Vanjaar is daar meer as 50 aanbiedings op die EasyEquities Skrywersfees. Skrywers kom van heinde en verre om boeke oor uiteenlopende onderwerpe te bespreek. Jy kan uitsien na alles van rugby tot resensies, geld en geskiedenis, huwelike, honde, en hoe om ’n lewe te maak op ’n leë stuk grond in die Karoo.
“Hierdie jaar hou ons vir die eerste maal ’n fees-in-’n-feesin-’n-fees,” sê die digter Bibi Slippers, wat die boekprogram vir ’n derde keer saamgestel het.
“Ons fiksiefees op 9 Oktober is ’n oggend van stories waar die verbeelding seëvier, en die skrywers van fiktiewe verhale in die kollig geplaas word. Genrefiksie, literêre fiksie, debutante en gesoute ou hande – jy kan jou vir een oggend kom verlekker in al wat storieboek is, die skrywers ontmoet, en met ander boekwurms skouers skuur. Geen spoilers hier nie!”

Met mekaar
Nog ’n nuutjie is die reeks Skrywers oor Skrywers-onderhoude, waar twee skrywers met mekaar gesels oor hul jongste boeke.
“Twee maal soveel leesgenot, dubbel die insig, 200% meer boeke vir jou bokke.”
Daar is die jonges, die politieke kenners wat jou kan help sin maak van die verkiesings wat op pad is, die bloedhonde en die memoiriste. “O, en so gepraat van die memoiriste: Dinsdag 6 Oktober is ons nie-amptelike memoir-dag. Diegene met ’n smaak vir ’n hoogs persoonlike storie kan op dié dag by een van vyf sessies inval wat aan hierdie vorm gewy word. Dave Pepler is aan die woord oor sy memoir Smelt, en Karin Brynard gaan Popina Khumanda uitvra oor haar hartverskeurende memoir The Smallest Ones,” sê Bibi.

Boekklubs
Die EasyEquities Skrywersfees bied vanjaar vyf boekklubs aan, waar boekwurms oor ’n glasie wyn kan luister na gesprekke oor boeke wat versigtig gekies is om in te lig of debat te stimuleer, die kultuur-landskap te verryk of die siel te verkwik, en om gehore in die besonder te vermaak met die teenwoordigheid van groot geeste en nog groter persoonlikhede. Heindrich Wyngaard praat met Dennis Cruywagen oor dié se biografie van Allan Boesak, Dominique Botha is in gesprek met Danie Marais oor haar roerende outobiografiese fiksie, en die TV-joernalis Lourensa Eckard stel groot vrae aan James-Brent Styan na aanleiding van sy boek oor Markus Jooste.
Die legendariese Tobie Cronje en die skrywer van sy biografie, Chris Vorster, gesels met Susan Beyers oor die boek.
Steven Kitshoff is die impakspeler by die laaste boekklub, waar die rugby-memoir wat hy saam met Michael Vlismas geskryf het, bespreek sal word.

Swaargewigte
Plaaslike reuse soos Deon Meyer, Sally Andrew, Max du Preez, Irma Joubert en Etienne van Heerden is op die program, sowel as nuwelinge wat vir die eerste maal verskyn en immergewilde skrywers in alle genres.
“Ons gesels oor wegholsuksesse soos Danie Marais se Ek is nie Danie, die versamelbundel wat uit die teaterproduksie gebore is, en stel splinternuwe boeke bekend. Die beste nuus? Die boekprogram is uiters bekostigbaar. Die meeste EasyEquities Skrywersfees-aanbiedings kos steeds slegs R50, maar daar is ook ’n reeks gratis gesprekke soggens, met onder andere Joan Hambidge, Sven Axelrad en Carla Venter van Money with Carla.”
Koop vir jou ’n koffie en kom begin jou feesdag by die EasyEquities Skrywerskamer, waar daar ’n gemeenskap gebou word rondom die geskrewe woord, al gaan dit hóé daar buite.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas. Kaartjies is by Quicket te koop. Klik hier vir die program.




