RESENSIE

Gesteelde lewens, gevonde hoop

Marchelle van Zyl
Girl, Taken
Neelsie Cinema
Foto’s: Nardus Engelbrecht en verskaf

Dis een ding om ’n uitklophoufliek te sien, maar ’n ander om dit saam met die mense te kyk wat die rolprent gemaak het.

Almal ken die storie van Zephany Nurse wat drie dae ná haar geboorte in 1997 uit haar wiegie in die hospitaal verdwyn het. Morné en Celeste Nurse het 17 jaar lank na haar gesoek totdat hulle tweede dogter, Cassidy, in 2015 by ’n nuwe skool in ’n meisie vasloop wat nes sy lyk. Die programnotas verduidelik DNS-toetse het aangedui sy is inderdaad die vermiste dogter. “Zephany, wat grootgeword het as Miché Solomon, is na ’n plek van veilige bewaring geneem, en die vrou wat sy haar lewe lank as haar ma geken het, tronk toe. Miché het egter gekies om by haar ontvoerder se man te bly eerder as by haar biologiese ouers.”

Dit was die perfekte verhaallyn vir ’n Hollywood-lokettreffer: Dogter word ontvoer, dogter gevind, happy ever after. Toe nie. 

Soos Cassidy, Miché se bloedsuster, in ’n stadium baie eerlik bely nadat die familie verder uitmekaar dryf as gevolg van die hofsake, oor en weer beskuldigings en sensasionele mediadekking: “You were not worth finding.”

Ons het almal die saak in die nuus gevolg. Dit het koerant- en tydskrifvoorblaaie oorheers, almal het die hofsaak vuishou vir vuishou dopgehou, die families was aan mekaar, beskuldigings is rondgeslinger, die modder het behoorlik gevlieg en ons het vasgenael gesit en kyk hoe twee families uitmekaargeskeur word. Die verlore dogter wou nie “huis” toe kom nie. 

Soos Cassidy, Miché se bloedsuster, in ’n stadium baie eerlik bely nadat die familie verder uitmekaar dryf as gevolg van die hofsake, oor en weer beskuldigings en sensasionele mediadekking: “You were not worth finding.”

Sjô!

Dolk. In die hart. 

Dié dokumentêr, onder regie van Francois Verster en Simon Wood, is een van die eerlikste, kompleksste, hartseerste en hoopvolste verhale wat ek in ’n lang tyd gesien het. Maar wat die ervaring soveel meer emosioneel gemaak het, was dat die Nurse-familie, vriende en Miché Solomon dit saam met ons gekyk het. Ek het met party tonele senuagtig na die familie geloer om te kyk of almal okei is. Ek as buitestaander ervaar intense emosies van verlies en verlatenheid. Hoe intens en lewensveranderend moet dit vir hulle wees? Dit is eenvoudig ondenkbaar. Niemand moet ooit deur so iets gaan nie. En hulle hét. 

Nie net het hulle die verlies ervaar van die aanvanklike ontvoering nie, maar toe hulle haar ná 17 jaar eufories terug wou verwelkom, is sy wéér van hulle weggeraap. 

Soos Celeste, Miché se ma dit stel: “Ek het haar twéé keer verloor.”

’n Mens kom agter hoe intens elke familielid deur die gebeure geraak – en verwond – is. En hoe Miché in die middel vasgevang sit tussen haar bloed- en grootmaakouers. 

Miché het na die tyd vertel dat sy reg ná die gebeure deur ’n hele span beraders en sielkundiges ondersteun is, en sy kry steeds weekliks berading. ’n Mens kan jou net voorstel hoe dit moet voel as jy die dag agterkom jou ma is nie jou ma nie. “Een dag is sy ’n ma… en die volgende dag ’n misdadiger.” Soos regter John Hlope ook in sy uitspraak gesê het: Miché se grootmaakma het nie net vir Zephany gesteel nie, maar ook haar karakter en identiteit. Die soeke na haar eie identiteit en waar sy haar tuis vind, gaan steeds voort, vertel sy. 

As nuwe familie begin hulle hulle lewens stukkie vir stukkie weer aan mekaar vaswerk. Die fliek begin met ’n vrou wat naaldwerk doen – dit word ’n metafoor vir die fynverweefde verhaal. Uiteindelik is dit ’n fliek oor mense se lewens wat uitmekaar geknip is. Maar dis nie ’n verhaal van wanhoop nie. Daar ís hoop. Al die karakters in die verhaal is broos. Die verhoudinge wat weer gevorm word, is soos verflenterde stukkies lap wat stukkie vir stukkie weer aan mekaar vasgewerk word. Dit gaan nooit weer ’n heel stuk materiaal wees en ’n balrok raak nie, maar dit eindig met die hoop dat dié gebroke mense ’n warm laslappieskombers aan mekaar gaan leef.   

Celeste Nurse en Miché Solomon sit ná die vertoning styf teen mekaar en antwoord vrae. Hulle lyk broos, maar ook rustig. “Ons probeer nog die verhoudinge bou, maar ons beweeg nader aan genesing. Die fliek ontlok steeds baie rou emosies,” vertel Celeste. Sy sit stywer teen Miché. In ’n stadium soen sy haar dogter op die wang. ‘n Mens voel amper skuldig dat jy getuie is van so ’n rou, uiters persoonlike oomblik tussen ma en dogter. 

Die fliek is baie eerlik, en agterna wil mense weet of dit nie nou weer ’n klomp wonde oopkrap nie. Miché sê dit was vir haar moeilik, maar dit was ook goed, want sy het dinge gehoor in die onderhoude met haar Nurse-familie waarvan sy nie van geweet het nie. Sy het byvoorbeeld nie geweet hoe haar ma en pa aanhou soek het na haar nie. 

Celeste sê die dokumentêr het vir haar ’n mate van genesing gebring. Dit wys ook dat daar twee kante aan elke verhaal is. Almal is deur trauma. “Toe ek die dokkie die eerste keer sien, het ek hoop gesien en het ek genade gesien.”

Miché se boetie, Joshua, bieg agterna skaam: ‘I’m glad we found you.”

En die gehoor stap met rooigehuilde oë by die teater uit. Met baie hoop. 



Facebook
Twitter
LinkedIn