Stellenbosch – Die internasionaal gerekende Spier-wynlandgoed sit hul platinumborgskap aan die Toyota Stellenbosch Woordfees met nog drie jaar voort.
Spier is sedert 2025 die amptelike naamborg van die fees se Spier Toneel-program – ’n vlagskipgenre wat die afgelope jaar gedy het met 55 uithalerproduksies en met 47 nominasies na die 2026 kykNET Fiëstas-toekennings gaan.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sê: “Spier is reeds dekades lank ’n ondersteuner van die kunste en van kunstenaarontwikkelling. Met die langer termyn-platinumborgskap aan die Toyota Stellenbosch Woordfees word daar ook belê in die welstand en sosiale kohesie van ons plaaslike gemeenskap, en die blootstelling van Stellenbosch as bestemming. Die Toyota Stellenbosch Woordfees is bevoorreg om met Spier, en alles waarvoor hulle staan, geassosieer te word.”
Spier bied ook jaarliks ’n verskeidenheid items op die groter feesprogram aan, vanaf viergangetes en werksessies met hul bekroonde wynmakers en keldermeesters, tot gesprekke oor boeke, skrywers en volhoubare boerdery. En wat is ’n beter pasmaat vir elke feeservaring as ’n glasie Spier uit die Stellenbosch-wynroetes?
“By Spier vloei kuns deur ons are. Ons hernude drie jaar-vennootskap met die Toyota Stellenbosch Woordfees weerspieël ons oortuiging dat die kunste, net soos wyn, floreer wanneer dit met sorg en toewyding gekoester word. Ons is trots om die stories, idees en verbeelding wat die fees uniek maak te ondersteun,” sê Annebelle Schreuders, besturende direkteur van gasvryheid by Spier.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees gee ook erkenning aan drie bestaande platinumborge wat alreeds kontrakte met die fees geteken het – Toyota, die Universiteit Stellenbosch en mees onlangs EasyEquities.
Feesdatums 2026
Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees vind vanaf 3 tot 11 Oktober plaas. Hou ons sosiale-mediaplatforms, nuusbrief en webwerf by woordfees.co.za dop vir feesnuus.
Lees meer oor Spier by spier.co.za.
In die foto: Saartjie Botha (Toyota Stellenbosch Woordfees), Annebelle Schreuders (Spier) en Marlise Serfontein (Toyota Stellenbosch Woordfees) by die Spier-wynplaas op Stellenbosch.
FOTOGRAAF: Basque Imagery (Anneri Wasserman)




