BOEKGESPREK
‘My pa is nie net dood nie, hy’t geléwe!’
Susan Booyens
Boekklub: ‘Mr Entertainment’ Taliep Petersen
Hofmeyrsaal
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur
Taliep is dood. Lank lewe Taliep.
Donderdagaand was die Hofmeyrsaal volgepak met familie, vriende, boekmense en belangstellendes vir Lapa Uitgewers se spesiale Boekklub-bekendstelling van Paula Fourie se biografie Mr Entertainment: The Story of Taliep Petersen. En wat ’n aand was dit nie. Sekerlik een van die lekkerste maar ook mees emosionele bekendstellingsgeleenthede in jare. Aan die stuur van sake was die bekwame Sylvia Vollenhoven, bekroonde joernalis, dramaturg en filmmaker.
Die boek, wat ’n dekade gelede begin het as die tesis vir Paula Fourie se PhD in musikologie aan die US, gee volgens die uitgewers aan talle mense wat Taliep persoonlik geken het ’n stem: sy familie, vriende en medewerkers, en stap terug op “Mr Entertainment” se pad van Distrik Ses en die Kaapse Klopse af, deur die struikelblokke van die apartheidsjare tot sukses in Londen se West End en daarna. Die kollig val ook op sy samewerking met kunstenaars soos David Kramer, sy gesinslewe, tragiese einde en die nadraai daarvan. Taliep was ’n komplekse mens met ’n invloed wat steeds in ons vermaaklikheidswêreld weerklink. Paula het uiteindelik meer as 50 onderhoude gedoen om die leser ’n veelkantige blik op sy lewe en Suid-Afrika se moeilike geskiedenis te bied.
Voor die gesprek begin, sing Taliep se talentvolle kinders Jawaahier en Ashur hul pa se trefferliedjie “Queen of Hearts”:
“Love has been a gamble,
I have lost and I have cried
But I will play just one last time
And know at least I’ve tried…”
Op vroliker noot kry die akteur Jody Abrahams, wat op 11 sy verhoogloopbaan met die rol van “Broertjie” in Taliep en David se District Six: The Musical begin het, die gehoor eers bietjie aan die heen-en-weer sing voor sy voorlesing uit die boek.
Sylvia val daarna met die deur in die huis en takel dadelik die olifant in die vertrek: Die feit dat Paula wit is, glad nie vir Taliep voor sy dood op 16 Desember 2006 geken het nie – en dan is daar die kwessie van kuturele toe-eiening…
Paula, getroud met die dramaturg Athol Fugard, wat ook in die gehoor was, is medeskrywer van sy nuwe drama Concerning the Life of Babyboy Kleintjies en is duidelik voorbereid op al die voorbehoude. Sy verduidelik hoe sy haar doktorsgraad oor Taliep se musiek juis aangepak het om historiese wanbalanse reg te stel, en dat sy baie moes dink oor dié sake. Taliep het volgens haar self die grootste gedeelte van sy lewe gewerk om kleurgrense te probeer afbreek, en die mens wat sy deur haar werk aan die boek leer ken het, “sou nie wou gehad het ek moet terugstaan vir die uitdaging omdat ek wit en Afrikaans is nie”. Dit het baie dink geverg, en dis een van die redes hoekom die proses so lank gevat het, “because how can a book ever do justice to the life of a person, never mind a person who was repressed for so long in his life through the population group that I belong to”.
Ook op die verhoog was die immer energieke en gevatte Kaapse verhooglegende Terry Fortune. Hy was baie lief vir Taliep, hulle was lewenslange vriende en het lank saam getoer, die flambojante queer drag artist en die straight Moslem-gesinsman.
“En dit kan net gedoen word as mens baie hard daaroor dink, en dan nou maar te waag om dit te doen so goed as wat jy kan. Ek het nou die dag woorde raakgelees van Kwame Anthony Appiah, die filosoof, about writing about the experiences of others, and it came down to this thought: That writing will be justified if what you write has value.” En sy hoop dis wat sy kon regkry. Ja, sy’s wit en Afrikaans, maar solank jy nie probeer wegsteek dat dit so is nie. “Everything is imperfect. This book is an attempt.”
Paula vertel daarna hoe sy en Taliep se pa, Boeta Diempie (Mogamat Ladien Petersen, vir 50 jaar ’n taxibestuurder en sedertdien op die ouderdom van 91 oorlede), mekaar gevind het nadat sy aanvanklik onseker was oor hoe sy hom moet aanspreek.
Ook op die verhoog was die immer energieke en gevatte Kaapse verhooglegende Terry Fortune. Hy was baie lief vir Taliep, hulle was lewenslange vriende en het lank saam getoer, die flambojante queer drag artist en die straight Moslem-gesinsman. Terry het Paula gekomplimenteer met haar deeglike navorsing en al die nuwe dinge wat hy oor iemand wat hy so goed geken het kon leer, hy reken net die boek kon miskien Taliep se “fun side” beter uitgebeeld het. Volgens Terry is daar nog baie stories wat hy oor Taliep kan vertel, “but these stories are safer to be swept under the carpet!”. Die gehoor het lekker gelag toe Earl September, digitale redakteur van die koerant Son, later probeer het om een van dié sappige brokkies uit Terry te kry en hy laggend maar ferm geweier het.
Die emosionele hoogtepunt van die aand was sonder twyfel Taliep se dogter Jawaahier, Suidooster-ster, aktrise, sangeres en opgeleide kliniese maatskaplike werker, se eerlike antwoorde op Sylvia se vrae. Soos ’n “true academic” het sy heel eerste die resensies gelees, maar erken ruiterlik: “I couldn’t bring myself to read all of it yet. It’s hard.” Sy’t haar pa voor haar 21ste verjaardag verloor, en hy was vir haar soos ’n mirage sedert sy dood. Maar Paula, wat haar deurlopend op die hoogte van die vordering met die boek gehou het en met wie sy duidelik ’n baie goeie verhouding het, “brought the mirage back to life”. “Ek het gedink ek kan nie meer huil nie. Was I wrong…”
Mense is geneig om Taliep deesdae meer te onthou vir die tragiese omstandighede van sy dood, maar Jawaahier sê die boek bewys ‘that he LIVED’.
Jawaahier het tevore haar pa gesien as “an unhealed wound”, maar ná die boek “as a human being”. Mense is geneig om Taliep deesdae meer te onthou vir die tragiese omstandighede van sy dood, maar Jawaahier sê die boek bewys “that he LIVED. He didn’t just DIE. That’s my pa. Baie tramakassie, Paula. Shukran. Your book is going to keep him alive!” Teen die tyd dat Paula “Thank you for trusting me!” uitkry, is almal op die verhoog en talle van die familie en gaste in trane.
Die res van die gesprek het op ’n aansienlik ligter noot geskied, met Terry en Jawaahier veral wat die mense by tye ook laat skater het. Taliep wás immers ’n entertainer!
Dis asof daar op dié aand ’n gemeenskaplike rouproses en katarsis was wat almal tot dusver ontwyk het, sê die aktrise Annamart van der Merwe ná die tyd op haar wyse, rustige manier. Dié boek en sy bekendstelling was die soort viering van Taliep se lewe wat mens op ’n gedenkdiens sou wou doen, maar gegewe die manier waarop hy dood is en private begrafnis die dag daarna, toe nooit gebeur het nie. Dis nou tyd om sy lewe en nalatenskap te vier. Lank lewe Taliep.