VAN HIER TOT VER IN DIE WÊRELD - FIKSIE
Aangebied deur Protea, Tafelberg
Hierdie land wys die hart van Suid- Afrika; Ver in die wêreld bekyk die lewe in die buiteland. Frederik de Jager het gesels met Valda Jansen, Julian Dewette, Cas Wepener, Gielie Hoffmann en Menán van Heerden oor hulle bydraes – die absurde, snaakse, kosbare, die uitdagings en verlies wat gepaardgaan met die lewe as ’n emigrant, maar ook as ’n Suid-Afrikaner vandag.
TWEE KAALKOPPE - DIGKUNS
Aangebied deur Naledi
Jean Oosthuizen het ’n gesprek gelei met Koos Kombuis en Clinton du Plessis oor Deur die tonnel van twyfel en Joernaal. Koos beskryf eersgenoemde as “ ’n moderne, godsdienslose geloofsbelydenis” waarin hy wonder wat die nuwe geslag in die plek het van al die ou gode wat dood is. Waarop grond ons nou ons moraliteit? Clinton du Plessis, wat ná jare weer ’n nuwe bundel, Joernaal, by ’n hoofstroomuitgewer publiseer, skryf op Facebook hoe hy na drie covers van Johannes Kerkorrel se “Hillbrow” luister en wonder wanneer “gee, gee, gee” verruil is vir ’n era van gryp en vreet.
THE POWER OF US - NIEFIKSIE
Aangebied deur Footprint Press, Pan Macmillan
Roelf Meyer het gesels met Songezo Zibi (Manifesto), oudredakteur van Business Day en met sy politieke beweging Rise Mzansi een van ’n nuwe geslag jong politici wat die ANC aanvat, en die arbeidsreg-advokaat Frans Rautenbach (Help Yourself South Africa) oor praktiese hervorming en hoe die demokrasie vereis dat gewone sake- en beroepslui hand uit die mou steek om ons land te laat werk.
STEFAANS COETZEE - Onbeskryflike Genade - Niefiksie
Aangebied deur Lux Verbi
Bettina Wyngaard het gesels met die skrywer, radio-omroeper en vryskutresensent Stefaans Coetzee oor Onbeskryflike genade, sy storie van hunkering na bevryding en ’n nuwe begin na ‘n aanklige verlede, en die lekkerte van pa-wees. Dit is ’n verhaal van hoop en, ja, onbeskryflike genade. Die gesprek het begin met ’n uittreksel uit die aangrypende dokumentêr oor Stefaans se lewe.
SIHLE KHUMALO: KHUMALO: MILK THE BELOVED COUNTRY - NIEFIKSIE
Aangebied deur Umuzi
Sihle Khumalo, skrywer van Milk the Beloved Country, het padlangs gepraat met Johann Kriegler oor die rol van die groot Afrikaner-ondernemings voor 1994 en gee ’n ander siening van swart entrepreneurskap. Moenie jou laat flous deur die geliefde skrywer se humorsin nie. Ná vier reisboeke, wat die topverkoper Rainbow Nation My Zulu Arse, ’n literêre toekenning en reise met net openbare vervoer deur meer as 20 Afrika-lande insluit, stel hy nou sy visier op die land se geldsake.
RUDIE EN DIE HANSE - FIKSIE
Aangebied deur Queillerie
Gedoriewaar, Hans wil trou! Rudie van Rensburg het aan gesit vir ’n prettige gesprek met Leon van Nierop oor Hans kry troukoors, die vyfde aflewering oor die 90-plus Hans van Kraaienburg, held en voorbok van die bejaarde Huis Madeliefie-“bende”. Saam met hulle op die verhoog was die radio-Hans, Tobie Cronjé, die fliek-Hans, Pierre van Pletzen, en die verhoog-Hans, Charlie Bouguenon.
RECKLESS DAUGHTER: JONI MICTHELL - MUSIEK
Joni Mitchell het die grense van folk, jazz en pop verskuif, en in dié huldeblyk het Kerneels Breytenbach, Danie Marais en Desmond Painter haar lewe, musiek en woorde, ingekleur met interpretasies van haar ikoniese liedjies deur Lise Swart, Andries Bezuidenhout, Schalk Joubert en Riku en Jackie Lätti bespreek. Mitchell het in die 60’s en 70’s ’n lang lys beroemde minnaars, die chauvinistiese musiekbedryf, en in 2015 ook ’n breinaneurisme oorleef. Sedertdien moes sy weer leer praat, loop en kitaar speel, maar vanjaar word sy 80, nadat sy in 2022 triomfantlik na die Newport Folk Festival teruggekeer het.
ONDER 'N BLOEDROOI HEMEL - EIE VERHAAL
Aangebied deur Tafelberg
Lindie Koorts het Annemarié van Niekerk uit gevra oor Onder ’n bloedrooi hemel waarin sy haar lewensverhaal aangrypend en brutaal eerlik vervleg met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land: geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse, maar ook haar persoonlike ervaring van die moord op geliefdes en wat dit aan ’n mens doen.
MET KAREL SCHOEMAN AS MUSE - FIKSIE
Aangebied deur Umuzi
Johann Rossouw se nuwe roman, Sluitstuk, speel met die verhouding tussen geheue en geskiedenis – iets waaroor Robert Vosloo hom uit gevra het. Die verhaal open drie jaar ná die dood van een van Afrikaans se grootste skrywers wanneer ’n Nederlandse vrou Suid-Afrika toe kom om navorsing vir ’n biografie oor hom te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel – bykans dertig jaar nadat die twee mans se weë pynlik uiteen is. Wie was die groot skrywer werklik? Hoekom het hy die vakleerling na sy eensame sterfbed laat kom? En wat is die ware rede vir die Nederlander se biografie?
MARLENE VAN NIEKERK: Die Onstuitbare - Boekklub
Aangebied deur Naledi
’n Heerlik onheilige gesprek oor Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog was gewaarborg met Marius Crous (redakteur), Sonja Loots en Metha-Miré Viljoen wat met Marius Swart in gesprek tree oor dié huldigingsbundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
ALDA MERINI IN AFRIKAANS - DIGKUNS
Aangebied deur Naledi
Charl-Pierre Naudé het die 90-jarige Rina Cascione uit gevra oor Die kliniek van verlatenheid, haar pragvertaling van Alda Merini se gedigte uit ’n psigiatriese inrigting. As een van Italië se mees gevierde literêre figure wou Merini bekend wees as “die digter van vreugde”. In haar later jare was sy bekend daarvoor dat sy dikwels ’n geldjie uit haar bra sou vis vir ’n behoeftige, en al is sy verwaarloos op TV gewys, het sy ’n onmiskenbaar koninklike aura gehad.
BIBI EN PIETER - DIGKUNS
Aangebied deur Tafelberg
Annie Klopper het meer uit gevind omtrent Bibi Slippers (Soekenjin) en Pieter Odendaal (Ontaard) se langverwagte tweede bundels. Soekenjin gaan oor die “alles” wat die internet verteenwoordig: verbindings en gebroke verbindings; die soeke na liefde, die self, betekenis, na die regte woord, na banale inligting aanlyn, en al die aansprake op ons aandag wat ’n mens op vreemde afdraaipaadjies lei. Ontaard kyk op sy beurt na queer-identiteitspolitiek, geboortegrond, die klimaatskrisis, verlies en vervreemding – en vra ongemaklike vrae oor herkoms, tuiswees en heengaan
ANNELIE BOTES SE KATVIS - FIKSIE
Aangebied deur Penguin Random House
Ná erge liggaamlike trauma is Annelie Botes se eerste boek in 12 jaar uiteindelik op die rak. Dis die verhaal van Maria wat uit ’n huwelik met ’n magsbehepte, sadistiese man ontsnap en stilletjies ’n pos aanvaar as bestuurder van ’n gastehuis op ’n plaas by Maclear. Maar minute nadat sy op die plaas aankom, tref die verskrikkende wete haar: Al die jare saam met Gerhardus was net ’n leerskool om haar voor te berei op hierdie dag van ontgogeling. Hier, gekatvis deur ’n gewetenlose bedrieër, is elke oorlewings-minuut suiwer grasie.
VAN OEKRAÏENE, MET LIEFDE - FIKSIE
Aangebied deur Tafelberg, Vindigo Press
Ian Sutherland (Catastrophe) en die fotograaf Jaco Wolmarans (Dolos) het gesels met Irna van Zyl oor die navorsing wat hulle nuwe boeke geverg het. Ian herbesoek in sy tweede boek die Tsjernobil-kernramp in Oekraïne. Hierin soek ’n Russiese ballerina in New York wat sterwend is aan kanker, haar vervreemde dogter om te bieg oor haar geheime vlugtog in 1986 uit Tsjernobil. Jaco se navorsing vir Dolos het hom weer na die noordooste van Mosambiek gelei om meer uit te vind oor die gevreesde Al-Shabaab-ekstremiste, en om langafstandskiet te bemeester.
KI AS SKRYWER - DIGKUNS
Aangebied deur Naledi, Kwela
Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte vorm deel van die internasionale debat oor skeppende kunsmatige intelligensie. Bibi Slippers (Soekenjin) het gesels met die Istanboelse akademikus Imke van Heerden, Menno van Zaanen, ’n professor in digitale geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, en die programmeerder en debuutdigter Tom Dreyer (Nou in infrarooi) oor moontlikhede, uitdagings en gevare “waarvan die omvang onbekend is”, volgens Geoffrey Hinton van Google.
KAAP-MALEIS, SOOS DIE AUNTIES DIT MAAK - KOOKBOEKE
Aangebied deur Penguin Random House
Cariema Isaacs, skrywer van Modern Cape Malay Cooking wat deesdae in Doebai woon, het só leer kosmaak, nes die Bo-Kaap se Taste Malay-kok, Fayruza Abrahams. Dié twee het gesels kopstukke oor Kaap-Maleise kosse, Groot Dae, tradisies en speserye. Saam met hulle is Aunty Mardia Hendricks, spysenier en Lotusrivier se bakkoningin, en Shihaam Domingo, wat die vrawerk doen en self ’n gedugte kok is. Boonop kon gaste self proe waaroor dié kokke praat!
COLOURED: DIS ONS KULTUUR - NIEFIKSIE
Aangebied deur Jonathan Ball
Diana Ferrus pols die Kokkedoor: Vuur en vlam-kok Nate Smith, Kay Karriem, oudredakteur van Kuier, en Tessa Dooms en Lynsey Chutel, jong skrywers van Coloured: How Classification Became Culture, oor bruin gemeenskappe wat dikwels geminag word as “nie swart genoeg of nie wit genoeg” nie, en die wanopvatting dat hulle geen duidelike erfenis of kultuur sou hê nie. Die boek wys juis watter eiesoortige kultuur uit ’n traumatiese ontstaansgeskiedenis ontwikkel het en wat vandag in die taal gevier word – van kos tot musiek.
EVE FAIRBANKS: The Interiors - NIEFIKSIE
Aangebied deur Jonathan Ball
Die Amerikaanse joernalis Eve Fairbanks het gesels met Marianne Thamm oor The Inheritors waaraan Eve 12 jaar gewerk het en wat sedertdien met die PEN-John Kenneth Galbraith-prys vir niefiksie bekroon is. Hierin vervleg sy die verhale van drie gewone landsburgers oor vyf onstuimige dekades om te sien wat werklik gebeur wanneer ’n land besluit om die wit oppergesag te beëindig. Sy vind onverwagse teenstrydighede en medemenslikheid, ontbloot die persoonlike aard van woede, en wonder of ’n mens eerbaar kan lewe in ’n samelewing wat jou nie meer erken nie
BARBARA MASEKELA: POLI POLI - NIEFIKSIE
Aangebied deur Jonathan Ball
Die ouddiplomaat Barbara Masekela het gesels met Glynis Breytenbach oor haar openhartige memoires, Poli Poli. Die titel verwys na die liewenheersbesies wat hulle as kinders gevang en Poli Poli genoem het – boodskappertjies wat die kinders wat by oumas grootword, na hulle ouers “gestuur” het. Sy het vertel van haar Afrikaanse ouma Johanna Mabena Bower, haar grootwordjare in ’n steenkoolmynlokasie in die 1940’s en die Alexandra-township in die 1950’s, haar musikale broer Hugh, en ’n politieke loopbaan wat van Mandela se personeelhoof tot ambassadeur gestrek het.
JONNY STEINBERG: Portrait of a marriage - Biografie
Aangebied deur Jonathan Ball
Van Winnie & Nelson: Portrait of a Marriage skryf J.M. Coetzee dat dit ’n biografie is wat waarskynlik vir baie lank nie oortref sal kan word nie. Hierin beskryf Jonny Steinberg Nelson Mandela as ’n “briljante toneelspeler” – ’n veiligheidsmeganisme wat hy aangeleer het toe hy op 11 van sy geboortedorpie na die Temboekoningstuiste geneem is waar hy uit plek gevoel het. Van Winnie sê hy weer hoe sy as die middelste van 11 kinders altyd die guns van haar pa probeer wen het en hoe haar martelaar op Brandfort dié swakplek raakgesien en uitgebuit het. Jean Meiring het vir Jonny uitgevra oor Zoom oor ’n verhaal van ’n uitmekaargeskeurde huwelik – een van maskers en een wat hy glo op ’n donkerder manier die verhaal van Suid-Afrika is.
BOEKKLUB: TO SURVIVE AUSCHWITZ
Aangebied deur Kwela
Martie Meiring het die merkwaardige Ella Blumenthal (102) wat die Nazi-konsentrasiekampe oorleef en uiteindelik in Brakpan ’n lewe gemaak het, ontmoet. Joanne Jowell, skrywer van I Am Ella, is ook daar. Die gesprek het begin met ’n uittreksel uit die dokumentêr I Am Here waarin Ella ook vertel van haar geestelike reis.