RESENSIE

Puik paneel, groot gehoor huldig ‘ons voorste advokaat’

Jan-Jan Joubert
The Mandela Brief
Ou Hoofgebou
Foto: Nardus Engelbrecht

Vanjaar se Woordfees het ’n verstommende hoeveelheid  hoogtepunte opgelewer, maar miskien  het ’n maaksel van die geskrewe woord tog die kroon op 2022 gespan, naamlik die bekendstelling van Thomas Grant se boek The Mandela Brief in die Ou Hoofgebou op Saterdag 15 Oktober.

The Mandela Brief handel oor sommige van die belangrikste Suid-Afrikaanse hofsake wat die mees gevierde advokaat van sy tyd, Sydney Kentridge, behartig het. Dit sluit in die Hoogverraadverhoor (1956-1961), die Rivonia-verhoor (1963-1964) en die Steve Biko-doodsondersoek (1977). Ná dié verstommende onreg van ’n uitspraak het Kentridge hom in Londen gevestig waar hy die voorste Londense advokaat (barrister) geword en op die hoogste vlak gepraktiseer het tot op sy negentigste verjaardag in November 2012.

Sydney Kentridge woon steeds in Londen en as hy uitgespaar word, word hy op 5 November vanjaar ’n honderd jaar oud. Die verskyning van The Mandela Brief val hiermee saam en is in Junie vanjaar in Brittanje bekend gestel by ’n luisterryke geleentheid wat deur Kentridge bygewoon is.

Die eerste Suid-Afrikaanse bekendstelling het die Woordfees te beurt geval, net mooi ’n halfeeu nadat Kentridge as spreker die kampus besoek het op uitnodiging van die destydse leierskorps van Maties se regstudente. Die lesingsaal van die regsfakulteit was volgepak.

Prof. Thuli Madonsela van die regsfakulteit het die bespreking ingelui deur te wys op die belang van institusionele geheue (imbongi) in die Afrika-kultuur, en haar vreugde uitgespreek dat Kentridge deur ’n paneel met soveel statuur en ’n gehoor van so ’n groot omvang gehuldig word by “ons Woordfees”.

In die voorsitterstoel was oudregter Johann Kriegler, ontwerper van ons ons land se puik verkiesingsproses en daarna dienend op die bank van die Konstitusionele Hof, pittig, ferm en totaal in beheer van sy uitdagende paneel.

Grant, ’n gerekende Britse barrister, was eerste aan die woord oor sy boek en het onderhoudend vertel hoe dit gebeur het dat Kentridge uiteindelik ingestem het tot die boek, hoe hy sy navorsing gedoen het (volop argiefwerk, insluitend die transkripsies van die hofsake asook Zoom-onderhoude (tydens die grendeltyd) met ’n verskeidenheid vooraanstaande vriende en medewerkers, insluitend die volle paneel.

Hy het ’n onderskeid getref tussen rule of law (oppergesag van die reg) en rule by law (soos in die apartheidsera), maar nie die verskil tussen die twee, of die punt wanneer die een oorgaan in die ander, toegelig nie.

Budlender het ook op amusante wyse vertel hoe dit was om saam met Felicia Kentridge by die Regshulpdienstesentrum te werk.

Die voormalige adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, wat as vyftienjarige in die hof verdedig is deur Kentridge, maar nietemin tronkstraf uitgedien het op Robbeneiland weens die aard, omvang en impak van sy weerstand teen apartheid, het ’n kosbare persoonlike en historiese perspektief op die Hoogverraadverhoor, die Rivonia-verhoor en op Steve Biko gegee. 

Adv. Geoff Budlender het gesê wanneer ’n regstelsel so uitgehol word dat dit soms onmoontlik voel om dit ter aanwending van geregtigheid te gebruik, het regspraktisyns vier keuses: Eerstens kan hulle soos gewoonlik voortgaan en hoop dinge raak beter. Tweedens kan hulle die stelsel van binne rysmier, soos Kentridge aanvanklik gedoen het. Derdens kan hulle die stelsel deur steun en deelname aan politiek en sabotasie probeer omverwerp, soos in die geval van byvoorbeeld Bram Fischer en Albie Sachs. Vierdens kan ’n mens emigreer, soos Kentridge en sy vrou, Felicia, uiteindelik gedoen het. 

Budlender het ook op amusante wyse vertel hoe dit was om saam met Felicia Kentridge by die Regshulpdienstesentrum te werk. Tereg het Kriegler vir Budlender beskryf as “die beste regter wat Suid-Afrika nooit gehad het nie”.

Dit het Gauntlett, wat ’n stewige rol in die wording van die boek gespeel het, aan die beurt gebring. Hy het nege eienskappe uitgelig wat van Sydney Kentridge so ’n eties gefundeerde en doeltreffende advokaat gemaak het: hardwerkendheid, hoë intelligensie, hofvoordrag, kruisondervraging, moed, stem, morele statuur, omgesit in kille woede, ’n element van kunstenaarskap en sy geloof in die Balie.

In vraetyd is Moseneke vanuit die gehoor gekonfronteer oor wat ’n regspraktisyn tans in Suid-Afrika te doen staan waar die stelsel op die oog af in ’n demokratiese regstaat van die hoogste orde hervorm is, maar sake in die praktyk aan’t uittorring is.

Moseneke het gesê hy ervaar ‘n “revolusionêre depressie” oor die huidige stand van sake, en het gesê die vier keuses wat Budlender uitgestippel het, bly geldig. Hy meen elkeen moet, sover moontlik, hier te lande hulle intellektuele kragte aanwend om die situasie te verbeter sodat die staat en die regering se wanbestuur bekamp en die situasie verbeter kan word, sodat die reg gebruik kan word om geregtigheid te bevorder, tot die algemene heil.

Facebook
Twitter
LinkedIn