Wenner van die 2025 Woordfees-kortverhaalkompetisie bekend

Met Herschelle Benjamin as gasheer in die Hofmeyrsaal in Stellenbosch wat stampvol was van skrywers en literatuurliefhebbers is Tarina Jordaan Saterdagaand uit 371 inskrywings aangewys as wenner van die Stellenbosch Woordfees se tiende jaarlikse kortverhaalkompetisie.

Jordaan kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, en elke skrywer wat in die bundel opgeneem word ontvang R5 000, asook ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê. Drie-en-twintig verhale is in die bundel opgeneem, insluitend stories deur Jolyn Phillips, Lynthia Julius en Sisca Julius. Die bundeltitel is altyd dieselfde as die Stellenbosch Woordfees-tema. Vanjaar is dit Deel, wat aansluit by die fees se viering van 25 jaar van stories, kuns, kultuur en uitdrukking. 

Ook PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak. 

Die entoesiastiese Suzette Myburgh, sameroeper van die keurderspaneel sedert die instelling van die kompetisie in 2016, het die gehoor meer vertel oor die keuringsproses vir dié bundel wat die afgelope dekade ’n literêre instelling geword het en dien as ’n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees weerspieël.

Jordaan het skertsend vertel sy het eers nege dae voor die sluitingsdatum begin skryf aan haar wenverhaal en kon nie uitgepraat raak oor die oneindigende ondersteuning van haar eggenoot én haar ma nie. Haar man het al telkens tot haar redding gekom, onder meer toe sy ’n pot grondboontjies op die stoof vergeet en amper die huis afgebrand het, terwyl haar ma alles geproeflees het wat sy nog ooit geskryf het. “Daai arme vrou moes al deur baie stories wroeg!”

Volgens Jordaan het die protagonis, Max, haar reeds ’n paar maande voor die sluitingsdatum aangemeld, “maar sy het net daar gesit en wou nie haar verhaal vir my vertel nie”. 

“Toe het ek maar musiek begin luister wat ek gedink het haar die vibe gee wat ek op papier wou sit. Dit was die lirieke van Loreena McKennitt wat my laat besef het hierdie is die verhaal!” 

Haar ervarings as immigrant in Antwerpen was die groot onderliggende inspirasie. “Soos die protagonis was ek ook bekommerd wanneer ek die nuus volg, maar het hoopvol gebly dat ek steeds welkom sou wees in die buiteland.” 

Jordaan is oorstelp oor die prys en wil vir haar ’n nuwe skootrekenaar koop waarop sy hopelik nog vele wonderlike kortverhale sal skryf. 

Vanjaar se bundel en vorige jare s’n is te koop by Exclusive Books en tydens die Woordfees ook in die Exclusive Books Boekwinkel by Die Khaya. 

– Deur: Dianne du Toit Albertze 

Tarina Jordaan, wenner van die 2025 Woordfees-kortverhaalkompetisie. FOTO: AB Jantjies
Facebook
Twitter
LinkedIn