Die benoemings vir die 13de kykNET Fiësta-toekennings is pas bekend gemaak. Debuutproduksies op die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – Aardklop, Innibos, KKNK, Suidoosterfees, Toyota US Woordfees en die Vrystaat Kunstefees – kom in aanmerking vir dié pryse.
“Die stiller jaar ná die pandemie het allermins kunstenaars se kreatiwiteit gekortwiek,” sê die sameroeper van die Fiëstas-paneel, Herman van der Westhuizen. “Soveel kunstefeeste en kunstenaars het met gehalte-aanbiedings die kollig betree. Die Fiësta-toekennings is ’n staande ovasie vir die uitsonderlike werk wat in 2022 op die feeskringloop aangebied is. Die Fiëstas-paneel het ’n fenomenale feesjaar beleef en sê byvoorbaat geluk aan ieder en elk wat met hulle skeppings die uitvoerende kunste laat gedy het.”
Debuutproduksies wat by die 2022 Woordfees aangebied is, het 14 benoemings ontvang – vyf daarvan vir Die moeder wat in November verlede jaar vyf Woordtrofees-toekennings gewen het. Die moeder (oorspronklik The Mother) is ’n portret van leënessindroom deur die bekroonde dramaturg Florian Zeller, wat ook die Oscar-bekroonde The Father geskryf het.
Dié stuk, wat finansieel deur NATi ondersteun is, is vir Fiëstas in die volgende kategorieë benoem: Beste feesproduksie, Beste regie (Christiaan Olwagen), Beste spel in ‘n hoofrol (Sandra Prinsloo), Beste spel in ’n ondersteunende rol (Dawid Minnaar) en Beste teaterontwerp (Birrie le Roux).
Goeie nuus vir diegene wat dit misgeloop het, is dat Die moeder op 13 April met ’n speelvak by die Baxter-teater in Kaapstad begin.
Carlo Daniels het twee Fiësta-benoemings in die kategorie vir Beste speler in ’n ondersteunende rol ontvang – een vir sy spel in Athol Fugard en Paula Fourie se Concerning the Life of Baby Boy Kleintjies, wat deels deur Distell befonds is en by die Woordfees gedebuteer het, en ’n tweede benoeming vir sy rol in Pieter Fourie se Ek, Anna van Wyk, wat by die KKNK op die planke was.
Wian Taljaard is ook vir Beste speler in ’n ondersteunende rol benoem vir sy spel in Die Suid-Afrikaners, nog ’n stuk wat finansieel deur NATi ondersteun is.
Drie van die vier benoemdes vir Beste opkomende kunstenaar (Adriaan Havenga, Gita Fourie en Jacobus de Jager) was by die 2022 Woordfees te sien.
Daar is vanjaar elf kategorieë met vier benoemdes per kategorie. Hier is die volledig lys van Fiësta-benoemings:
Beste spel in ’n hoofrol
Antoinette Kellermann – die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)
Marlo Minnaar – Die halwe huis (KKNK, Suidoosterfees)
Sandra Prinsloo – Die moeder (Toyota US Woordfees)
Tinarie van Wyk Loots – Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Beste spel in ’n ondersteunende rol
Carlo Daniels – Concerning the Life of Baby Boy Kleintjies (Toyota US Woordfees)
Carlo Daniels – Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Dawid Minnaar – Die moeder (Toyota US Woordfees)
Wian Taljaard – Die Suid-Afrikaners (Toyota US Woordfees)
Beste regie
Christiaan Olwagen – Die moeder (Toyota US Woordfees)
Gideon Lombard – Karatara (KKNK, Suidoosterfees)
Marthinus Basson – Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Marthinus Basson – Terminaal 3 (KKNK)
Beste teaterontwerp
Birrie le Roux – Stel- en kostuumontwerp: Die moeder (Toyota US Woordfees)
Gideon Lombard – Klankbaan en ontwerp: Karatara (KKNK, Suidoosterfees)
Marthinus Basson – Stel, kostuums, inkleding: Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Nataniël – Musiekverwerkings: Die Smitstraat Suite (Aardklop)
Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling
Adriaan Havenga – Iewers in die grys (Toyota US Woordfees)
Frieda van den Heever – Samestelling van die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)
Nataniël – Die Smitstraat Suite (Aardklop)
Ricardo Arendse – Die halwe huis (KKNK, Suidoosterfees)
Beste prestasie in klassieke musiek
Handel at Home (Toyota US Woordfees, KKNK)
Late (and Last) Works by Schubert, Brahms, Debussy (Toyota US Woordfees)
Le Roux Marais: Pionier (Toyota US Woordfees)
The Gqeberha Trio (KKNK)
Beste prestasie in visuele kuns
André Badenhorst – Taalgenoot-foto-uitstalling (Vrystaat Kunstefees)
Ingrid Uys – Fladder (Aardklop)
Karin Preller – Beyond Memory (KKNK)
Pitika Ntuli – Azibuyele Emasisweni / Terugkeer na die bron (Vrystaat Kunstefees)
Beste musiekgedrewe produksie
Femme is fatale (Vrystaat Kunstefees)
Ligval (Aardklop)
Die Smitstraat Suite – Nataniël (Aardklop)
Prima donna (KKNK)
Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie
Akustika-kamerkoor – Die Smitstraat Suite (Aardklop)
Juan Floors Oosthuizen – Prima donna (KKNK)
Lynelle Kenned – Handel at Home (KKNK)
The Ancient Voices (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies) – die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)
Beste opkomende kunstenaar
Adriaan Havenga – Iewers in die grys: Teks (Toyota US Woordfees) en Om skoon te wees: Spel en teks (KKNK)
Conradie van Heerden – Om skoon te wees: Spel (KKNK)
Gita Fourie – Afval: Teks (Toyota US Woordfees)
Jacobus de Jager – Bach (to a) Blast!: Dirigent (Toyota US Woordfees)
Beste feesproduksie
Die halwe huis (KKNK, Suidoosterfees)
Die moeder (Toyota US Woordfees)
Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Karatara (KKNK, Suidoosterfees)
Vanjaar se kykNET Fiëstas-toekenningsgeleentheid word op 9 Maart in Kaapstad gehou. Dié geleentheid is vanjaar meer intiem met net benoemdes en ander prominente rolspelers as gaste. Die toekennings word ook nie vanjaar op TV uitgesaai nie.