Galery: Klassieke musiek

BEETHOVEN STRING QUARTRETS

Met: Suzanne Martens (eerste viool), Philip Martens (tweede viool), Karin Gaertner (altviool), Peter Martens (tjello)

Vier van ons land se voorste strykers span saam in die Amici-strykkwartet, wat wyd beskou word as een van die beste kamermusiek-ensembles. Sedert die stigting van Amici in 2006 het hulle al opgetree by die prestigeryke Kaapstadse Konsertreeks, die Grahamstadse Nasionale Kunstefees, die Bulawayo Internasionale Fees en die Woordfees – saam met kunstenaars soos die pianis Leslie Howard, Mirijam Contzen (violis) en Madosini, doyenne van tradisionele Xhosamusiek.

BEETHOVEN TRIPLE CONCERTO

Met: Pieter Joubert, Nicholas Bruiners (viool), Mikhaila Porter, Christoff Joubert (klavier), Chris Njapha (tjello), Remi Ludik (altviool), David Cyster (klarinet)

Hierdie uitvoering is ’n kamermusiek-konsert met twee bekende gunstelinge onder musiekliefhebbers: Beethoven se Trio-concerto vir klavier, viool en orkes (op. 56) in ’n kamermusiekweergawe vir viool, tjello en twee klaviere (deur Carl Reinecke), word gevolg deur Mozart se Klarinetkwintet (KV 581), vir klarinet en strykkwartet. Albei werke bestaan uit drie dele. Die room van jong musici uit die Kaap is uitgesoek vir hierdie produksie.

BLONDES, RACH, RAV & QUEEN

Met: Elna van der Merwe (klavier), Zorada Temmingh (klavier), Schalk Joubert (baskitaar), Kevin Gibson (tromme)

Die Blondes se vernuftige keurspele vir twee klaviere draai dié slag om die letter R. Die klassieke helfte sluit in ’n Rachmaninoff-keurspel met fragmente uit sy geliefde Vocalise en Klavierconcerti, die Paganini-variasies en die bekendste Preludes, plus ’n Ravel-keurspel met melodieë uit sy Klavierconcerti, Bolero, Habanera en die orkeswerk La Valse. En dan ruk en rol die klaviere saam met tromme in Queen se treffers “Bohemian Rhapsody”, “We Are the Champions”, “A Kind of Magic” en “Friends Will Be Friends”.

CAPE CHORAL ACADEMY - BOLANDSE MISSE

Met: Cape Choral Academy o.l.v. Xander Kritzinger, Kaapse Barokorkes o.l.v. Erik Dippenaar, Winand Grundling (orrel)

’n Versameling van groot koor- en orkeswerke – die Karoo-mis van Xander Kritzinger en Vivaldi se Magnificat is van die musiek wat saamgeweef word tot ’n reis deur die jare. Die tydloosheid van die werke binne ’n bewussyn van ons hedendaagse uitdagings en vieringe herinner ons daaraan dat ons dinge soms mis, maar dikwels ook raakvat. Dit is die musiekwat ons saambind en verander.

CLARA

Met: Carla Smith, Nina Schumann (klavier)

Die merkwaardige verhaal van die komponis-pianis Clara Schumann kry lewe in dié klein meesterstuk deur Riana Scheepers waarin die pianis Nina Schumann en die aktrise Carla Smith die rol van die heldhaftige hoofkarakter vertolk. Nina Schumann, wat soos Madame Clara ook ’n pedagoog en konsertpianis is, verklank Clara se storie met klaviermusiek deur die komponiste Robert en Clara Schumann asook Johannes Brahms, Clara se geliefde vriend. Haar lewe van passie, tragiek en bowenal uithouvermoë word in Afrikaans aangebied, begelei deur die universele taal van musiek.

CLASSICAL CALABASH

Met: Xhanti Nokwali (sang, perkussie), Vasti Zeeman-Knoesen (sang), Tankiso Mamabolo (sang), Sky Dladla (sang, mbira, uhadi, perkussie), Bongani Sotshononda (marimba), Daniel Nambassi (perkussie, agtergrondsang), Graeme Lees (kitaar), Stephen de Souza (basviool), Janna Khweis (viool), Ashlin Grobbelaar (tjello), Odile Lesch (viool), Remi Ludick (altviool)

’n Musikale tentoonstelling van werke waarin jong komponiste aan die woord is met ’n unieke vermenging van inheemse Afrika-instrumente en klassieke­ musiekkonsepte. Die resultaat is ’n pragtige klanklandskap met sketse van o.a. die marimba, uhadi, djembe, viool, stem, kitaar.

JOHANN SEBASTIAN BACH: THE FLUTE SONATAS

Met: Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit (tjello), Erik Dippenaar (klavesimbel)

J.S. Bach se bydrae tot die Barokfluitrepertoire is aansienlik. Hy het sewe substansiële sonates sowel as ’n solo-partita nagelaat. Van hierdie sonates is moontlik deur sy seun C.P.E. Bach voltooi óf selfs in die geheel geskryf. Die Siciliano van die Sonate in E-mol majeur (BWV 1013) is een van die gewildste komposisies van dié genre, en is vir verskeie ander instrumente aangepas. Die kort sonates is almal volgens die resep van drie-tot-vierdeligheid gekonsipieer.

MOEDERKERK ORRELWEEK: GAVIN JULIUS

Lewendige en feestelike allegro’s van groot Franse orrelkomponiste uit die 19de eeu word ingesluit – Guilmant, Vierne en Grison – sowel as ’n indrukwekkende werk van die Engelse komponis Percy Fletcher. Julius is orrelis van die Nuwe Apostoliese kerk in Observatory en assistentorrelis van die St. George-katedraal in Kaapstad.

MOEDERKERK ORRELWEEK: WINAND GRUNDLING

Allegro’s van die Romantiese komponiste Guilmant, Mailly, Petrali en Belièr sal ons begelei op ’n looptempo – stadig genoeg om die omgewing te geniet, maar vinnig genoeg om vooruit te kom. Kom geniet hierdie ritme van die lewe en beleef die magie van musiek. Grundling is orrelis van die NG kerk Stellenbosch-Welgelegen.

MOEDERKERK ORRELWEEK: ZORADA TEMMINGH

Vinnig, lewendig en opgewek – die première van Zorada Temmingh se nuwe werk: Allegro imposante! Verder speel sy kontrasterende allegro-improvisasies op bekende kerkmelodieë met lof as tema– een op ’n versoek uit die gehoor. Sy is orrelis van die Stellenbosse Moederkerk en sedert 2015 samesteller van die Orrelweek.

MOEDERKERK ORRELWEEK: ISABELLE VAN RENSBURG

Vrolike geesdrif word verklank in werke van bekende meesterkomponiste soos Bach, Mendelssohn en Widor. Die gehoor kan uitsien na werke met flink, streng ritmiese en elegante karaktereienskappe. Die eietydse komponiste Mikael Tariverdiev (Rusland) en Matthew van Wyk (Suid-Afrika) vorm deel van die program. Van Rensburg is orrelis van die NG kerk Universiteitsoord in Pretoria.

RACHMANINOFF’S 150TH BIRTHDAY PIANO BASH

Met: Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins, Jacobus de Jager (dirigent), die Rachmaninoff (woord)fees orkes

Sergei Rachmaninoff se 150ste verjaardag word vanjaar wêreldwyd gevier. Sy klavierkonserte is immergewild en verskyn gereeld op orkesprogramme, hoewel dit vir enige pianis ’n uitdaging en ’n toets is. Schumann, Prins en De Jager bou voort op 2022 se familie-affêre Bach (to a) Blast! met hierdie eenmalige vertoning van Rachmaninoff se Scherzo in D-mineur, Klavierkonsert Nr. 2 en die Rapsodie op ’n tema van Paganini in samewerking met die Rachmaninoff (woord)fees orkes.

SAG PRAAT VAN HIERDIE LEWE

Met: Lucretia Sikwebu (mezzosopraan), Rudi Bower (klassieke kitaar)

Dié produksie verteenwoordig ’n mylpaalin die Afrikaanse digkuns en musiekliteratuur: Dit is naamlik die eerste oorspronklike sangsiklus in Afrikaans vir stem en klassieke kitaar. Die bekroonde kunstenaars Lucretia Sikwebu en Rudi Bower span kragte saam in ’n unieke produksie wat menswees oor vele grense heen verken. Die gedigte, noukeurig uitgesoek uit ’n breë versameling van Vincent Oliphant se gepubliseerde materiaal, vorm die chronologiese uitbeelding van ’n lewensloop.

UNIVERSITEITSKOOR STELLENBOSCH

Met: André van der Merwe (dirigent)

Die US Koor is een van die oudste kore in Suid-Afrika en bestaan uit studente van verskillende agtergronde – akademies én kultureel – iets wat ’n unieke energie en geweldige gees tot gevolg het. Die koor beklee meer as ’n dekade al die voorste posisie op die internasionale Interkultur-ranglys en het verskeie toekennings reg oor die wêreld gewen. Kom luister na die besonderse klank van dié voortreflike groep sangers vir wie dit oor die vreugde van musiek gaan.

VOCES CORDIS: ELEMENTE

Met: Voces Cordis o.l.v. André van der Merwe, Theo Alkema (klavier), Lize Jansen van Vuuren (fluit), Hannes Kok(perkussie)

Die koor met 80 stemme bied ’n program van bekende en nuwe koorwerke, waaronder die première van twee nuwe opdragwerke, Oculi Autem eius deur die Hongaarse komponis Levente Gyöngyösi en Quid hic Agis, Elia? deur die Suid-Afrikaner Franco Prinsloo. Albei stukke maak gebruik van Gregoriaanse cantus en betrek die elemente van wind, vuur en aardbewings. Die konsert word afgesluit met drie ikoniese liedjies, nuut verwerk deur André van der Merwe: “Special Star” van Mango Groove, “And So it Goes” van Billy Joel en “Somebody to Love” van Queen.

WINDROOS

Met: Winelands Filharmoniese Orkes o.l.v. Reghardt Kühn, VIVOX Voices-kamerkoor o.l.v. Maria Viviers

Kristi Boonzaaier se simfoniese komposisiestyl laat die menslike stem sweef soos ’n geelbekwou oor ’n kleurryke blommelandskap– hier deur die orkes geskep. Luister na van Boonzaaier se oorspronklike werke – Die Windroos-ouverture, Weskuswind en Geslote hek – en toonsettings van Afrikaanse gedigte. Daar’s ook verskeie verwerkings en bestaande musiek, waaronder Song of the Universal deur die Noorweegse komponis Ola Gjeilo.

Facebook
Twitter
LinkedIn