Toyota Musiekfees: Drostdy-teater

AMBER / OMBRÉ

Met: Amanda Strydom, Coenraad Rall (klavier), Susan Mouton (tjello)

Amber verwys na ’n oranjebruin edelsteen óf beteken “vlugtig, temperamenteel, vrolik en aandadig”. Ombré is die verandering van lig na donker en van donker na lig. Strydom, Mouton en Rall het in hierdie kabaret as’t ware ’n klank-en-woordkleed deur musiek, stories en poësie in te span geweef, met daarby ingemeng skakerings van donker en lig – van verdriet en venyn tot vrolik en verspot. Met musiek van Johannes Kerkorrel, Melissa Etheridge, Ariel Ramirez, Jacques Brel en Ramses Shaffy.

ANY DREAM WILL DO: MY PAD MET WEBBER

Met: André Schwartz

’n Musiekgedrewe aanbieding waarin Schwartz uitbrei oor sy musikale verhouding met Andrew Lloyd Webber. Van die komponis se rolle wat hy al gesing het tot dié wat hy van die hand gewys het, en ook hoe hy elke vertoning ervaar het, is in die kollig geplaas. Schwartz het vermaak met sang, lewenslesse en insigte oor sy verhouding met Webber, wat soms maar wipplank ry. Intens en misterieus, soos die musiek wat hulle saamweef.

BUSRIT IN DIE AAND

Met: Tarryn Lamb, Frank Freeman

Hierdie intieme produksie is geïnspireer deur Elisabeth Eybers se gelyknamige gedig, maar het sy eie rigting in geslaan as musikale dokument van hartsake. Die goue stem van Tarryn Lamb is ondersteun deur die kitaarspeler, sanger en vervaardiger Frank Freeman in sy eerste nuwe produksie ná Eet Kreef!, wat met ’n kykNET Fiësta bekroon is. Die toonsetting van Busrit in die aand is as enkelsnit vrygestel en bied ’n voorsmaak van wat gehore kan verwag.

DIE KUNS VAN TRANE

Met: Koos van der Merwe

In dié akoestiese eenmanvertoning dig, sing en lag Koos van der Merwe en sy kitaar oor trane – ’n kuns wat min kan bemeester sonder om tranetrekkerig of sentimenteel te raak. Daar was gereed gemaak vir skerpsinnige, eerlike en humoristiese kommentaar en klanke wat die lig en donker van die lewe vier. Sy nuwe digbundel, My hande maak holtes, is by dieselfde geleentheid bekend gestel.

LIPKAP SE TONGKLAP: 'N RYMKLETSKABARET

Met: Frazer Barry (kitaar, perkussie, rymklets, digkuns, sang), Jason Hartman (rymklets, digkuns), Kerishnie Pheiffer (rymklets, digkuns), Deniel Barry (tromme, perkussie, digkuns, sang), Earl Witbooi (baskitaar, digkuns, sang), Charlton Davids (klawerbord, rymklets, digkuns, sang)

Iets tussen ’n operette en ’n kabaret het saam met rymklets gesorg vir ’n unieke musiekteaterervaring in Afrikaans en Khoekhoegowab. Jy formuleer eers jou gedagtes en dán kom land dit in jou mond. Dan spoeg jy dit uit en stuur dit die wêreld in. Woordkunstenaars het die komplekse tema van taal en kommunikasie ondersoek en musiek, digkuns, storievertel en rymklets as medium daarvoor gebruik.

'N BLOM IN ELKE VROU

Met: Petronel Baard, Franco Engelbrecht, Johan Engelbrecht, Lelané van der Merwe, Jan-Erik Swart, SuidKaapse Kinderkoor

Hierdie musikale en digterlike reis deur die vier seisoene ondersoek ons identiteit in Afrika aan die hand van inheemse plantegroei. Dié produksie is met groot welslae by vanjaar se KKNK opgevoer, met onder andere die talentvolle Suid-Kaapse Kinderkoor. Vir die Woordfees bring Petronel Baard en haar orkes ’n ensemble van dié koor saam. 

RAAF

Met: Esté & Lourens Raaf

Die Kaapse folk-pop-duo Esté en Lourens Raaf maak al langer as ’n dekade saam musiek. Hierdie was ’n musikale skouspel waarin 12 instrumente afgewissel is – en soms het hulle selfs meer as een op ’n slag gespeel! RAAF (voorheen Bottomless Coffee Band) se oorspronklike komposisies het al meermale die voorste posisies op radiospeellyste geniet. 

SAAM (ALL)EEN

Met: Luna Paige (klawers, kitaar, stem), Schalk Joubert (baskitaar), Frank Freeman (kitaar), Jonno Sweetman (tromme), Zolani Youth Choir

Uitmuntende musikante, hartroerende koorsang en Luna Paige. Dié kombinasie was te hoor in ’n nuwe vertoning met oorspronklike musiek oor menswees, maar ook alleen wees, vreemd wees, hoopvol wees, eerlik wees, saam wees en sin vind in ’n tyd waarin min sin maak. ’n Konsert van min woorde, maar woorde met gewig. ’n Konsert met musiek wat vlieg, saggies land en saadjies plant; met stemme wat dartel, droom, wens en ween; wat rus aan die luisteraar in ’n tyd van chaos verleen.

VALIANT SWART: RONDRY, FLIEK EN DIE BUITELEWE

Die Mystic Boer se eerste nuwe album in sewe jaar het pas verskyn en dis vintage Valiant: ballades vol humor en hart gemeng met blues-, folk- en country-rock. Dis gemaak vir die langpad maar ook die braaivleisvuur. Valiant het sy nuwe treffers saam met hoogtepunte uit ’n  loopbaan van meer as 30 jaar gedeel.

VERLANGEBOS

Met: Nic de Jager (voorlesing), Louis Loock (sang), Rina Goldberg (klavier), Schalk Joubert (baskitaar), Schalk Wasserman (perkussie)

Volksmusiek en digkuns – ou wysies en woorde – het nuwe betekenis gekry. Nic de Jager, deurwinterde radioman met sy meesterlike aanslag, vervleg sy eie teks met gedigte en melodieë uit die FAK en liedermusiekskat, saamgestel deur die pianis Rina Goldberg. Dit is lieflik vertolk deur Louis Loock. ’n Nuwe produksie wat oud en jonk betower het.

Facebook
Twitter
LinkedIn