ÎLE
Met: Sophie Joans
’n Agtienjarige gaan soek haar familiewortels in Mauritius. Dit klink na pret, maar als is nie pluis nie. Gou begin sy in die donker verlede krap, en wat sy onthul, is ’n sluimerende vulkaan onder die paradys wat wag om te ontplof. Die stuk is in 2022 met die Gold Standard Bank Ovation-prys bekroon by die Nasionale Kunstefees in Makhanda en Sophie Joans is benoem vir ’n Fleur du Cap-toekenning vir haar spel.
ALAN COMMITTIE: LOVE FACTUALLY
Die ster van Defending the Caveman is steeds doenig met die “battle of the sexes and exes”. Onder die vergrootglas is maat-soek-apps, Jammer Jannie-WhatsApp-boodskappe en hoe om te oorleef as ’n postmoderne metro-kwasi-dexi-semi multi-manoseksuele persoon. Die kille werklikheid is nie ’n romantiese komedie nie, maar dalk is Hugh Grant tog die antwoord op al ons diep vrae oor die liefde.
SHIMMY ISAACS
Shimmy Isaacs is een van die mees diverse kunstenaars wat djy in Suid-Afrika sal kry – of djy haar nou op local TV of in ’n internasionale movie raakloep. Djy kan haar regtig enige plek op die TV kry: Showmax, M-Net, kykNET, Netflix. Ook oppie straat! Shimmy is hier vi’ almal! Maar oppie Toyota US Woordfees het sy net een doel voor oë: om almal te laat lag!