RESENSIE

Woorde wat 'slam'

deur Nadine Petrick
Produksie: Worldplay
Foto’s: Breniann Labuscagne, Pierre Van Vuuren, Twane Grobler

Ek ry Daisy Jones toe gist’raand. Dis die pad wat ek vir 13 jaar huis toe gery het, maar nou ry ek verby die hekke van die kompleks, want ek bly nie meer daar nie. Ek ry verby om na Worldplay te gaan kyk en ek moet bieg, ek weet nie eintlik waaroor dit gaan nie. Ek ry en ry en dit voel verder as gewoonlik, maar dalk is dit die wyn se skuld. Die wyn wat ek saam met ou vriende op die dorp gedrink het. Ons het gelag. So ’n bietjie geskinder en nog meer gelag. Ek stop uiteindelik by Daisy Jones. Daar is min karre, nog minder mense binne, ek groet vir Gustav en gaan sit met my whiskey op ‘n wit plastiekstoel, alleen in my ry. 

Op die verhoog sit vyf musikante. Net een meisie, haar naam is Bronwen, mooi, met lang krulhare, sit sy, stage right. Daar is ook ’n tjello en djembes en iewers agter die gordyn roer Toast Coetzer met ’n Pangolin-mus. Hulle begin, die Daisy is donker en die verhoog is rooi en iemand praat al op die maat en ek wonder of dit net ek is, maar dit voel soos ’n droom. Die musiek is mooi en ek verbeel my as Peter Gabriel hier was, sou hy sy kop goedkeurend geknik het en dalk vir hulle ’n CD wou maak, maar dalk is ek net in ’n romantiese bui, want whiskey en wyn en foto’s van Jakarandas uit Pretoria stem my soms so. Een na die ander verskyn en verdwyn die poets van die nag, die spoken word poets van die nag. Hulle slam en slam en ek voel effens gerook, maar dit kan nie wees nie, want ek sou tog geweet het. 

Ek skryf van die reëls neer vir later se gebruik in ’n WhatsApp of ’n poging om te onthou waaroor dit als gaan. “Bring the spirits of the water back to life” en “How do you stash that which you do not have” en “What are you hiding?” Ten spyte van myself raak ek invested in die musiek en die slam en die donkerte en die woorde, want as ek eerlik moet wees is ek dom met gedigte, maar “I’ve known my fair share of magic” en “I have been with grace”. Ek skryf my eie slam terwyl Toast met rook en ’n tjello ’n ding voorlees wat my amper tranerig maak, maar ek weet nie hoekom nie. 

Ek stuur my eie slam na Pretoria, “Praying for a plot twist”. Skielik is daar ’n kind op stage, met skoolklere aan en sy het iets gewen sê Jaco, ’n kompetisie vir WOW, want ons almal weet mos, Woorde Open Wêrelde en sy is skaam, die Mia-kind, totdat sy begin lees, saam met die musikante wie se name ek nie almal kan onthou nie, maar dis okei, want dit staan iewers in die program, op bladsy 140. “Djy’s oorgenoeg, Kalid kin’ ” en “Djy moet ma’ stek wies”, slam Mia my asem weg en agter my sit haar ma en eet tjips en is trots, ek kan dit hoor. Oral om my lê ‘slapende honde’ en ek kyk rond in die donker Daisy of ek vir Bibi sien, met haar slapende babahond of haar kêrel, maar ek sien net vir Gustav wat by die bar staan en luister. 

Een na die ander slam die poets en die musikante help van agter en ek sit en dink “My heart is hers for the ravishing”, want die man op stage sê dan so en wie is ek om te stry. Ek wil nie hê die aand moet ophou nie, maar ek wil huis toe gaan om ’n WhatsApp te stuur om te sê lekker slaap, en onthou “Jesus is not the only one that deserves resurrections”. Ek klim in my kar en ry na my blyplek toe, verby die hekke waar ek vir 13 jaar ingedraai het, daar waar ek soms lê en verlang het na aande soos vanaand met slam poets en mooi musikante en rookmasjiene in die Daisy. En ’n boodskap op my foon van Jakarandas in Pretoria en ek wat myself verbeel dat ek kan dig soos die proper poets van die nag. Soos die slam poets van die nag. 

Maar ek kan nie. Ek maak maar net soms so.

*Dié Worldplay-sessies word aangebied in die styl van ’n speletjiesprogram waarin digters en musikante voor ’n gehoor saamspan. ’n Paar van Suid-Afrika se uiteenlopendste digters is aan die woord om, in samewerking met innoverende musici en klankontwerpers en -tegnici, die mikrofone én die gehoor aan die brand te steek. Hierdie betowerende sessies is een van die opwindendste kunsvorme wat ’n blik gee op die Suid-Afrikaanse psige.

Facebook
Twitter
LinkedIn