BORRELS EN ONTBYT SAAM MET MINKI
Met: Minki van der Westhuizen
’n Heerlike ontbyt by Lanzerac in die hart van die Jonkershoekvallei saam met Minki van der Westhuizen, alombekend vir haar ikoniese styl, selfvertroue en goedhartigheid. Terwyl gaste ’n plaasvars ontbyt kon geniet, het sy gesels oor haar rol as ma, dogter, vrou en vriendin. Net soos die boeretroos was die borrels ook bodemloos.
MURATIE: WYN, KOS EN ERFENIS
Dr. Rijk Melck het die ryk geskiedenis en erfenis van die Muratie-wynlandgoed gedeel, een van Suid-Afrika se oudste wynplase, wat tot 1685 terugdateer. Die boeiende, menslike stories wat in die eeue oue geskiedenis verweef is, is tasbaar in elke hoekie van hierdie familieplaas. Die gesprek was gevoer oor wyne wat hulde bring aan die vorige eienaars.
WOORDFEES- STRAATSOIRÉE
Aangebied deur Stellenbosch-wynroetes
Tydens dié spesiale straatmakietie kon jy jou verlustig in ’n keurspel van kosstalletjies, druifgenot, musiek, goeie versnitwyn en Bolandse gasvryheid.
WOORDFEES-WYNSKOOL
Aangebied deur Stellenbosch-wynroetes
Leer, proe, spoeg of sluk – die Woordfees-wynskool was ’n prestige (maar allermins snobistiese) geleentheid om meer oor wyn te leer. Feesgangers kon aanmeld vir drie klasse oor verskillende kultivars en style, aangebied deur wynmakers, wynpersoonlikhede en ’n komediant. Die sessies het Bubbly 101, Chenin Blanc 101 en Pinotage 101 gedek.