Die Toyota Stellenbosch Woordfees-zine vir 2026 se titel is HI-FI, en ons is reg om die tyd terug te draai en die volume op! Ons soek hoë-trou waarhede, lo-fi estetika, analoog-nostalgie, statiese witruis en die deep cuts uit jou kreatiewe brein.
Hierdie jaar se fees-tema (Dis hoog tyd / It’s about time) het ’n dringendheid daaraan, maar daar is ook daai geïmpliseerde hoog, asook al die vreemdighede wat in die verloop van tyd opgesluit lê. HI-FI is kort vir High Fidelity, en die letterlike betekenis is “hoë getrouheid” (van die Latynse fidelitas, wat waarheid of lojaliteit beteken).
Toe hoë-trou in die 1930’s bekendgestel is en in die 1950’s gewild geword het weens die gewildheid van klankstelsels in huise, het dit klankreproduksie gedefinieer wat hoogs getrou was aan die oorspronklike optrede. Maar wat gebeur as ons soek na “high fidelity” (waarheid, lojaliteit, akkuraatheid) in ’n wêreld wat toenemend distorted voel?
Ons wil terugkeer na die era van mixtapes maak, kassetbande wat opfrommel van oorgebruik en massiewe stereostelsels in sitkamers. Ons wil die highs hê (eufories, veranderde bewustelike state, verhewe) en die lows (grit, grunge, goedkoop fotostaat-kultuur). Ons nooi digters, kunstenaars, zine-makers, playlist-kurators, fotograwe en laatnag-skribbelaars uit om in te skakel op ons frekwensie.
Hier is waaraan ons dink:
Mixtape Philosophy / Snitlyste vir buie wat jy nie kan verduidelik nie. Kant A teen Kant B van jou persoonlikheid. / Pure Fidelity / ’n Waarheid, sonder redigering. Rou, un-mastered gedagtes. 90s / 00s Static / Lirieke wat op CD-houers gekrap is, die klank van dial-up internet, die presiese gevoel van wag by die radio om jou gunsteling-liedjie op te neem. / Die hoogtes / Stukke geïnspireer deur euforie, veranderde bewustelike state, obsessie, of daardie spesifieke rush van ’n perfekte oomblik. Miskien is jy geïnspireer om ’n lofgedig oor ’n Hilux te skryf? Of channel Harry Styles en gaan tekere oor ’n runners’ high. Al ooit hoog geraak op Real Housewives? Jy kan selfs net vir ons ’n straight up stoner-poem stuur. / The Hidden Tracks / Die white noise van die alledaagse lewe. / Hoog Tyd / The final countdown. Wat is die ongefilterde, high-fidelity waarheid wat jy teruggehou het en wat jy nou uiteindelik teen volvolume moet uitblêr? / ’n plaat wat haak / ’n Gedig of kunswerk oor ’n herinnering, ’n fout, of ’n geskiedenis wat homself oor en oor op ’n krapmerk herhaal. // ‘n Kasset wat trek // Hoe tyd alles vervorm. / Hoë BPM // Skryfwerk wat teen ’n vinnige, koorsagtige tempo beweeg. Die dringendheid van ’n resies teen tyd en laatnag-paniek. / Klim op jou perdjie (of klim af) / Wees so arrogant as wat jy moet wees om ’n waarheid te praat wat gepraat móét word. Of kweek die nodige ruggraat en erken iets waaroor jy verkeerd was. / Resensies van vergete treffers / Resenseer ’n gunsteling-liedjie uit ’n ander era, en vertel ons waarom dit saak gemaak het en steeds gehoor moet word. / Rewind / Fast Forward
Die Vibe: Low-Tech / Lo-Fi
Fotokopie-kuns, tikmasjien-poësie, analoog-foute, collages gemaak met ’n regte skêr en gom, of blurry foto’s wat meer atmosfeer vasvang as wat ’n slimfoon ooit sou kon.
Voorleggings kan in enige taal en in enige vorm wees: gedigte, mikro-fiksie, snitlys-essays, analoog-foto’s, sketse, lirieke, collage-kuns, of gevindde teks (found text). Dink tasbaar, nostalgies, hard, vervorm en pragtig eerlik.
Hou jou gedigte en stories kort-kort: Woordbeperking = 800 woorde max. Korter is beter vir hierdie formaat!
Die Zine-formaat is A5 – hou dit in gedagte wanneer jy kies wat jy wil instuur.
📬 Hoe om voor te lê:
Stuur jou werk (maksimum 3 stukke; word.doc, PDF, of hoë-resolusie prentlêer word verkies) na woordfeeszine@gmail.com met die onderwerpreël HI-FI.
Sperdatum: 6 September 2026
Wat gebeur volgende
Na die sperdatum duik ons in en neem ons besluite. Jy sal per e-pos in kennis gestel word as jou voorlegging suksesvol was. As jy teen 30 September niks van ons gehoor het nie, probeer asseblief volgende jaar weer!
Suksesvolle voorleggers sal genooi word om hul komplimentêre kopie van die zine te kom afhaal en deel te neem aan die Hi-Fi Bekendstelling (in samewerking met Ons Klyntji, wat ook hul nuutste zine bekendstel!) – oop-mikrofoon en pure lekkerness.
- Wanneer: 10 Oktober
- Tyd: 16:00
- Plek: Aandklas Stellenbosch
Jou vriende kan kaartjies na die geleentheid koop vir R50 – ’n kopie van Hi-Fi is ingesluit by die kaartjieprys. Ons Klyntji sal ook by die venue te koop wees.




