Flikker & Flash: Wat jy moet weet

Waar: Stellenbosch-middedorp
Wanneer: Vrydag en Saterdag, 9 en 10 April

Aanbiedings:
Vrydag, 9 April, 18:30 – 21:30:
’n poësie- en musiekaand
Saterdag, 10 April, 16:00 – 18:00:
Straatsoiree, aangebied deur Stellenbosch Wine Routes
Saterdag, 10 April, 18:00 – 22:30:
’n wye verskeidenheid van kort vertonings (5-15 minute elk) met ’n orreluitvoering in die Moederkerk ter afsluiting van die feestelikhede.

Hier is antwoorde op al die mees algemene vrae oor die Toyota US Woordfees Flikker & Flash:

Hoe gaan die Flikker & Flash-opwipvertonings werk?

Kunstenaars tree hoofsaaklik op in leë winkelvensters, maar ook in galerye en ander ruimtes wat tans leegstaan. Die gehore beweeg tussen verskillende ruimtes om verskillende kunstenaars te sien, amper soos met Vensters, wat elke jaar deur eerstejaars by die koshuise van die Universiteit Stellenbosch aangebied word. Omdat ’n beperkte aantal toeskouers vanaf die straat, sypaadjie of gang in die ruimte sal kan insien, sal dit korter vertonings van 5–15 minute wees, voor gehore wat wissel van 20 tot veel meer.

Vind elke vertoning net een keer plaas?

Nee, vertonings word herhaal. Besoekers kan dus van een vertoonruimte na ’n volgende loop en alles sien.

Kan ek kaartjies bespreek?

Nee. Indien ’n tou te lank voor ’n betrokke vertoning is, stap gerus verder en keer later terug.

Waar vind die musiek- en poësieaand Vrydag plaas en wie tree op?

In die Hofmeyrsaal in Kerkstraat. Die deelnemers sal teen Donderdag, 8 April, bekend gemaak word.

Hoeveel kos dit om Flikker & Flash by te woon?

Toegang is gratis. Toeskouers is welkom om ’n kontantdonasie ná afloop van ’n optrede in ’n hoed te gooi. Donasies kan ook via Snapscan aan die Tribuo-fonds, wat kunstenaars tydens die pandemie ondersteun, gemaak word.

Watter kunstenaars neem deel aan Saterdagaand se opwipvertonings?

Die meeste van die toptalente  wat vir die Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek gekeur is, sal in die opwipvertonings te sien wees. Die deelnemende kunstenaars is ’n mengsel van ou feesbekendes en opwindende jong kunstenaars of groot geeste wat nog nie voorheen die Woordfees besoek het nie.

Klik hier vir ’n volledige lys van die deelnemende kunstenaars.

Wie gaan die orrel speel vir die uitvoering ter afsluiting van die feestelikhede in die Moederkerk op Saterdagaand?

Zorada Temmingh sal ’n uitvoering gee.

Haar program sluit die volgende werke in:
Handel – “Arrival of the Queen of Sheba”
Charles-Marie Widor – Tokkate uit 5de Orrelsimfonie

Operamusiek: 
Die Slawekoor uit Nabucco – Verdi
Die Aambeeldkoor uit Il Trovatore – Verdi
Die Pelgrimskoor uit Tannhäuser – Wagner
Die Groot Mars uit Aïda – Verdi

Ligte musiek:
Ennio Morricone – “Gabriel’s Oboe”
Graham & Lovland – “You Raise Me Up”

Waar kry ek ’n Flikker & Flash-program?

Omdat die werk vir die opwipvertonings deur die loop van die Kunstenaarsweek in werkswinkels geskep word, sal geen amptelike program met die titels van vertonings en die kunstenaars wat daarin te sien is, beskikbaar wees nie. Besoekers stap tussen die verskeie optreeruimtes en word telkens verras deur wat aangebied word. ’n Program met ’n lys van al die optreeruimtes en die skedule van vertonings sal wel teen Donderdag, 8 April, elektronies beskikbaar gemaak word. (Hou ons sosiale media en webwerf hiervoor dop.) Dié program sal ook Vrydag, 9 April, as pamflette in die dorp uitgedeel word.

Hoe gaan kapasiteit beperk word?

Daar sal duidelik afgebakende ruimtes voor elke vertoonruimte wees. Een van die uitvoerende kunste se groot uitdagings is beperkings op die getal mense in onderdak- (100) en buitelugruimtes (250), ongeag die kapasiteit van die ruimte. Met straatkuns omseil ons die kapasiteitprobleem sonder om die veiligheid van gehore en kunstenaars in gedrang te bring. Optredes gaan meestal in leë winkelruimtes gebeur. Die kunstenaars is veilig agter glas, en die gehoor is veilig in die buitelug met klankversterking waar nodig.

Waar vind die Straatsoiree plaas?

In Ryneveldstraat. ’n Gedeelte van die straat sal Satermiddag vir verkeer gesluit wees.

Wat sal by die Straatsoiree te ete en drinke wees?

Besoekers sal koepons kan koop om landgoedwyn van verskeie plase te proe. Daar sal straatkos by ’n verskeidenheid  stalletjies beskikbaar wees.

Wat kos toegang tot die Straatsoiree?

Toegang tot die Straatsoiree kos R150. Dit sluit 10 koepons en ’n glas in. Addisionele koepons kan teen R5 een gekoop word. Wynproepryse per glas wissel. Besoekers kan met kontant, kaart of SnapScan betaal. Toegang tot al die Flikker & Flash-vertonings asook die poësie- en musiekaand is gratis.

Klik hier om kaartjies na die Straatsoiree te koop.

Watter wynlandgoedere neem deel aan die Straatsoiree?

Daar sal wyne van die volgende plase te proe wees:

Blaauwklippen
Rascallion
Skilpadvlei
Vriesenhof
Jordan
Neil Ellis
Hartenberg
Somerbosch
Spier
Kleinood
Alto
Simonsig
Kleine Zalze
Middelvlei
Koelenhof Wynkelder
Lanzerac
Groenland

Klik hier vir meer inligting oor Flikker & Flash.

Facebook
Twitter
LinkedIn