Die Toyota US Woordfees vind volgende jaar nogmaals in die lente plaas van 7 tot 15 Oktober. Dié besluit is geneem in oorleg met verskeie rolspelers en belanghebbendes, insluitend borge en donateurs, ander kunstefeeste, kunstenaars, feesgangers, vervaardigers, skole, diensverskaffers en die gasvryheidsbedryf.
“Vanweë tydsdruk sou dit onmoontlik wees om reeds ’n fees in Maart 2023 aan te bied. Dit is ook goedkoper om die fees in Oktober aan te bied,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW Projek. “Daarbenewens is die oorweldigende meerderheid van partye met wie ons konsulteer het, ten gunste van ’n fees in Oktober. Voordele wat genoem is, sluit in die beter verspreiding van kunstefeeste in die Wes-Kaap en aangenamer weersomstandighede. Akkommodasie is ook meer geredelik gedurende Oktober in en om Stellenbosch beskikbaar en daar is ’n kleiner vraag na logisitieke infrastruktuur as in Maart wanneer verskeie ander aktiwiteite in die streek aangebied word, onder meer, die Kaapstadse Fietstoer (voorheen bekend as die Argus) en die Cape Epic.
“Ervaring wys dat ons ten minste ses maande nodig het om ’n tiendagfees te beplan en ons sien geweldig uit daarna om die kunste volgende jaar weer voluit te vier.”