Twee-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die negende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel. Dit sluit pennevrugte in van gedugte skrywers soos Frederik de Jager, die bekroonde joernalis Murray La Vita, en Daneel Jantjies wat laasjaar gekies is vir die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool.
“In nege jaar het die kompetisie wat die basis van die Woordfeesbundel vorm van krag tot krag gegaan, met 368 inskrywings wat vanjaar ontvang is. Soos voorheen handel die verhale oor ’n wye verskeidenheid temas, maar wat veral uitgestaan het, is die tema van die moeder. Dit strek van die konvensionele beskouing van moederskap tot ’n allesoorheersende moederfiguur deur middel van kunsmatige intelligensie, sowel as ’n paar verhale wat oënskynlik geïnspireer is deur die tragiese verdwyning van die sesjarige Joshlin Smit van Saldanha. Op dié manier word die bundel nogmaals ’n akkurate weerspieëling van die tydsgees waarin ons leef,” sê Suzette Myburgh, wat reeds sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
Die ander twee beoordelaars was die bekroonde skrywer Valda Jansen en die akademikus en vertaler Marius Swart.
Lynthia Julius, bekroonde skrywer van die digbundels Kinderlê en Uit die kroes, beskryf die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel as een van die grootstes in Suid-Afrika vir die kortvertelling, en wat voorste skrywers lok en die gehalte van inskrywings verhef.
Die bundeltitel is altyd dieselfde as die Stellenbosch Woordfees-tema. Vanjaar is dit Speel, wat aansluit by die spontaneïteit en vryheid waarmee skrywers aangemoedig word om die kompetisie te benader.
“Die EasyEquities Skrywersfees is steeds die hart van die Woordfees en die kortverhaalkompetisie die juweel in die Woordfees-kroon. Wat ’n plesier en voorreg om weer vanjaar soveel nuwe stories te ontvang wat die Afrikaanse leefwêreld verdiep en verbreed en ’n literêre tydsdokument is,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees.
Die algehele wenner sal op 28 September by die bundelbekendstelling gedurende vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig word. Die wenner kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 die fees ondersteun as naamborg van die EasyEquities Skrywersfees. Elke skrywer wat in die bundel opgeneem word ontvang R5 000, asook ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê.
“EasyEquities is trots om weereens die skrywersfees by die Woordfees 2024 te ondersteun. As ’n platform wat daarop gemik is om belegging toeganklik te maak vir almal, deel ons ’n passie vir die bevordering van kennis en kreatiwiteit. Ons glo dat literatuur, net soos belegging, ’n kragtige manier is om die wêreld om ons te verstaan en te beïnvloed. Die negende Woordfeeskortverhaalbundel is die perfekte voorbeeld hiervan. Ons vier die talent en inspirasie van alle skrywers wat in hierdie jaar se bundel ingesluit is. Julle stories verryk ons lewens en inspireer ons om groter drome te droom en dieper te dink. Dankie dat julle die mag van die geskrewe woord met ons deel,” sê Carel Nolte, bemarkingshoof van EasyEquities.
Ook die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak.
Skrywers wat in vorige Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundels opgeneem is en vanjaar weer ’n verskyning maak, sluit in Erla-Mari Diedericks, Ryno Eksteen, Emile Joubert, Michèle Meyer, Ilse Schoonwinkel Pauw, Belinda Nel en Kobus Grobler.
Die skrywers wat in die 2024 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:
Marius de Bruyn
Frederik de Jager
Erla-Mari Diedericks
Stephanie du Toit
Ryno Eksteen
Martelize Faber
Kobus Grobler
Daneel Jantjies
Emile Joubert
Murray La Vita
Michèle Meyer
Belinda Nel
Solet Scheeres
Sandy Schoeman
Ilse Schoonwinkel Pauw
Jonita Swart
HP van Deventer
Ilse van Staden
Jan Vermeulen
Hannes Visser
Theo von Solms
Rentia Weber
Vir verdere inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Candice Jantjies by candice@woordfees.co.za. Meer besonderhede oor die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalkompetisie hier.