RESENSIE

Musiekdokkies kyk terug, nie vorentoe

Susan Booyens
Die ongetemde stem: ’n Herontdekking van Afrikaanse musiek
Kerkorrel: ’n Dokumentêre film
Neelsie Cinema

“Die uitverkorenes wil my kruisig,

hulle dink ek rape jou…” 

Churchil Naudé rap so oor Afrikaans in die openingstoneel van die dokumentêre rolprent Die ongetemde stem: ’n Herontdekking van Afrikaanse musiek. En voeg dan by: “Die fokken taal gaan nie dood nie.”

Daarna kla ’n bloedjong Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) in ’n argiefopname oor die stand van Afrikaanse musiek: “Ligsinnige goed kry meer aandag.”

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde… En Afrikaans bly swaar dra aan sy bagasie.

Die regisseur-vervaardigers Riku Lätti en Gideon Breytenbach se doel met die dokkie is volgens hulle om “voorheen verdoeselde waarhede van ons musiekgeskiedenis te verken en die kollig op die pad vorentoe te rig”. 

Die ontstaansgeskiedenis van Afrikaanse musiek via boeremusiek, Europese deuntjies, volkspele, volksliedjies en politieke ambisies vir nasiebou word fassinerend belig by monde van Deon Maas en Schalk van der Merwe, laasgenoemde akademies en objektief en Maas soos altyd provokatief en emosioneel.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde… En Afrikaans bly swaar dra aan sy bagasie.

Anton Goosen se meer as vyf dekades in die bedryf bied kosbare materiaal, David Kramer se rol om brugbouer te wees na die oerpraters van Afrikaans is insiggewend, so ook die buitestander-perspektiewe van Shifty Records se Lloyd Ross. Die deelnemers oor die revolusionêre jare sedert die mid-1980’s is al die ou kalante, ’n paar ook al saliger, en dis verfrissend om Tonia Möller, voorheen Tonia Selley oftewel Karla Krimpelien van die Voëlvry-tye, se stem te hoor. 

Koos Kombuis sê hy mis vir Ralph en hy’s nou nog kwaad vir hom (omdat hy in 2002 ’n einde aan sy lewe gemaak het). En bietjie later oor sy stryd om van musiek ’n lewe te maak: “Ek sou eerder Coenie de Villiers wou gewees het.”

Tonia praat reguit oor die doodsnikke van die Alternatiewe Afrikaanse Musiekbeweging: “I suppose it stopped because the people died (eers James Phillips alias Bernoldus Niemand en ’n paar jaar later Ralph). It did what it had to do.”

Later sê iemand: “…en toe kom Steve en toe’s ons terug by square one”.

Oor die ontploffing van Afrikaanse musiek sedert die demokratiese bestel is die Wasgoedlyn-programmakers uit die aard van die saak krities en daar word deur deelnemers verwys na die “strewe vir die laagste gemene deler” en Riku se akroniem wat rym met twak – Kwak, vir Kommersiële Wit Afrikaanse Kultuur. Die stelling word gemaak “Afrikaanse musiek is rassisties”, met voorbeelde van die soort oëverblindery waardeur een of maksimum twee nie-wit kunstenaars vir ’n konsert van leliewit sangers gekies word. Soos Deniel Barry sê, dis gewoonlik “net so een ingekleurde mens soos Refentse”. “Dis tragies as hulle assimileer en hulle aksent afleer.” Churchil voeg by: “Wit bands sing nie political songs nie.”

Daar word gekyk na die bydrae van Oppikoppi, kortliks verwys na die “apartheid” by radiostasies en die rol van bands soos Fokofpolisiekar. Geen woord oor bv. Brixton Moord & Roof Orkes, Karen Zoid of Jack Parow nie, as ek reg onthou. Ook nie die Musiek & Liriek-jare se groot name soos Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Jannie du Toit et al of Kaapse kunstenaars soos Taliep Petersen en kie nie.

Dis bietjie hartseer, baie bisar en tog effe hoopvol as die gryse oorblyfsels van die GBB 27 jaar later saam met Wasgoedlyn-vriende soos die Lätti’s, Churchil en Frazer en Deniel Barry by die Voortrekkermonument gaan optree as die Hervormde Gereformeerde Blues Band. 

Uit die sowat 24 deelnemers is ’n teleurstellende vier vroue – Jolyn Phillips, digter, dramaturg en sanger, praat darem oor stemme soos hare wat steeds nie gehoor word nie.

Met die uitstap wens mens die tyd, geld en energie kon eerder in toekomsplanne as terugkyk, bitterheid en verwyt geploeg word…

’n Paar aande later is ek terug in die Neelsie, weer vir ’n fliek oor Afrikaanse musiek se geskiedenis. In die winter van vanjaar het die rolprentmaker Niel van Deventer, vervaardiger en regisseur van Kerkorrel: ’n Dokumentêre film, met Waldimar Pelser, hoof van kykNET-kanale, vergader om ’n program te beplan nadat hy wat Niel is besef het dis op 12 November 20 jaar sedert Johannes Kerkorrel sy eie lewe geneem het.

Wat ’n pragtige man, en hy praat met soveel empatie, wysheid en waardering oor sy pa se bydrae…

Volgens Niel is dit belangrik om ná twee dekades sy impak op die kultuurwêreld in heroënskou te neem “omdat Kerkorrel verantwoordelik was vir twee bomme wat wit Afrikaners getref het: in die laat 1980’s toe hy as omstrede politieke figuur aan die voorpunt van die Voëlvrytoer gestaan het, en in 2002 met sy skielike selfdood”.

Dis inderdaad bitter ironies dat daar ná sy afsterwe waarskynlik meer oor hom geskryf en gesê is as voor sy dood. Dié fliek sluit natuurlik daarby aan, en die voorskou op die Woordfees nadat dit pas ure tevore voorlopig klaar geredigeer is, is die voorloper tot ’n uitsending op kykNET wat vir November geskeduleer is. 

Synde nog nie die finale produk nie wil ek nie te veel daaroor verklap of dit resenseer nie, maar dis ’n eerbare, volledige poging wat ontsettend verryk word deur ’n wonderlike onderhoud met Ralph Rabie se enigste kind, sy seun Reuben. Wat ’n pragtige man, en hy praat met soveel empatie, wysheid en waardering oor sy pa se bydrae en hoe hy sy emosies weggesteek het, sodat die selfdood vir almal om hom as geweldige skok gekom het. Ook Amanda Strydom, nabye vriendin, se stories en pyn oor haar vriend Ralph is roerend. 

Ander bydraers is onder andere die joernaliste Willem Pretorius, Kerneels Breytenbach en Danie Marais; die sangers en musikante Koos Kombuis, Valiant Swart, Stef Bos, Schalk Joubert, Willem Möller, Jannie Hanepoot van Tonder en Riku Lätti; en Kerkorrel se voormalige bestuurder en vriendin Karen Meiring (later hoof by die KKNK en kykNET).

Reuben meen teen die einde “Kerkorrel is wie jy wil hê hy moet wees”, en dis ’n gepaste manier om ’n waardige huldeblyk mee af te sluit.

Net ’n laaste gedagte: Die volgende staan in die feesboekie by Die ongetemde stem: “Die taal het talle variante, maar die stem van die meerderheid word steeds in die doofpot gestop deur ’n stelsel wat ontwerp is om net een skakering lugtyd te gee.”

Tog kom die kwessie van lugtyd nie behoorlik onder die loep in enige van die twee dokkies nie, en is ’n saak wat hopelik op Karen Meiring en kie se komende Musiek-indaba vir Afrikaanse musiek wat vir 30 November tot 3 Desember op Stellenbosch beplan word, deurgetrap sal word.

Want of dit nou in die vroeë 2000’s voor Kerkorrel se dood was of 20 jaar later, die hekwagterskap oor watter Afrikaanse musiek gedurende veral populêre luistertye op radiostasies gespeel word, blyk steeds haas ondeurdringbaar vir diegene wat nie sogenaamde hoofstroommusiek maak nie – of nie klink (of lyk) soos die gewilde middelmootklank nie. Ja, stromingsdienste en sosiale media maak dit makliker om by jou potensiële mark uit te kom, maar smaakmakers en musieklys-opstellers het steeds geweldige mag om loopbane – en mense soos Kerkorrel of Churchil Naudé – te maak of breek.

Facebook
Twitter
LinkedIn