RESENSIE

Daar’s klitsgras in die wolkombers

Susan Booyens
Onder woorde
Drostdy-teater
Foto: Pierre Rommelaere

Dié produksie nooi jou om snoesig onder ’n warm woordkombers te kom lê, en die gehoor lyk inderdaad of hulle by tye salig op die wieke van lieflike musiek en digkuns wil wegdryf, maar daar is helaas ’n paar krapperighede in die wol wat die “krismisbed van klank” minder knus maak. 

Willem de Swyger is ’n voltydse regsgeleerde op Stellenbosch wat onder sy skuilnaam al verskeie gedigte aanlyn gepubliseer het. Hy skryf ook liedjies en sing sedert hy as tiener deur Koos du Plessis geïnspireer is. Dit is duidelik ’n jare lange droom van hom om die verhoog met groot name – en stemme! – soos die legendariese uitsaaier-stemkunstenaar Nic de Jager, die veelsydige aktrise-musikant-omroeper Frieda van den Heever en die kitaarspeler-sanger Deon Meiring van Glaskas- en Dans Dans Lisa-faam te deel. Sy konsep vir Onder woorde is basies ’n voorhuiskonsert met gedigte en liedjies wat ’n musikale reis uitbeeld om saam te probeer sin maak van ons ondermaanse bestaan. 

Die uitreiking van Willem se eie CD, Kaalvoet (2019), het hom in aanraking gebring met mede-woordliefhebers soos Nic, Frieda en Deon. In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet, waar verskeie van sy gedigte verskyn, verduidelik hy hulle samewerking só: “Ons probeer aanhoudend om fasette van ons leefwêreld, brokkies van ons binnewêreld, onder woorde te bring. Sáám bring ons beter onder woorde of onder beter woorde as wat ons op ons eie kan vermag.”

Die statige Nic lees op sy weergalose, gedrae manier gedigte van grootkanon-digters soos N.P. Van Wyk en W.E.G. Louw, Breyten Breytenbach en Fanie Olivier; Frieda vertolk agter die klawers toonsettings van verse van onder andere Stephan Bouwer, Antjie Krog en Petra Müller meesterlik en roerend; en Deon se fyn kitaarspel en hoë tenoorstem vul haar aan in pragtige harmonieë en beïndruk met sy eie emosieryke musiek en vertolkings. Willem se amateurversies en liedjies, daarenteen, onder meer een oor sy oom wat poog om ’n soort “Stuur groete aan Mannetjies Roux” te wees, steek ongelukkig skerp af in die teenwoordigheid van soveel professionaliteit en gedugte digterskap. ’n Mens moet seker sê hoede af aan die groot man in die hoed vir sy oormoed en chutzpah. Hy’t sy droom bewaarheid, maar hulle sê mos wees versigtig waarvoor jy wens.

Die voorlesings en vertolkings is meestal pragtig en gewyd, maar die onvoorbereide skakelteks en storietjies tussendeur is onnodig en lomp – in slordige, gemengde taal. Dit breek die magiese oomblikke keer op keer. Dit sou beter werk as die oorgange tussen gedigte en musiek naatloos kon gebeur deur byvoorbeeld bloot die inligting agter op ’n skerm te projekteer. ’n Mens het ’n asemteug of twee se stilte nodig, en dan die klank van klavier of kitaar – nie ’n atmosfeer-verbrekende geselsery nie.

Ek skat as jy konsert hou in jou eie voorhuis of by jou eie CD-bekendstelling, is vriende en familie hoflikheidshalwe verplig om dit te verduur as jy jou vrypostige tienjarige dogter wat jy “Prinses” noem (eintlik gedoop Karla, soos Koos Doep se dogter) in ’n glinsterrokkie opdress om vir die mense ’n gediggie op te sê en saam met Pa sy liedjie oor jou “Pers trapfiets” te sing. Maar ai, as ek nie my oë moes toeknyp uit suiwer mortifikasie nie, sou ek die gesigsuitdrukkings op die ander kunstenaars se gesigte wou sien. Om internasionale voorbeelde te gebruik: Dit het gevoel of jy by ’n Leonard Cohen- of Bob Dylan-konsert is wat twee keer deur die kindersterretjie JoJo Siwa in haar blinkertjies onderbreek is…

Hoe vertaal ’n mens “a bridge too far”? Die laerskoolkonsert-oomblikke laat Onder woorde by tye gevaarlik na aan die vlak water beland. Die seilskip Willem de Swyger het in 1863 by Ryspunt aan die Overbergse kus – tussen Skipskop en Waenhuiskrans – gesink, en die boegbeeld is in die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum. Dalk moes die gelyknamige aspirant-sanger-digter daarop ag geslaan het.

  • 16 Oktober om 19:30 by die Drostdy Teater. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn