’n Begin

‘ ’n Begin’: Akteurspaar verken moderne verhoudings in Jhb

Die bekroonde akteurspaar Cintaine Schutte en Carel Nel speel volgende jaar in Johannesburg weer teenoor mekaar in ’n Begin – ’n aangrypende en delikate ondersoek na moderne verhoudings.

Dis die vroeë oggendure in die nadraai van haar nuwe plek se daknatmaak. Hy is die laaste oorblywende gas. Die plek is ’n gemors en hulle ook… 

’n Begin is die veelbesproke Nico Scheepers-vertaling van die Britse dramaturg David Eldridge se Beginning – deel een van ’n trilogie wat in 2017 by die Royal Theatre in Engeland gedebuteer het met ’n uitverkoopte speelvak. Eldridge se toneelstuk – ook skerpsinning en komies – vra vrae oor wedersydse eensaamheid, konneksie, menslikheid en intimiteit.

’n Begin het by die 2024 Stellenbosch Woordfees gedebuteer onder regie van die bekroonde Tinarie van Wyk Loots, waar dit met skitterresensies ontvang is. Schutte is die kreatiewe vervaardiger. 

Laetitia Pople, nasionale kunsredakteur van Netwerk24, skryf “dit is flirty, modern en eg. Daar is diepgang en sielkunde wat verhoudings deurgrond in ’n paar sekure kwashale van die skrywer. Als onder die sensitiewe leiding van Tinarie van Wyk Loots”. 

Estelle Terblanche benadruk op LitNet die sterk teenwoordigheid van temas soos “eensaamheid, onafhanklikheid, seksisme, verantwoordelikheid, besluite en nagevolge”, terwyl dit steeds “ ’n verfrissende produksie” is. 

Herschelle Benjamin se indrukke op die Woordfees se INK-feeskoerant lui: “Met ’n Begin is daar ’n tweestryd, maar ook ’n innerlike worsteling by albei karakters. Cintaine Schutte se Laura is wulps, teenoor Carel Nel as Daniël se onsekerheid wanneer hulle as die laastes in haar woonstel staan.” 

Benjamin dui op die spelers se skitterende liggaamstaal. “Daar’s g’n vrees aan haar kant vir die drang na ’n soete einde aan die aand nie, maar hy huiwer soos duisend gedagtes deur sy kop maal van ’n ‘mislukte’ begin wat hy steeds verwerk. Maar dan ontlont als… Saggies word daar gekasty, en braaf word daar deur die maalkolk geworstel. Dis meesleurend om te kyk.”

Scheepers, Schutte en Nel het voorheen saam gewerk aan Die fliek. Van Wyk Loots was meer onlangs die regisseur van die konfronterende Monsters, waarvoor sy vir ’n Kanna benoem is. 

’n Begin is ’n Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi. Dis te sien by die Markteater vanaf 30 Januarie tot 16 Februarie. Kaartjies is by Webtickets te koop. Geen o/16.

Facebook
Twitter
LinkedIn