelooflik depressed met die idee dat ons deur almal vertel word ons is laaste op die lys van essentials”, sê Wynand Kotze “En as die wêreld moet vergaan, gaan ons laaste in die bus gelaai word. Daar swot ek vier jaar, en bo en behalwe dat ek klaar geweet het ek is ’n gekwalifiseerde kelner, moet ek toe ook hoor ek is useless. Dis goed wat my pa vir my gesê het toe ek grootgeword het, so dis nie asof ek geskok was daardeur nie – ek hoor dit al vir jare.”
Hy het die pot met “sieldodende” vertaalwerk aan die kook gehou. ’n Vriendin het hom aangemoedig om sosiale media te probeer, maar hy het sy bedenkinge gehad. “Ek dink mense wat social media doen, is verskriklik oppervlakkig en vain en hulle kort ’n lewe. Ek het ook gedink TikTok is hierdie absurde eiland vol stukkende speelgoed, en elke tannie wat Herbalife verkoop, het ’n foon en sê hoe hulle hulle hare was.” Tog was dit uiteindelik vir hom “so cute – ’n oulike groep stukkende mense wat vir mekaar sê hulle is oulik, en dis die enigste plek waar hulle welkom voel. Iets aan die feit dat Afrikaanse TikTok glad nie pretentious was nie, het my verskriklik aangetrek.”
Toe sy eerste video’s traksie kry, het hy anders oor TikTok begin dink. “Die algoritme het nie witbroodjies nie. Iemand soos ek kan net soveel followers kry soos Karen Zoid en Bobby van Jaarsveld. Instagram moet jy eers mense follow voor jy hulle content kan sien. TikTok stuur jou video’s na enigiemand toe, en hulle kan besluit of hulle daarvan hou. Dis wat TikTok so powerful maak, want dit beteken enigiemand kan amper oornag ’n platform kry. Daar is mense wat dit eerder nie moet hê nie, maar dis nou maar een van daardie dinge.”
Dit is ook vir hom belangrik dat daar geen “gatekeeping” is nie. “Jy kan nie almal vertrou nie. Dis goed dat kunstenaars net die grootste gedeelte van hulle narratief kan bestuur. Soveel kere is dit die hoofstroom- Afrikaanse media wat vir jou besluit wie jy is. Dit is hoekom soveel kunstenaars nog in die kas is in 2022… hulle is oortuig dit is wat hulle moet wees. Dit is nie verteerbaar vir hulle gehore nie. Hulle kap die celebs op in sulke verteerbare stukkies en dan moet dit nou genoeg wees. Hulle gehore is kwansuis oorvoed, maar die kunstenaars sit verkramp in ’n woonstel omdat hulle nie regtig hulself kan wees nie.”
Hy meen dinge het nog nie genoeg gevorder nie. “In ’n land vol Afrikaners, in ’n land vol gays is daar altyd so vyf [uit gay kunstenaars] wat mense opnoem. Daar is sóveel [gay] Afrikaanse sangers waarvan ek weet.” Kotze wou met een so ’n kunstenaar ’n podsendingonderhoud doen, maar dié se antwoord was: “Ons kan oor enigiets praat. Moet net nie sê ek is gay nie.” Die ironie vir hom is dat “baie van hierdie feeste, baie van die TV-kanale word bestuur deur mense wat deel is van LGBTQI+-gemeenskap! En selfs hulle is bang vir hulle gehore. Dis nog steeds ’n thing. Ek weet ons wil hê dit moenie wees nie.”
Wie is daarvoor verantwoordelik… mense, kerke?
“Kerke is lankal nie meer relevant ten opsigte van kunstenaars se narratief nie. I don’t think that. Ek blameer die hoofstroom- Afrikaanse media, wat gay, ag man, enigiemand deel van die gemeenskap, nog steeds op ’n verskriklik spesifieke manier uitbeeld. Ons is nog steeds maar eintlik net die raadgewers op TV. Of die haarkappers. Of die flambojante grapjasse. As jy nie snaaks is of kosmaak nie, word jy nie eintlik aanvaar nie. Nataniël? Wonderlik. Maar wat doen hy? Hy gee raad en maak kos.”
Weerspieël dit nie die verskillende opinies en benaderings in die gay-gemeenskap nie? “Ek gee hoofstroom- Afrikaanse media die skuld wat gay mense nie driedimensioneel uitbeeld met lewens buite hulle seksualiteit nie. Sodra hulle op TV kom, is dit die groot fokus: Hulle is gay.”
Kotze wil hom nie as ’n aktivis uitgee nie. Wanneer hy sy seksualiteit op die TV noem, kry hy “letterlik honderde boodskappe” van jong gays op klein dorpies wat vir hom sê hoe inspirerend dit was. “To be present, to be visible, is ongelooflik belangrik. Ek dink net ons moet versigtig wees dat ons dit nie net op een manier doen nie, en dat ons nie elke keer dieselfde voorbeelde noem as ons praat van gay vermaaklikheidskunstenaars nie. Ek claim glad nie – kom ons sê dit net op rekord – ek is enigsins in die liga van ’n Nataniël of ’n Casper of ’n Evita nie. Wat ek wel sê, is dat dit belangrik is dat daar gays in hoofstroom- Afrikaanse media is wat deur hoofstroom- Afrikaanse media beheer word nie. Maak dit sin?”
Oor die breë spektrum van die LGBTQI+-gemeenskap, sê hy: “Hier is my eenvoudige geloof: Solank wat jy glo niemand seermaak nie en nie slagoffers het nie, kan jy glo wat net jy wil. Dis my probleem met baie kerke en gelowe: Daar is soveel mense wat daaronder ly en seerkry… en vermoor en vervolg word. Dieselfde geld vir die grootdak-tent van die LGBTQI+-gemeenskap is. I don’t care what you are; dit affekteer my nie. Ja, ek kritiseer ook dikwels my eie gemeenskap, maar dit doen ek met hulle in ’n vertrek. Ek sal dit nie noodwendig in die publiek doen nie, want ons kan dit nie bekostig nie. Ons het nog nie daai vryheid om onsself te kritiseer in die media nie, want ander mense doen dit vir ons, ander mense buite die gemeenskap.”
Het die landskap nie baie kompleks geraak nie? Daar deesdae baie letters in LGBTQI+…
“Gays moet pasop dat ons nie dít raak wat ons haat in die samelewing wat betref sensuur nie. Maar ek dink daar is darem nou weer ’n teenbeweging, want mense is nogal moeg van die woke-beweging. Selfs ek wat myself sien as ’n liberal, raak nogal moeg van hoe ver dinge gaan. Ek dink dis maar deel van ons DNA as jong mense – wat ek amper nie meer is nie – om kwaad te wees. Ek dink woede is belangrik. Dit het ons uit apartheid gekry en ons regte gegee. ’n Mens moet net pasop dat die woede nie intern raak nie.”
Is hy ooit bang om te ver te gaan? “Ek is ’n drag queen, ’n ‘fopdosser’. Wat daaraan wil jy ernstig opneem? Jy kom kyk nie ’n Angus Buchan-konferensie nie.”
Is daar enige materiaal waarvan hy eerder sal wegbly? “Ek sal nooit grappe maak oor Jesus nie… Ek het op ’n tyd gesê ek sal geen grappe maak oor Steve nie, maar hy het nou so deel geword van die gemeenskap. Ek dink hy is een van ons, actually, want hy het soveel te sê oor die gemeenskap. Nou doen ek goed oor hom, want hy’t begin. En ek is kleinlik. Don’t come for us. We will come for you.”
Kotze dink Hofmeyr is in ’n hoek: “Al wat hom nog soek, is konserwatiewe mense. Hy moet sê wat hulle wil hoor. Ek dink die helfte van die kak wat hy sê, glo hy glad nie. Dit maak van hom ’n lafaard in my oë.”
Kotze was onlangs vir die eerste keer in drie jaar in ’n teaterproduksie. “Dis so ’n cliché, maar dis my favourite thing thing to do. Dit laat jou toe om net ’n teks te kry – en ek weerspreek myself nou, maar vir spesifieke redes – maar die verhoog is die een plek waar ek voel ’n akteur van sy eie narratief kan laat gaan. Ek geniet dit nou meer omdat ek weet as ek daar klaar is, het ek steeds ’n spasie waar ek alles beheer.”
Hy het besluit “as niemand vir my gaan werk gee nie, gaan ek my eie werk skep. Nou toer ek die land. En partykeer is ek in tente wat water lek, en dan in ’n kroeg…” Maar hoe hanteer mense in die platteland hom? “Ek wil nie woord ‘revolusie’ ligtelik gebruik nie, maar daar is my hierdie ‘wave’ as ek kom by ’n klein dorpie en hulle sien hierdie fopdosser. Dit is steeds vir mense fassinerend. Dis vir my wonderlik om te sien hoe hulle my omhels.”
Hy wou as kind ’n dominee word. “Nou preek ek maar seker. Ek het nooit gedink ek gaan myself in die posisie bevind waar ek die fakkeldraer raak vir gay seuntjies op klein dorpies nie. Ek het op ’n klein dorpie grootgeword – gay – en gesukkel. Dit is vir my ongelooflik dat daar seuntjies en dogtertjies is wat sien ek kom van ’n klein dorpie af, met ’n alkoholispa, wat sy lewe van hom gesteel het. En hulle sien dit en hulle gaan: ‘Oukei, ek is tans in ’n horrible situasie, maar daar is seker’ – en ek weet dit klink baie Disney – ‘maar miskien is daar hoop’. Dit maak my gelukkig, want ek weet soms rêrig nie hoekom enigiemand op hierdie aarde is nie, maar sulke stories maak dit die moeite werd vir nou.”
Kotze is nugter oor wat hy doen. “Ek wil net sê ons praat nou baie diep oor hierdie goed. Ek maak poep-jokes vir ’n lewe, hoor. Ek verstaan hierdie gesprek en dis vir my baie lekker, dit het alles begin omdat mense my snaaks gevind het. Dis die wonderlike ding van humor: Mense vertrou jou as hulle vir jou lag. En dan steek jy die mes in, want dan het jy toegang tot die hart. Humor is die beste manier om te preek.”
Aangesien die gesprek aangaan terwyl Sasha La Strange, Kotze se grimeerkunstenaar, aan ’t werk is, dryf die gesprek na wat drag is. “Ek weet baie drag queens dink nie eens ek is ’n drag queen nie, maar ek sal sê drag is mans – of soms vrouens – wat nie omgee wat die wêreld dink nie. Dit is polities. Sonder dat ek my mond oopmaak, sê ek iets. Dis ook puppetry: Die pop kry die skuld vir alles. Want Wynand en Tollie is twee verskillende mense, vir die publiek ook. In Bloemfontein het ’n dertienjarige seuntjie – en ek sal dit nooit in my lewe vergeet nie – toe hy vir Tollie sien, lig hy hand in totale skok… ‘Tannie Tollie!’ sê hy. ’n Dertienjarige seuntjie kan my reg pronounce (sic), nè… ons wat so sukkel met pronouns. Hy sê vir my ‘Tannie Tollie’, nie ‘Oom Wynand’ nie. Wat was jou vraag? Wat is drag? Dis ’n manier vir my om te sê wat ek te bang is om te sê. Ek is te bang om sekere goed te sê as Wynand, en vir een of ander rede word Tollie vergewe.”
Kotze het ses, sewe maande terug eers begin drag. “Ek wou nooit drag nie, want ek kan nie my eie make-up doen nie. Sasha La Strange doen my make-up. Daar is hier en daar ’n drag queen wat sê as jy nie jou eie make-up doen nie, is jy nie ’n drag queen nie. Maar in dieselfde asem: As jy nie jou eie rokke maak nie, is jy seker ook nie ’n drag queen nie, reg? Of jou hare? Dis vir my ’n bietjie hypocritical. Niemand het ’n monopolie op drag nie.”
Drag vir Kotze het met ’n SABC2-program Wat’s die okkasie? begin. Die program moes eindig met ’n partytjie en toe kies hy ’n kerkbasaar. Die vervaardigers het eerder ’n drag show aanbeveel. “Toe doen ek my eerste show, as ’n grap, as ’n drag queen. Daar is sekere goed wat ek sê as Wynand – want ek het ook shows gedoen as myself – en die jokes kry meer reaksie as ’n drag queen as toe ek dit gemaak het as myself! Toe kry ek ’n confidence wat ek nog nooit in my lewe gehad nie. Tollie is die tannie wat ek wou gehad het as ’n kind. Ek sou veilig voel by haar. Want sy is so uitgesproke en bombasties dat ’n mens voel jy kan enigiets wees of enigiets sê by haar, want sy is dan enigiets en sy sê dan enigiets. Tollie laat my toe om enigiets te wees. Dis die confidence wat kom uit ’n plek van veiligheid.”
Benader hy Tollie soos ’n karakter, soos ’n akteur… trek hy haar aan en uit? “Dit voel nie dieselfde as ek ’n rol vertolk nie. As ek klaar is met drag, en ek trek alles uit en haal alles af en ek vee die make-up af – ’n proses van omtrent ’n uur – dan voel ek depressed vir ’n dag. Then something is gone, iets wat ek verlang. En as ek haar gaan haal, is ek opgewonde. Nou sal mense gaan…” – hier raak hy driftig – “ ‘wil jy transition… is jou nou…?’ Glad nie! Ek hou daarvan om ’n man te wees. Ek het nie ’n probleem met mense wat dit nie wil wees nie. Vir my gaan dit oor as ek myself in die spieël sien as Tollie…”
Dan neem Sasha oor: “Dis soos ’n superhero costume. Ek kan nie dit genoeg sê nie. Make-up is a liberating experience. It doesn’t change you. It brings out who you truly are on the inside.” Kotze stem saam: “Dit was my eerste reaksie toe ek myself in drag gesien het: Daar’s jy! Elke druppel internalised homophobia wat daar nog was, het verdamp toe ek myself so sien. Dis die laaste vorm van my evolusie. Die laaste vorm van my gaywees is Tollie Parton.” Dan lag hy baie lekker.
Ons gesels vir ’n rukkie oor Suid-Afrikaanse drag en hoe Kotze Suid-Afrikaanse drag queens verskriklik konserwatief vind. “Hulle is nie gevaarlik nie. A drag queen needs to be dangerous! En as daar nie ’n vorm van gevaar is nie, dan het jy baie mooi rokke en baie mooi make-up. Jy kan dit maar sê, but I know there will be some kind of backlash.”
Oor lokale en geriewe wat nodig is, sê hy: “Daar is ’n disregard vir wat ons doen. Ek dink nie mense al gereed vir wat ’n drag queen nodig het nie. Ek probeer so min as moontlik demands maak, want ek is nog in ’n posisie waar ek maar moet smeek… Ek het ’n verantwoordelikheid om mense te help in die sin van as jy ’n drag queen gaan boek, maak seker die venue is ingerig. Maak seker jy noem my op my drag queen naam, byvoorbeeld. Daar is soveel venues waar as ek opdaag as Tollie, hulle gaan ‘Hallo, Wynand!’ Fok jou! Ek het nie vier ure spandeer om te lyk soos ek lyk vir jou om vir my te sê ‘Hallo, Wynand!’ nie!”
In dié stadium is die groot vraag wanneer gedurende die proses hy amptelik Tollie word? Kotze soek na woorde en dan sê Sasha: “This is big privilege for you to be in this space right now. Daar is nie rêrig mense wat Wynand sien nie. Mense sien eers vir Tollie once she steps out.” Kotze gaan aan: “Jy kry nogal ’n vulnerable gedeelte nou. Want jy lyk altyd op jou lelikste voor jy op jou mooiste lyk in drag. Ek dink vir my – en dit verskil vir elke drag queen – voel ek amptelik soos Tollie Parton as my naels aan is. Dan is die transformasie klaar. Dít en die pruik!”
Is hy ooit bang om te ver te gaan? “Ek is ’n drag queen, ’n ‘fopdosser’. Wat daaraan wil jy ernstig opneem? Jy kom kyk nie ’n Angus Buchan-konferensie nie.” Maar wat van privilege? “Ek is socially aware. Ek probeer my bes om mense nie bewustelik seer te maak nie. Ek lees my gehoor. Ek maak nie altyd dieselfde jokes by elke show nie, want ek want ek kan partykeer aanvoel in my kanaalwater hierdie grappie gaan nie werk nie. Ek gaan nou iets sê wat baie mense gaan afpis: Ek weet mos wat is my intensies. Ek weet mos nou ek gaan nie op die verhoog om rassisties of seksisties te wees nie. Ek maak baie inappropriate jokes, elke nou en dan, oor rasse en gays en alles…”
Maar is dit dan waar ’n mens die streep trek, by intensie? “Jy kan nie intensies sien nie. As jy aangekla word, kan jy nie sê ‘Dit was nie my intensie nie’. Al wat mense het om op te reageer, is wat jy vir hulle gee. Dis onverantwoordelik om nie nou en dan bang te wees vir wat jy gaan sê nie, want jy wil ook nou nie heeltemal net goed begin sê nie. Ek is bewus van die effek van woorde, en ek dink ek maak dit duidelik op my TikTok: Ek het ’n hart.”
Hy vertel van ’n moeilike situasie met ’n steurende kind by ’n vertoning en hoe hy dit hanteer het. “Ek is nie koud en kil nie. Dit ís deel van die act, dat ek hierdie dronk vrou is by ’n troue. Dis die inspirasie vir Tollie… dis half hierdie vrou en niemand weet hoekom sy elke keer genooi word nie.” Hy grinnik. “Maar sy’s daar. Sy’s daar vir die wyn, sy’s daar vir die kos. Sy maak verskriklik… sy sê inappriopriate goed… almal kry skaam. Maar almal sit om haar. So, ek is versigtig, maar ek is nie bang nie. Ek dink dit is maar wat dit is.”