Dit is tyd vir die tiende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel-kompetisie. 

Hierdie bundel het ’n literêre instelling geword en “dien as ’n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees weerspieël met elke oes kortverhale”, sê Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees. 

Vorige wenners sluit in die bekroonde Lynthia julius, en die skrywers Michèle Meyer, Clari Niemand en Hendie Grobbelaar se wenverhale is elk tot Silwerskermfees-kortfilms verwerk. 

“Met die tiende bundel bereik ons ’n mylpaal. Ons vier die uitstaande werk van meer as 200 skrywers wat al in die bundel opgeneem is, en sien uit na nóg ’n gerf besonderse verhale vir volgende jaar,” sê Suzette Myburgh, die sameroeper van die keurderspaneel sedert die instelling van die kompetisie in 2016. 

Die skrywer van die wenverhaal sal prysgeld van R30 000 ontvang met die komplimente van EasyEquities. Die res van die skrywers wat in die bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 kry, ook met die komplimente van EasyEquities. EasyEquities is ’n maklike, veilige en vinnige manier om in ’n verskeidenheid van opsies te belê – beide in Suid-Afrika en die buiteland. Lees meer by easyequities.co.za

Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal gedurende Julie 2025 in die media bekend gemaak word. Die wenverhaal sal tydens die bekendstelling van die bundel by die 25ste Stellenbosch Woordfees in 2025 aangekondig word.

Die bundel sal oudergewoonte die jaar se feestema as titel hê, maar die feestema sal eers in 2025 bekend gemaak word. Die kortverhaalskrywers wat aan die kompetisie deelneem, hoef egter hoegenaamd nie die feestema in ag te neem nie en kan skryf waaroor hulle wil.

Kompetisiereëls en -riglyne vir inskrywings:

Sluitingsdatum

Inskrywings sluit om 17:00 op 1 April 2025. (En nee, dis nie ’n Gekkedag-grappie nie.)

Inskrywings wat later as 17:00 op 1 April 2025 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word, maar let wel: eers vanaf 1 Februarie 2025.

Klik hier vir die aanlyn inskrywingsvorm en meer besonderhede.

Klik hier vir meer inligting oor die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel-projek.

Navrae kan per e-pos aan bemarking@woordfees.co.za gerig word. Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.

Ts&Cs apply. EasyEquities is an authorized FSP (FSP22588), a registered credit provider (NCRCP12294) and a licensed ODP (ODP44).